Die Konstitusionele Hof se uitspraak dat die ANC se kandidate in al die munisipaliteite mag deelneem in volgende maand se verkiesing, plaas nuwe druk op die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK). ’n Groot persentasie van die stembriewe is reeds gedruk en miljoene nuwe stembriewe moet nou vir die betrokke munisipaliteite gedruk word om aan die hofbevel te voldoen.
Die Konstitusionele Hof het gister (Donderdag) die ANC se appèl gehandhaaf en die Verkiesingshof se vroeëre beslissing tersyde gestel. Die OVK moet nou alles doen wat nodig is om die party se kandidaat- en wykslyste in ses munisipaliteite op die stembriewe te plaas.
Die ANC se oorwinning beteken dat 181 van sy kandidate wat aanvanklik van die stembriewe vir die plaaslikeregeringsverkiesing uitgesluit is, nou wel op 4 November aan die verkiesing sal kan deelneem.
Die uitspraak raak Sondagsriviervallei, Walter Sisulu, Ngquza Hill en Port St Johns in die Oos-Kaap, Mangaung in die Vrystaat en uMshwathi in KwaZulu-Natal. Daar is ongeveer 130 proporsionele-verteenwoordigingskandidate en 51 wykskandidate.
Die verkiesingsdatum bly 4 November. Die OVK het reeds aangedui dat hy planne het om die hofbevel binne die bestaande verkiesingstydraamwerk uit te voer.
Die praktiese gevolge van die uitspraak is aansienlik. Voor die hof se beslissing was ongeveer 66% van die sowat 79 miljoen stembriewe vir die verkiesing reeds gedruk. ’n Beduidende persentasie van die stembriewe vir die betrokke ses munisipaliteite was ook reeds gedruk.
Die OVK sal nie bloot die bestaande stembriewe kan aanpas nie. Die stembriewe waarop die ANC se kandidate ontbreek, sal vervang moet word met nuwes waarop die betrokke lyste verskyn. Die reeds gedrukte stembriewe word as onbruikbaar beskou en moet vernietig word.
Die kommissie het nie ’n presiese bedrag vir die ekstra koste bekendgemaak nie, maar het gewaarsku dat die finansiële verlies aansienlik sal wees. Die geld wat reeds aan die oorspronklike drukwerk bestee is, kan nie teruggekry word nie.
Die OVK moet die nuwe stembriewe ook betyds versprei om te verseker dat dit op verkiesingsdag by die stemlokale beskikbaar is. Die kommissie het voor die uitspraak gesê hy sal met enige beslissing van die hof saamwerk en dat die verkiesingsproses daarvolgens aangepas sal word.
Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, was sigbaar emosioneel ná die uitspraak en het Cyril Ramaphosa en die party se leierskap vir hul steun bedank.
Hy het die uitspraak as ’n oorwinning vir die Grondwet en die mense van Suid-Afrika beskryf. “Die Grondwet het gepraat en dit spreek vir al die mense van hierdie land,” het hy gesê.
Mbalula het ook beklemtoon dat die ANC deur die stembus aan bewind wil kom. Die party het deurgaans aangevoer dat hy nie spesiale behandeling vra of probeer om nuwe kandidate by sy lyste te voeg nie. Sy kandidaatbesonderhede is voor die sperdatum op die OVK se aanlyn stelsel gelaai en die vereiste deposito’s is betaal.
Die DA sê hy respekteer die Konstitusionele Hof se uitspraak en die regstaat, maar is bekommerd oor die presedent wat dit vir die nakoming van verkiesingsreëls en sperdatums kan skep.
Die DA het aangevoer dat die ANC geweet het dat die kandidaatnominasies finaal ingedien moet word en dat die party die proses in 251 ander munisipaliteite korrek afgehandel het.
Ashor Sarupen, die DA se federaleraadsvoorsitter, meen die uitspraak sal nie die ANC se verkiesingsvooruitsigte verander nie. Werner Pretorius, die DA se burgemeesterskandidaat in Mangaung, het gesê die hofuitspraak stel nie die ANC vry van kritiek oor swak dienslewering en finansiële wanbestuur nie.
Die uitspraak kan ook betekenis hê vir sowat 45 ander partye met meer as 2 000 kandidate wie se besonderhede op die OVK se stelsel gelaai is, maar wie se lyste nie finaal ingedien is nie. Dit is nog nie duidelik wat die praktiese gevolge vir dié partye sal wees nie.
Die geskil het ontstaan omdat die ANC die kandidaatbesonderhede en dokumente voor die sperdatum op 28 Augustus opgelaai het, maar nie die finale “submit as final”-knoppie gedruk het nie. Die OVK het aangevoer dat die indiening daarom nie voltooi was nie, ’n standpunt wat die Kieshof gehandhaaf het.
Die volledige redes vir die Konstitusionele Hof se uitspraak moet nog bekendgemaak word. Dit sal belangrik wees om vas te stel watter regsgrondslag die meerderheid gebruik het en hoe dit toekomstige geskille oor kandidaatnominasies kan beïnvloed.
Vir eers moet die OVK die uitspraak se logistieke uitdaging hanteer: Nuwe stembriewe, ekstra koste en ’n streng sperdatum om te verseker dat die verkiesing op 4 November volgens plan kan voortgaan.
- Lokprent deur WilliamCho van Pixabay
