Suid-Afrikaanse skrywer Abraham H de Vries ontvang ’n eredoktorsgraad in die lettere

  • 0

Onlangs het die Universiteit van Pretoria ’n eredoktorsgraad in die lettere aan Abraham H de Vries toegeken. Wium van Zyl gesels met Braam.

Abraham H de Vries (Foto: Izak de Vries)

Braam, dr De Vries, die graad is aan jou toegeken vir jou skeppende werk, maar ook vir jou bydae as kritikus, as kanoniseerder van die Afrikaanse kortverhaal, as krag in skrywersorganisasies, as vertaler en as filmmaker. Ek wil daarom graag vrae aan jou stel ten opsigte van hierdie terreine. Maar om mee te begin: Wat beteken die geleentheid vir jou – hoe voel jy daaroor?

Wium, ek weet nog nie hoe ’n mens veronderstel is om te voel nie! Al waarvan ek seker is, is dat dit by verre die grootste eer is wat my nog te beurt geval het.

In die commendatio word die kwessie aangeraak dat die kortverhaal as genre sowel plaaslik as internasionaal selde op sigself waardering ontvang. Klop dit?

Ja, dit klop skynbaar by pryskomitees oral ter wêreld. Dit word by ons ook van kortverhale teenoor romans gesê. Dat romans hier by uitgewers verkies word, het ek self nooit ondervind nie. Ek het ook nooit romans geskryf nie; en speurverhale is ’n ander soort speelding. Dat kortverhale en romans in pryskomitees teen mekaar afgespeel word, het ek wel al gehoor, maar moet ek my nou dááraan steur?

Die bevinding van kritici word ook geopper dat jou werk gekenmerk word deur aansluiting by die oënskynlik klein menslike probleem en ’n streek met juis so ’n verkleining in die naam, die Klein Karoo, maar dan ook weer by die tegnies en filosofiese “hoë kuns”, ’n uiterse gesofistikeerdheid. Hoe ervaar jy hierdie “klein” en “groot” self as skrywer en kunstenaar? Hoe bring jy die kloutjie by die oor?

Daar is in – kom ons sê maar – die Klein Karoo gegewens waarin ek nie iets algemeen-mensliks kan vind nie. En dan is daar in die eenvoudigste (“Spioene” tot by “Nag van die clown” ens) waar dit wel voorkom. Tegnies is daar tussen die soorte verhale geen eintlike verskil nie – in elkeen word taal tot sy beste moontlikhede gebruik. My voordeel was waaroor Jan Rabie my geskrobbeer het: dat in soveel van my eerste verhale die dood voorkom. Dit was so miskien omdat my moeder oorlede is met my geboorte. ’n Mens se geboorteplek is belangriker as wat jy besef. Die Turkse Nobelpryswenner Orhan Pamuk woon met uitsondering van drie jaar wat hy in Amerika deurgebring het, sy ganse lewe nog in dieselfde huis in dieselfde buurt, dieselde straat in Istanbul. In ’n onderhoud met Salman Rushdie sê hy: “Home is the beginning of the world. Home is the mother, also the language. I have the language with me. I carry it in my pocket, in my spirit. I write with it.”

Daar word in die commendatio verwys na ’n aantal aspekte of kenmerke van jou kortverhale. Allereers is daar die verskynsel van die wonderlike wat ontspring uit die gewone. Ek dink self al onmiddellik aan jou bekende Kersverhale, maar ook aan “Rooi Koos Willemse is soek”. Is die wonderlike inderdaad vir jou iets wat in die gewone, die kenbare werklikheid skuil?

Einste.

Wat die wonderlike genoem word, is meestal wat in die gewone misgekyk word. Die lewe self is ’n wonderwerk.

Ten tweede is daar die abnormale as tekstuele motief, deur die “verrassende ontyking” van die taal en styl. Dit sluit in die keuse van ’n ongewone woord in ’n bekende uitdrukking – “ontmiering” in plaas van “ontvolking” (van die platteland), ens. Hoe bewus is jy van jou medium wanneer jy werk? Dink jy na oor vertelstrategieë?

