ANC voer glo “haatveldtog” teen Afrikaanse kinders en skole

  • 0

Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan met ’n landwye veldtog begin teen die regering se voorneme om staatskole se mag dat hulle self hulle taal- en  toelatingsbeleid mag bepaal, weg te neem.

Die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys word uit verskeie oorde as ’n staatsgreep bestempel teen die ouers en kinders van Suid-Afrika se skole.

AfriForum het Woensdag in ’n verklaring sy stem gevoeg by ander groepe soos die DA en die vakbond Solidariteit wat ook hoogs ontstoke is oor die voorgestelde wetsontwerp. Hulle sê die wetsontwerp wil skoolbeheerliggame van sleutelmagte beroof.

Volgens AfriForum is dié wetsontwerp deel van die ANC-regering se haatveldtog teen Afrikaanse kinders en skole.

“AfriForum maak al vir meer as vyf jaar lank beswaar teen die inhoud van die beplande wetgewing, wat onder meer besluite oor skole se toelatings- en taalbeleid in die hande van die staat wil sentraliseer, pleks van in die hande van die gemeenskappe waarin die skole geleë is. Tog bly hierdie voorstelle deel van elke nuwe weergawe van die wetsontwerp wat die lig sien,” lui die verklaring.

Volgens AfriForum gaan hulle hul strukture nou landwyd mobiliseer om sterk standpunt in te neem teen die wysigingswetsontwerp, wat in Maart 2022 vir openbare raadpleging beskikbaar gestel sal word.

Die parlementêre portefeuljekomitee vir basiese onderwys het verlede week besluit dat so ’n proses weer onderneem moet word.

“Die ANC-regering is magshonger en het by monde van byvoorbeeld die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, al hul haat vir Afrikaans en weersin in Afrikaanse onderrig duidelik gemaak,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake.

Sy sê AfriForum se regsmening is gereed vir voorlegging en dat die organisasie lede op grootskaal sal mobiliseer om aan die openbare raadplegingsproses deel te neem.

“AfriForum word gereeld gekontak deur ouers van Afrikaanse skole wat deur die onderwysdepartement onder druk geplaas word om te verengels,” sê sy.

“Parallelmediumskole loop uiteindelik die pad om enkelmedium- Engelse skole te word, soos ons onlangs weer in die geval van Laerskool Theresapark gesien het. Openbare universiteite het reeds teen die internasionaal erkende voordele van moedertaalonderrig standpunt ingeneem deur te verengels. Ons kan nie toesien dat ons kinders op skoolvlak ook van die reg ontneem word en seggenskap oor die taal, aard en finansies van hul skole van gemeenskappe weggeneem word nie.”

AfriForum het ook ’n aanlyn petisie van stapel gestuur om by voorbaat steun teen die wetsontwerp te werf. Die petisie kan by www.redafrikaans.co.za  onderteken word.

Hulle sê indien die beplande wysigingswetsontwerp aanvaar word, verloor gemeenskappe seggenskap oor Afrikaanse skole se taalbeleid, toelatingsbeleid, bestuur en finansiële besluite en vele ander sake waaroor gemeenskappe self moet kan besluit.

“Ons kinders en uitnemende Afrikaanse skole se toekoms is op die spel. Bring jou kant en voltooi die vorm om jou beswaar hierteen onder die Minister van Basiese Onderwys en die betrokke amptenare se aandag te bring,” lui die beroep wat hulle op Suid-Afrikaners doen om die petisie te onderteken.

Vroeër die week het Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, gewaarsku dat dit die moeder van alle gevegte gaan wees as daar aan moedertaalonderrig by skole gepeuter gaan word.

Die DA noem die beoogde wetsontwerp ook ’n staatsgreep. Die party se skaduminister van basiese onderwys, Baxolile “Bax” Nodada, het vroeër die week in haar verklaring gesê as die wetsontwerp aanvaar word, sal die nasionale Departement van Basiese Onderwys, onder leiding van Angie Motshekga ’n gelaaide wapen aan mense soos Lesufi oorhandig om die oorlog wat hy lank teen beheerliggame en moedertaalonderrig gevoer het, te beëindig.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top