Terwyl gelukwense Donderdag ingestroom het vir die matriekslaagsyfer van meer as 98% vir leerlinge wat die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen afgelê het, wil senior lede van die ANC dié eksamen afskaf.
Akademici is geskok oor die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, se voorstel dat die land wegdoen met “private eksamens” en sê daar moet “een matriekeksamen” vir almal wees.
“Ons kan nie voortgaan om eksamens op grond van klas te skei nie. Die rykes, semirykes en armes het verskillende matriekeksamens. Al ons kinders moet dieselfde eksamen skryf soos wat hulle by universiteite of kolleges doen,” het Lesufi vroeër die week op die sosiale platform X gesê.
One country, one matric examination. In few weeks time all our matriculants will be in the same lecture rooms in the same varsity or college. Why are they still writing different matric exams as IEB or NSC is a matter that must be attended to. Everything is the same beside the…
— Panyaza Lesufi (@Lesufi) January 15, 2024
Hy sê oor ’n paar weke sal al die matrikulante in dieselfde lesinglokale in dieselfde universiteit of kollege wees. Hy wou weet waarom hulle steeds verskillende matriekeksamens skryf en sê dit is ’n saak waaraan aandag gegee moet word.
Die IEB het Donderdag uit verskeie oorde lof ontvang vir die slaagsyfer van 98,46% van leerlinge wat verlede jaar die matriekeksamen afgelê het.
Die DA was onder diegene wat hierdie matriekleerders gelukgewens het.
Altesaam 15 180 kandidate het die IEB-eksamen in 2023 geskryf, van wie 13 967 voltydse kandidate en 1 213 deeltydse kandidate was.
Die Citizen sê in ’n hoofartikel mens wonder of die ANC nie dalk vir ’n oomblik moet stilstaan om die prestasies van die IEB se voortgesette suksesvolle resultate te oorweeg nie.
Die akademikus Jonathan Jansen deel ook nie Lesufi se sentimente nie. Jansen het vandeesweek in ’n rubriek gesê Lesufi leun op populistiese gesprekspunte voor die 2024-verkiesing.
Volgens Jansen is die poging om “een matriekeksamen” ten koste van die IEB te skep, soortgelyk aan wat die regering met gesondheidsorg in Suid-Afrika probeer doen. Hy sê dit sal net dien tot voordeel van politici wat poog om mag en beheer te sentraliseer in die naam van “gelykheid”.
“’n Enkele eksamen gaan nie oor gelykheid in onderwys nie, net soos die Nasionale Gesondheidsversekering- (NGV-) inisiatief min met kwaliteitgesondheidsorg te doen het; dit gaan oor die skep van ’n konsentrasie van hulpbronne (soos NSFAS ens) wat deur korrupte amptenare gestroop kan word noudat die krane in ander dele van die ekonomie opdroog,” het hy gesê.
Jansen het gesê om op die IEB te fokus, onsinnig is, aangesien die eksamens dien as ’n uittreepunt na 12 jaar se onderwys. As Lesufi of die regering omgegee het vir gelykheid in onderwys, is die eindeksamen van ’n leerder se skoolloopbaan ’n onlogiese plek om te begin.
Volgens Janse is dit nie die eksamen wat die probleem is nie, maar die regering se versuim om geleenthede vir behoorlike onderrig te skep lank voor die graad 12-eksamen bereik word.
Die DA se skaduminister van basiese onderwys, Bax Nodada, sê baie van Suid-Afrika se openbare skole beskik nie oor bevorderlike leeromgewings nie, met oorbevolking, gevaarlike infrastruktuur, insluitend 3 932 puttoilette, tekorte aan spesialis STEM-vakonderwysers (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde), algemene swak opvoedkundige gehalte, gebrek aan leer- en onderrigondersteuningsmateriaal, en mislukkings van die Nasionale Skoolvoedingsprogram (NSNP).
Sy sê in ’n verklaring gegewe die 2022 reële matriekslaagsyfer van slegs 54,6% en 81% van graad 4- en 56% van graad 6-leerders wat nie met begrip kan lees nie, terwyl graad 4- en 8-leerders met basiese wiskunde en wetenskap sukkel, asook die onlangse onthulling dat byna 40% van graad 10-leerlinge en meer as 25% van graad 8's in die Vrystaat verlede jaar hul eksamens gedruip het, is dit duidelik dat die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, en haar departement baie by die IEB kan leer.