Atlanta, Georgia, aangekondig as rolprentbestemming by FAME Week Africa 2025

  • 0

FAME Week Africa, die kontinent se grootste bedryfsbyeenkoms van film, televisie, musiek, animasie en mode, het Maandag 9 Desember aangekondig dat Atlanta in die VSA hul 2025-rolprentbestemming is.

Groot opgewondenheid het geheers met die bekendmaking van die gekose bestemming. Atlanta se burgemeester, Andre Dickens, was in Kaapstad om die aanwysing te vier en is deur FAME Week Africa-verteenwoordigers verwelkom.

Martin Hiller en Atlanta se burgemeester, Andre Dickens, met die VSA se ambassadeur aan Suid-Afrika, Reuben Brigety (Foto: Riaan West)

“En die wenner is Atlanta,” het Dickens geskerts in sy bedanking aan Martin Hiller, FAME Week Africa se portefeuljedirekteur. Hy het sy Atlanta-span aangemoedig om “geraas te maak” terwyl hy hierdie internasionale erkenning verwelkom het.  Die harde werk het inderdaad vrugte afgewerp, was sy boodskap.

Die vennootskap is ’n eer vir Atlanta, sê Dickens. Hy het klem daarop gelê dat dit die eerste keer is dat ’n stad as rolprentbestemming gekies is. “In die verlede was dit lande, maar hierdie keer is dit ’n stad en ons voel geëerd  en dankbaar dat dit Atlanta is.”

Hulle sien daarna uit om saam met die talent van Kaapstad en die Afrika-vasteland te werk en het die ooreenkomste tussen Kaapstad en Atlanta as ideale bestemmings vir wêreldklas TV- en filmproduksies uitgelig. “Atlanta is die nommer 1-stad in die VSA  vir TV en film produksies.”

Dickens het die belofte gemaak dat die kreatiewe bedrywe vir beide kontinente sal groei en versterk word met hierdie vennootskap, ook om “nuwe stemme en narratiewe na groter gehore sal neem”.

Ter afsluiting het hy gesê “Atlanta is oop vir besigheid en soek strategiese vennootskappe, beleggings en koproduksie met Afrika se kreatiewe talent en stede van Kaapstad na Kaïro.”

Dickens sien uit na die nuwe geleenthede wat voorlê gedurende FAME Week 2025, maar ook vir die jaar wat die geleentheid voorafgaan.

Sinergie tussen Kaapstad en Atlanta

Atlanta is die middelpunt van Georgia, die VSA se groot rolprent- en televisiebedryfsentrum. Die stad het Hollywood in 2016 verbygesteek met die aantal speelfilms wat vervaardig is. Treffers soos Avengers (Infinity War en Endgame), Contagion en Black Panther, ook televisiereekse soos Walking dead en Stranger things is almal daar verfilm. Dit is ook die tuiste van CNN.

Die sinergie tussen Kaapstad en Atlanta het dié ooreenkoms ’n voor die hand liggende een gemaak. Kaapstad word beskryf as die Hollywood van Afrika en is ewe gewild as ’n bestemming vir die maak van films en TV-produksies.

Geleenthede, volhoubare groei en gedeelde sukses

Die ooreenkoms sal fokus op die skep van geleenthede tussen Afrika en Atlanta deur FAME Week Africa wat van 1 tot 6 September 2025 in Kaapstad sal plaasvind.

Die vennootskap het ’n voorloper in die Atlanta Phambili-inisiatief, wat ’n brug met Atlanta se florerende ekosisteem skep, hetsy deur handel, werkskepping of kreatiewe bedrywe. Van plaaslike handelsmerke tot globale tegnologie sal bevoordeel word.

Groter platform vir Suid-Afrika se talent

Die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese groei, James Vos, het gesê dat Atlanta erkenning ’n katalisator kan wees vir Suid-Afrikaanse besighede: “Atlanta word as FAME Week Africa se 2025-funksiebestemming aangewys, en dit is ’n deurslaggewende oomblik vir nie net Suid-Afrika nie, maar ook die vasteland se kreatiewe en kulturele bedrywe. Hierdie samewerking sal waardevolle verbindings bevorder en geleenthede vir ons filmmakers, musikante en ontwerpers ontsluit om hul talente wêreldwyd ten toon te stel.”

