Die voormalige Eskom-baas, André de Ruyter, se getuienis voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) die afgelope week het meer vrae as antwoorde gelaat.
De Ruyter het geweier om aan die parlement die identiteit bekend te maak van ’n “senior politikus” wat na bewering by korrupsie by die kragvoorsiener betrokke is, uit vrees dat hy aan regstappe en veiligheidsrisiko's blootgestel word, het hy aan die komitee gesê.
Hy is Woensdag deur lede van Skoor ondervra oor sake rakende onder meer korrupsie, diefstal, wanadministrasie, sabotasie en kartelle. Dié bewerings spruit uit sy onderhoud met etv se Annika Larsen vroeër vanjaar.
Die ondersoekende joernalis Jacques Pauw het intussen ’n nuwe knuppel in die hoenderhok gegooi met ’n berig op News24 waarin hy beweer die “intelligensie” wat De Ruyter gebruik het om senior lede van die uitvoerende gesag by die plundering van Eskom te betrek, is gevul met ongetoetste bewerings wat gekom het van ’n bedenklike intelligensie-operateur wat by misdade in die apartheidsera betrokke was.
ESKOM DIRTY DOSSIER | Revealed: Apartheid spook behind De Ruyter's R50m off-the-books Project Ostrich https://t.co/N94NXErsBy
— News24 (@News24) April 26, 2023
Volgens Pauw se ondersoek het De Ruyter aan die einde van 2021 groot sakeondernemings gevra om miljoene rande te belê in ’n “intelligensie-gedrewe”, wat juis nie deur die formele sturkture betaal sou word nie, om bedrog en korrupsie by Eskom aan die kaak te stel.
Vyftien maande, en ongeveer R50 miljoen later, het die ondersoek volgens News24 se berig niks anders as blote vermoedens en twyfelagtige inligting opgelewer nie.
Die verslae en diagramme, wat in News24 se besit is, is volgens die nuusgroep propvol wilde en onbevestigde bewerings. Die nuusorganisasie sê geen bewyse word gelewer vir baie van die bewerings nie, insluitend dat senior lede van die uitvoerende gesag by kriminele sindikate betrokke was. Selfs die "vergiftigingskomplot" teen De Ruyter word bevraagteken.
Business Leadership South Africa (BLSA) het aan Eyewitness News gesê hy glo dat Eskom ’n aansienlike risiko vir die ekonomie en die land inhou, en dit was om hierdie rede dat hy gehelp het om ’n risiko-evaluering te finansier wat deur De Ruyter aangevra is.
BLSA glo daar is toenemende bewyse dat kriminele aktiwiteite en sabotasie ’n beduidende rol gespeel het in die onderprestasie van Eskom.
BLSA het glo aan die einde van 2021 ’n versoek van Eskom, spesifiek van De Ruyter, ontvang om ’n risiko-evaluering te help finansier wat die pogings van wetstoepassing sou aanvul.
Volgens ’n verklaring sê hulle hoewel hulle nie betrokke was by die keuse van die diensverskaffer nie, was hulle gemaklik met die aanstelling van George Fivaz Forensic and Risk (GFFR), gegewe Fivaz se reputasie as ’n persoon van integriteit.
Die DA sê in ’n verklaring as die ANC nie teen ’n DA-mosie gestem het nie, sou ’n parlementêre ondersoek enige getuies in ’n Eskom-korrupsie-ondersoek gedwing het om te voldoen aan artikel 16 van die Wet op Bevoegdhede, Voorregte en Immuniteite van die Parlement en Provinsiale Wetgewers, wat bepaal dat ’n persoon wat onder eed getuig, verplig kan word om enige vraag wat aan hom of haar gestel word in verband met die ondersoek te beantwoord.
Die afgelope week se sessie voor Skoor was net ’n verhoor en De Ruyter het nie onder eed deelgeneem nie. Dit het dit vir die komitee onmoontlik gemaak om hom te dwing om onthullings te maak wat hom vermoedelik in stryd met die wet sou plaas en hom vir strafregtelike vervolging sou oopstel.
Die ANC beskuldig De Ruyter daarvan dat hy probeer om die komitee te ontduik en sê die verslae wat deur De Ruyter van onbetroubare bronne bekom is, laat die vraag ontstaan waarom hy op die vooraand van volgende jaar se verkiesing sulke inligting die wêreld instuur sonder dat dit getoets is.
ANC STATEMENT ON ANDRE DE RUYTER’S UNFORUNATE DECAMPAIGNING TACTICS. pic.twitter.com/5qeM17YyOg
— African National Congress (@MYANC) April 26, 2023
Die DA sê hulle sal voortaan hulle teenwoordigheid in Skoor gebruik om te vra dat al die wetstoepassingsagentskappe wat in De Ruyter se bewerings van korrupsie gemeld word, gedagvaar word om voor die komitee te verskyn. Hulle sal dan hulle jongste verslae moet verskaf van hulle ondersoeke asook die identiteite van die individue wat vir korrupte aktiwiteite by Eskom ondersoek word.