Die voortslepende bekgeveg tussen die vuurvreter politikus Patricia de Lille en haar voormalige party, die DA, sal Vrydag vir die hoeveelste keer in die hof draai wanneer die Kaapstadse Hooggeregshof waarskynlik uitspraak sal lewer in die dringende aansoek van De Lille se Good-party teen die DA.
Sy wil hê die hof moet die DA verplig om in die openbaar om verskoning te vra omdat hulle kiesers vertel sy is afgedank as DA-lid. Sy ontken dat sy afgedank is en sê sy het verlede jaar self uit die party bedank. Regter Robert Martin het vroeër die aansoek voorlopig uitgestel weens ’n druk werkslas. De Lille het Woensdag buite die hof gesê dat die DA se uitsprake haar reputasie skade aandoen.
Die hofaansoek volg nadat die Verkiesingskommissie (OVK) beslis het die DA het die Kieswet en verkiesingsgedragskode oortree toe die party se inbelsentrum aan kiesers gesê het sy is deur hulle afgedank. Die OVK het bevind die DA moes haar binne drie dae in die openbaar om verskoning vra en dadelik ophou om te sê sy is vroeër as DA-burgemeester afgedank. Die DA weier egter om verskoning te vra. Hulle hou vol De Lille was op die punt om afgedank te word toe sy haar bedanking aangekondig het.
Die DA het aangedui hulle beplan om teen die OVK se bevinding te appelleer maar De Lille het intussen ’n dringende hofaansoek ingedien om hulle te verplig om jammer te sê. Sy het in Oktober verlede jaar as DA-burgemeester bedank na ’n morsige geveg tussen haar en die DA wat op die punt was om haar af te dank voordat hulle ’n ooreenkoms gesluit het om alle tugmaatreëls teen haar te laat vaar. Die twis het reeds verskeie kere in die hof gedraai het en daar is telkens met koste in haar guns beslis.
Sy beskuldig nou die DA daarvan dat hulle ’n klomp “blou leuenaars” is. Sy is vol moed dat sy hulle weer met die kous oor die kop huis toe gaan stuur. “Die getuienis voor die hof Vrydag sal toon dat ’n paar dae voordat ons die ooreenkoms onderteken het, ons ooreengekom het op ’n ope tugverhoor voor die media en die publiek. Hulle lieg as hulle sê ek het bedank in ruil daarvoor dat hulle die klagtes teen my laat vaar,” het ’n veglustige De Lille Woensdag gesê.
Sy het op Twitter teen die DA uitgevaar:
https://twitter.com/PatriciaDeLille/status/1121015745805209600
De Lille, wat nou die leier van die Good-party is, hoop om met 8 Mei se verkiesing wraak te neem op haar vorige party. Sy beskuldig ook die DA daarvan dat hulle miljoene rand wins gemaak het tydens die onlangse droogte in die Wes-Kaap. Die stad Kaapstad se inwoners verdien volgens haar nie die “immorele hoë” watertariewe wat deur die stadsraad gehef word na die droogte nie. Sy het hierdie bewering van haar in ’n video-boodskap op Twitter met haar volgelinge gedeel.
The DA made billions in profit from Cape Town’s terrible drought. The city’s residents did not deserve the immorally high water tariffs. The DA launched a motion of no confidence against De Lille when she opposed high costs in January 2018. Learn more at https://t.co/HWt1cUQ0M7 pic.twitter.com/PJOFabtjel
— GOOD (@ForGoodZA) April 23, 2019
Die DA se verteenwoordiger by die OVK, Mike Moriaty, het vroeër gesê hulle beskou De Lille se aansoek as ’n publisiteitsfoefie van iemand wie se mislukte verkiesingsveldtog niks het om aan die kiesers te bied nie, behalwe haar volgehoue aanvalle op die DA.
“Ons weier om tot op haar vlak te daal. Die eenvoudige feit is dat De Lille in effek deur die DA afgedank is na drie suksesvolle mosies van wantroue teen haar deur haar party se eie koukus, toe sy nog lid was van die DA,” het Moriaty gesê.
Buro: NB