’n Strategiese tweedagberaad van die Afrika-Unie (AU) in Malabo, Ekwatoriaal-Guinee het ’n diplomatieke storm ontketen, met groeiende kritiek dat die organisasie doelbewus swyg oor die omstrede uitsluiting van Suid-Afrika uit 2026 se G20-beraad in die VSA.
Die AU se beraad, wat gister (Maandag) begin het, bring Afrika-diplomate byeen om lesse uit Suid-Afrika se presidentskap van 2025 se G20-beraad te evalueer, Amerikaanse prioriteite vir 2026 te ontleed en ’n gesamentlike, kontinentale strategie vir die beraad in Miami te formuleer. Tog het die AU se amptelike aankondiging geen melding gemaak van Suid-Afrika se uitsluiting nie, iets wat ’n onmiddellike reaksie op sosiale media ontketen het.
Following the African Union’s permanent membership in the G20 and South Africa’s historic 2025 Presidency, the next priority is strategic preparation for the 2026 United States G20 Presidency. #G20Miami
The AU will convene a Strategic AU G20 Retreat on 27–28 April 2026 in… pic.twitter.com/ZVHMeF0owT
— African Union (@_AfricanUnion) April 26, 2026
Kritici, onder wie die bekende joernalis Redi Tlhabi, het die stilswye skerp veroordeel. Sy het daarop gewys dat dit juis Suid-Afrika en Indië was wat die deur oopgemaak het vir die AU se permanente lidmaatskap van die G20 in 2023, en dat Suid-Afrika tydens sy presidentskap daarop aangedring het dat die forum ’n duidelike Afrikaïese karakter moet hê.
“Dit is walglik om te sien hoe die AU eenvoudig toegee aan die VSA,” het sy op X geskryf in reaksie op die organisasie se aankondiging.
It was India and South Africa who opened the door to your G20 membership. When South Africa took over from Brazil, it insisted that its G20 presidency would be African-led, with the AU playing a conspicuous and eminent role. It is revolting to watch you acquiesce to the US and be… https://t.co/dFqvYEFh4v
— Redi Tlhabi (@RediTlhabi) April 26, 2026
Die huidige spanning spruit uit ’n aankondiging in November 2025 deur Amerika se president Donald Trump dat Suid-Afrika nie na die 2026-beraad in Miami genooi sal word nie. Hy het dié stap geregverdig met verwysings na beweerde menseregteskendings teen wit boere, korrupsie, ekonomiese stagnasie en Pretoria se bande met lande soos Rusland, China en Iran.
Trump het ook verwys na ’n diplomatieke geskil ná die Johannesburg-beraad, waar Suid-Afrika geweier het om die G20-presidentskap simbolies aan ’n Amerikaanse ambassadeur oor te dra. Pretoria het volgehou dat dit teen gevestigde internasionale protokol indruis.
In skerp bewoording het Trump verder beweer Suid-Afrika is “nêrens waardig van lidmaatskap nie” en het gedreig om finansiële steun te staak. Suid-Afrika het later aangekondig dat hy tydelik uit die 2026-proses sal terugstaan om spanning te verminder, maar die stap word wyd as ’n diplomatieke terugslag beskou.
Die impak strek egter verder as bloot Suid-Afrika. Ontleders waarsku dat Washington se harde houding ’n duidelike boodskap aan ander Afrikalande stuur: Onafhanklike buitelandse beleid kan diplomatieke en ekonomiese gevolge hê. Dit verhoog druk op sleutelkwessies soos handel, skuldverligting en klimaatsfinansiering – terreine waar Afrika reeds ’n swak onderhandelingsposisie het.
’n Diplomaat van Burundi het volgens mediaberigte aangedui dat die Suid-Afrika-kwessie wel tydens die Malabo-gesprekke geopper sal word, ondanks die feit dat dit nie op die formele agenda verskyn nie. Waarnemers bly egter skepties of die AU bereid is om die VSA direk te konfronteer.
President Cyril Ramaphosa se kantoor het vroeër reeds die Amerikaanse bewerings as “waninligting” en “wraaksugtig” verwerp. Die regering beklemtoon dat misdaadsyfers nie die narratief van ’n “wit volksmoord” ondersteun nie en dat grondhervorming binne die raamwerk van die Grondwet geskied.
Die tydsberekening van die Afrika-beraad is simbolies: Dit val saam met Vryheidsdag in Suid-Afrika, wat Suid-Afrika se demokratiese oorgang herdenk. Teen dié agtergrond word die AU se optrede deur baie as ’n toets van kontinentale solidariteit gesien.
The African Union Commission stands in solidarity with the people and Government of the Republic of South Africa in commemorating Freedom Day.
This solemn occasion reaffirms our collective commitment to the enduring principles of democracy, human dignity, and equality; values… pic.twitter.com/xu6zOesVSX
— African Union (@_AfricanUnion) April 27, 2026
Die verwagting is dat die beraad ’n padkaart vir Afrika se toekomstige G20-betrokkenheid sal oplewer. Tog meen ontleders die werklike toets lê elders, naamlik tot watter mate die AU die “olifant in die verrek” hanteer, naamlik Suid-Afrika se uitsluiting en die breër implikasies daarvan vir Afrika se stem in globale ekonomiese forums.
Intussen woed die debat voort op platforms soos X. Waarnemers waarsku dat vroeë weergawes van gebeure, dikwels gebaseer op sosialemedia-plasings, met omsigtigheid hanteer moet word.
South Africa is the reason the African Union is part of the G20, South Africa monetarily contributes the most to the African Union we must hold our money back https://t.co/lpVUryWErz
— TheOriginalKhutso🇿🇦 (@OriginalKhutso5) April 27, 2026
Vir nou is een ding duidelik: Dié strategiese tweedagberaad gaan nie net oor beplanning nie, maar oor die vraag of die res van Afrika bereid is om ’n land op die kontinent te steun.