Die samewerking hou groot belofte in, volgens JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit in die Stad Kaapstad. Hy het gesê: “As Suid-Afrika se rolprentkern sien Kaapstad uit na die geleentheid om met Atlanta te ontmoet en sinergieë vir groei met Atlanta te verken. Ons wêreldklas talent, fasiliteite en liggings het ons reeds ’n wêreldwye gunsteling gemaak. Met Kaapstad se wye verskeidenheid landskappe is daar nog meer onontginde geleenthede vir die wêreldwye filmbedryf. Die Stad Kaapstad sien gretig daarna uit om afgevaardigdes van regoor die wêreld van 1 tot 6 September 2025 te verwelkom.”

Eksklusiewe geleenthede wag

Hiller het die belang van die ooreenkoms so verduidelik: “Hierdie vennootskap is ’n spelwisselaar vir Suid-Afrika se kreatiewe en kulturele bedrywe en sal Afrika-stories en -talent op ’n globale verhoog versterk. Atlanta sal ’n toegewyde paviljoen hê en eksklusiewe geleenthede aanbied om met Afrika-vervaardigers, -talent en -dienste ten behoewe te wees.”

Hierdie vennootskap sal deure sal oopmaak vir samewerking en die uitruil van kennis en sal beleggingsgeleenthede skep.

Die Suid-Afrikaanse ambassadeur vir die VSA, Reuben Brigety, het beaam dat gesprekke reeds sedert 2022 aan die gang is en gesê: “Dit is so wonderlik om hier te wees en hierdie merkwaardige erkenning te vier.” Hy het ook tydens sy toespraak Dickens en Hiller se sentiment gedeel dat hierdie inisiatief die fokus op die verhouding tussen die VSA en Suid-Afrika sal versterk. “Ek sien daarna uit om Atlanta en Suid-Afrika te sien saamwerk in die toekoms en nie bloot ’n stem aan ons kreatiewe denkers sal gee nie, maar ook ’n inkomstestroom sal verseker.”

Ten slotte het hy al die rolspelers, spanlede en Stad Kaapstad bedank vir die werk om die inisiatief te laat realiseer.

FAME Week Africa 2025

Tydens FAME Week Africa 2025 sal Atlanta se afvaardiging moeite doen om toegang tot Afrika se film-, musiek- en modebedrywe makliker te maak, en om mense van Atlanta en elders met Afrika se vervaardigers, ons talent en ons dienste te verbind.

“Ons sal toegewyde geleenthede saam met die Atlanta-afvaardiging hê om netwerke en uitruilings moontlik te maak,” sê Hiller.

Hiller het die Stad Kaapstad bedank vir hulle ondersteuning vir en die geloof in FAME Week Africa se visie. Hy het afgesluit deur te sê: “Vanuit een wonderlike stad, die stad Kaapstad, verwelkom ons die wonderlike stad Atlanta by FAME Week Africa 2025. Ons is baie opgewonde vir die toekoms van die bedryf.”

FAME Week Africa vind van 1 tot 6 September 2025 in Kaapstad plaas. Uitstallers kan via https://www.fameweekafrica.com bespreek.

Potensiaal vir ander vorme van vernuwing

Die afvaardiging, bestaande uit rolspelers van Suid-Afrika en die VSA, het ook bedrywe buite die filmbedryf uitgesonder wat by hierdie ooreenkoms baat. Veldskoen Shoes van Kaapstad het onlangs ook ’n nuwe Amerikaanse hoofkwartier in Atlanta geopen. Hulle en ander klein besighede word ook ondersteun deurdat Amazon.com onlangs ’n Suid-Afrikaanse hoofkwartier in Kaapstad geopen het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top