Ek dink nie in terme van strategieë nie. Die “strategies geslaagde iets” ontstáán in die gebruik van taal op so ’n manier dat dit in storie na storie al hoe beter pas. Die Kersverhale slaag miskien omdat ’n wonder van eeue gelede in ’n gewone Karoodorp of op ’n plaaslike treintjie afspeel.

Dan is daar die abnormale as motief, die aanbied van ’n “waansinwêreld”, “mal” visioene. Soos in “Jy moet jou by kry voor die kanon skiet.” Wat het aanleiding hiertoe gegee?

Daar is verskillende soorte “abnormaliteit”. Die een oor die by en die boer wat om die beurt na mekaar soek oor hulle al so lank tot oor hul borste in die heuning geloop het, loop, is ’n ou boeresprokie. Wat ek grappig vind, is dat niemand skynbaar die “politieke” aspek raaklees nie! Nie net poësie is woordgevoelig nie!

Die waansinwêreld hang saam met my verblyf in Nederland, maar, ja, begin seker al met die skoenmaker wat met “dink” op die water kon loop (“Skoenemaker, diepe water”). Maar stories hoef natuurlik net so min realisties te bly as wat skilderye realisties moet bly – inteendeel! In Nederland het ek in die Lukas Bar gaan werk om geld te verdien, maar ook om te luister na mense wat die Oorlog meegemaak het (die eienaar, Lukas, was self byna dood oor hy Duitse soldate uit sy kroeg gegooi het)! Dis waar ek kennis gemaak het met die werklike waansin van die gewone, die doodnormale in oorlogtyd. Dermate dat André in ’n resensie van Blikslate bloei nie kon beweer: “Algaande het die mens ál meer die gewone, ‘die mens’ in De Vries se werk met skok, verbasing en galgehumor herken in die buitengewone en die bisarre, die normale in die waansinnige.” Dis waar die “waansinwêreld” ontstaan het.

In die commendatio word ook verwys na verhale waarin die eietydse aktualiteit belangrik is, veral die Suid-Afrikaanse aktualiteit. Ek weet dat jou uitgewer in die jare negentig vir jou gesê het jy is die laaste “betrokke skrywer”. Hier word natuurlik politieke kritiese betrokkenheid bedoel. Wanneer raak sulke betrokke skryfwerk vir jou belangrik? En wat is die situasie deesdae vir jou?

Eenvoudig gestel, want dis ’n ingewikkelde saak: Betrokkenheid is wat my betref baie belangrik. Maar dit is stories-maak natuurlik ook. En soms bots die twee. Dit is ’n dubbelsinnigheid waarmee ek probeer saamleef. En nie altyd in slaag nie. As iets prekerig en voorsêerig word, verloor ek belangstelling. Anders gestel: As mens het ek uiteraard politieke menings en bly ek ook nie stil daaroor nie. Ek aanskou daagliks ’n land wat afgebreek en vrot gesteel word. Ek probeer nog opstaan uit ’n mensonterende kleurgeskiedenis. As mens. As skrywer vertel ek stories van wat ek meeleef, sien gebeur, ervaar, hoop. Hopelik bly dit mensstories.

Daar word ook gewys op die universaliteit van jou verhaalkuns. Jou CV as akademikus en jou werk as kritikus wys natuurlik dat jy ’n leser is van die wêreldletterkunde en kundig ten opsigte van internasionale strominge. Kritici wys in hierdie opsig veral op die verskeidenheid enkelinge en enkelingskap wat jy ten tonele voer. Wat is dit aan die enkeling, die verdwaalde wat jou interesseer?

Op die plaas het ek alleen tussen die volwassenes grootgeword. Later leser, nog later leerder, daarna student, al die seisoene van jare en jare. Ek ken die mens as enkeling en as verdwaalde, nie juis as kuddedier nie.

