Die ANC word daarvan beskuldig dat hulle die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) nou deur die parlement wil stoomroller sonder om al die behoorlike prosesse te volg.
Duisende kommentare en besware teen die wet is deur die publiek ingedien tydens ’n landwye openbaredeelnemingsproses. Dit blyk nou dat die portefeuljekomitee oor basiese onderwys nie al die verslae ontvang het nie en dit dus nie behoorlik sal kan oorweeg wanneer die wet deur die komitee bespreek word nie.
Daar is bykans 18 000 skriftelike kommentare by die parlement ingedien oor die beoogde wetsontwerp, asook verskeie voorleggings aan die portefeuljekomitee vir basiese onderwys.
Die portefeuljekomitee wag steeds op onder andere openbaredeelnameverslae en besonderhede oor hoe die wetsontwerp gefinansier gaan word terwyl hulle dit reeds volgende maand moet bespreek.
Die DA het aan die voorsitter van die portefeuljekomitee, Bongiwe Mbinqo-Gigaba, geskryf om te versoek dat die korrekte parlementêre prosesse met die Bela-wet gevolg word.
Die party se skaduminister van basiese onderwys, Bax Nodada, sê hulle kan nie toelaat dat hierdie “drakoniese wetsontwerp” bloot deur die parlement gestoomroller word nie en dat daar ’n behoorlike proses gevolg moet word.
“Die publiek se insette kan nie ’n blote regmerkie-oefening wees nie. Alle kommentaar wat ontvang word, moet geëvalueer en oorweeg word.”
Nodada sê in ’n verklaring die klousule-vir-klousule-beraadslagings is reeds geskeduleer vir 15 tot 18 Augustus 2023, gedurende die parlementêre resestydperk wat vir kiesafdelingswerk bedoel is. Benewens al die openbaredeelnameverslae wag hulle ook op ’n volledige aanbieding oor die kwalitatiewe en kwantitatiewe uitkomste klousule vir klousule; die Departement van Basiese Onderwys se kommentaar oor die openbaredeelname-uitkomste en oor hoe die hele wetsontwerp befonds sal word; en ’n verslag van parlementêre regsdienste wat enige grondwetlike implikasies moet aandui.
Die DA se kommer oor die wetsontwerp, insluitend die ontmagtiging van skole en skoolbeheerliggame om hul eie toelatings- en taalbeleide te bepaal, die gebrek aan betrokkenheid by die tuisonderrigsektor, en die versuim om aanlyn en gemengde leer in te sluit, word weerspieël deur die openbaredeelnameproses in die provinsies, sê die party in hulle verklaring.
“Dit is duidelik dat die Bela-wetsontwerp in sy huidige vorm die voorsiening van kwaliteit- basiese onderwys in hierdie land net verder sal knou,” het Nodada gesê.
Diegene wat die wetsontwerp ondersteun, sê dit is noodsaaklik omdat dit baie praktiese uitdagings hanteer wat in die openbare onderwysstelsel in die gesig gestaar word.
Diegene wat teen die wetsontwerp gekant is, voer onder meer aan dat dit die die beginsel van samewerkende regering in die bestuur van skole ondermyn, aangesien elke vlak van administrasie duidelik gedefinieerde rolle en verantwoordelikhede het.
Hulle het verder beklemtoon dat die skoolbeheerliggame die beste toegerus is om besluite oor taal- en toelatingsbeleide vir skole te neem, gegewe hul beter begrip van die sosio-ekonomiese en ander realiteite in die gemeenskappe waar die skole geleë is.
Die uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), Jaco Deacon, het verlede maand tydens ’n aanlyn byeenkoms van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gewaarsku dat talle aspekte van die Bela-wetsontwerp waarskynlik in die howe uitgedaag sal word indien die wet in sy huidige vorm aanvaar word.
Met betrekking tot die rapportering van finansiële verslae op ’n kwartaallikse basis sê diegene teen die wetsontwerp dat dit feitlik onmoontlik is en onnodige administratiewe las op die skoolbeheerliggame sal plaas. Daar was ook ’n argument dat die klousule wat voorstel dat lede van die skoolbeheerliggame finansiële belange moet verklaar, ongrondwetlik was en heel waarskynlik die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting sou oortree.