ANC wen steun terwyl DA agteruit boer

  • 0

Die ANC is landwyd besig om verlore steun in te haal terwyl die Demokratiese Alliansie (DA) agteruitboer. Selfs in die Wes-Kaap waar die DA se magsbasis geleë is, loop hulle gevaar om die mag af te staan wanneer daar volgende jaar verkiesing gehou word.

Volgens die jongste navorsing van die navorsingsmaatskappy Ipsos se Pulse of People-peiling het die DA groot rede tot kommer.

Ipsos se resultate wat die week bekend gemaak is, toon dat die ANC tans gemaklik voorloop met sowat 60% van die kiesers wat aangedui het dat hulle vir die ANC sal stem.

Die DA wat in die vorige verkiesing  ’n wegholoorwinning oor die ANC in die Wes-Kaap behaal het, se binnegevegte kan die party duur te staan kom by die stembus. Volgens Ipsos loop die DA in dié provinsie tans met ’n kortkop voor teen die ANC, maar geniet nou minder steun in die Wes-Kaap as die ANC en die EFF saam.

Tydens die vorige verkiesing in 2014 het die DA byna 60% van die stemme in die Wes-Kaap getrek. Volgens Ipsos se jongste peiling geniet die DA tans slegs sowat 28% van die steun en die ANC is kort op hul hakke met 26% van die steun. As mens die EFF se 3% steun by die ANC s’n voeg, is dit duidelik dat die DA se kanse om tydens volgende jaar weer ’n volstrekte meerderheid te behaal geensins ’n uitgemaakte saak is nie.

Altesaam 22% van die provinsie se kiesers het aangedui dat hulle nog nie besluit het vir wie hulle sal stem nie, wat beteken geen party kan met sekerheid voorspel wie sal koning kraai as daar nou ’n verkiesing gehou word nie. Verder wou 17% van die respondente nie sê vir wie hulle gaan stem nie en ’n verdere 5% het gesê hulle het nog nie besluit vir wie om te stem  nie. Een uit 10 van die kiesers in die Wes-Kaap (9%) het gesê hulle sal buite stemming bly.

Die DA se dramatiese daling aan kiesersteun in die Wes-Kaap en ook elders in die land kan volgens Ipsos grootliks toegeskryf word aan die DA se binnegevegte, hoofsaaklik die party se swak hantering van die geskil met Kaapstad se DA-burgemeester Patricia de Lille en die party se hantering van die waterkrisis in die provinsie.

Die ANC se opwaartse mars is glo hoofsaaklik te danke aan president Cyril Ramaphosa wat baie groter vertroue by die kiesers inboesem as sy voorganger, oudpresident Jacob Zuma.

Landwyd het die DA se steun gedaal van meer as 22% steun wat die party in die 2014 verkiesing op hom verenig het tot slegs 13% op die oomblik. Die EFF het ’n geringe groei getoon en geniet volgens die jongste navorsing landwyd 7% van die steun teenoor die 6,35% van die steun in die vorige verkiesing.

Die navorsers wys daarop dat die navorsingsresultate nie beteken die ANC kan op sy louere rus en dink alles verloop klopdisselboom vir die party nie. Meer as die helfte van die respondente is van mening dat die ANC se toekoms onseker is as gevolg van die leierskapkwessies in die party. Selfs meer as die helfte van die ANC se eie ondersteuners stem daarmee saam.

Die ANC in die Wes-Kaap het die jongste Ipsos-marknavorsing oor die party se gewildheid verwelkom terwyl die DA sê hulle steur hulle min aan die peiling. ’n Woordvoerder van die ANC in die Wes-Kaap, Yonela Diko, sê die jongste beraming van ’n 2%-verskil in steun tussen die twee partye strook met die bevindings van navorsing wat die ANC self uitgevoer het.

Die Wes-Kaapse leier van die DA, Bonginkosi Madikizela het aan die media gesê hulle steur hulle min aan die peiling en dat sulke navorsingsresultate al dikwels verkeerd bewys is in die verlede.

Meer besonderhede oor Ipsos se navorsingsresultate kan op hulle webwerf gesien word by: https://www.ipsos.com/en-za/ipsos-poll-anc-support-60

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top