Abraham Hermanus de Vries is op die plaas Volmoed in die distrik Ladismith gebore. Hy is ook die eerste ereburger van die dorp.
Hy behaal in 1962 Kandidaats en Doktoraal Litt et Phil aan die Gemeentelijke Universiteit, Amsterdam, Nederland, en in 1986 die DLitt van die Universiteit Stellenbosch.
Braam was van 1963 tot 1965 kunsredakteur van Die Vaderland in Johannesburg en is sedertdien ’n gerekende akademikus. Hy is die skrywer van 18 bundels kortverhale, ’n roman, ’n digbundel, drie reisverhale, drie speurverhale, en televisiereekse sonder tal, waaronder oor Adam Small en oor Abraham Phillips, asook oor Afrikaans en Nederlands ná apartheid. Hy is die samesteller van die standaardwerk Die Afrikaanse kortverhaalboek.
Pryse en erkennings: die Nederlandse Reina Prinsen-Geerlig-prys; Eugène Marais-prys; Perskor-prys; eerste prys in die De Kat-Potpourri-wedstryd; Artes vir die televisiereeks Die Klein Karoo; RAU-prys vir skeppende werk; en die Nadine Gordimer-kortverhaalprys van die South African Literature Awards. Die ATKV het aan hom ’n oorkonde vir die bevordering van Afrikaans toegeken. Hennie Aucamp se Kort voor lank, WA de Klerk se As die reier noord vlieg en Alan Paton se Ah, but your land is beautiful is aan hom opgedra. In 2021 ken die Universiteit van Pretoria ’n eredoktorsgraad aan hom toe vir sy bydrae tot die letterkunde.
- Foto van Abraham H de Vries: Izak de Vries