Die kortverhaal is by uitstek die verhaal van ’n enkeling; dis net hier en daar dat ’n mens iets teëkom soos Etienne Leroux se “’n Dag in Berg-en-Dal”. Wat my betref is “universaliteit” iets veel eenvoudigers as wat die woord suggereer. “Universaliteit” sluit aan by iets “algemeen-mensliks”. Daarmee bedoel ek verhale waarin die karakters iets onverwags doen of oorkom wat almal, oor die hele wêreld, kan doen of oorkom, onder sekere omstandighede. Wium, ek probeer vir die eerste keer nou hier vir myself die verskynsel duidelik maak. Wat dit in my skrywery beteken, is dat dit ’n gevoel is wat ek op my maag kry; dis stories wat mý opsoek – dit gebeur selde in stories wat ek probeer “uitdink”.

Etienne van Heerden het ’n hele proefskrif geskryf oor die wyse waarop jou werk aansluit by die postmodernisme. Dit word in die commendatio ook as kenmerk genoem. Hoe staan jy self teenoor hierdie stroming, as ’n mens dit so kan noem?

Kom ek probeer antwoord. As ’n mens in die Klein Karoo grootgeword het en die grootmense se taal ken, groei dit langsaam in jou dat daar altyd iets is wat juis nié vertel word nie, of wat juis sonder woorde vertel is. Met die jare word dit duideliker, en as jy in Europa kennis maak met die flieke van Goddard, Bergman, Pasolini, selfs Hitchcock, dat nie net woorde betekenis het nie. Bewegings, geluid, selfs stiltes het betekenis, kan tekens, be-tekenisse, word. Die spannings tussen woord en wêreld het verander.

Iewers vandaan kom jy op ’n dag weer aan die vreemde storie van ’n vader se verraad teenoor sy seun, ’n gegewe in die wêreldgeskiedenis wat in die Klein Karoo allerhande betekenisse bykry. Jy ken drie variante van dié vreemde Bybelverhaal. Sonder dat jy dit náásteby beplan het, besef jy daar is ’n vierde moontlikheid. Hier op Winkelplaas! Vir ’n skrywer – sê my ondervinding dus vir my – is postmodernisme die produk waarin al die uiteenlopende gegewens en stiltes verhaal word.

Braam en Hannie de Vries

In die commendatio word daarna verwys dat sommige kritici jou as die voorste kanoniseerder van die Afrikaanse kortverhaal beskou. Dit berus veral daarop dat jy dekades lank Die Afrikaanse kortverhaalboek saamgestel het, maar ook dat jy besinnende artikels oor die proses geskryf het. Wat is jou siening oor die proses? Was daar ontwikkeling in hierdie genre? Wat is die belang van die genre binne ’n letterkunde in die breë?

Wium, Die Afrikaanse kortverhaalboek het begin met ’n antwoord op die vraag: Watter verhale is vir my die beste? In Nederland het toenterjare toe vir die eerste maal ’n dik boek met verhale verskyn. Hier by ons was die samestellings almal redelik dun en uitgedun. Ek wou Hennie Aucamp bybring as medesamesteller toe ek die plan vir Koos Human gaan voorlê het, maar Koos wou nie; sy antwoord was: “Hoekom doen jy dit nie self nie? Dit sal makliker wees vir my.” Min wis ek toe hoeveel tegniese probleme ons sou moes oorkom. Dis ’n verhaal, eintlik ’n lang boek, op sigself oor hoe die versameling ontstaan het. Anders gestel, dis eintlik ’n versameling van wat ’n aantal lesers as die bestes beskou het. Dis ook hoe Die Afrikaanse kortverhaalboek “die kanon van die Afrikaanse kortverhaal” geword het, soos John Kannemeyer – nie ek nie – dit genoem het. Deur die jare het Hennie Aucamp, Emma Huismans, John Miles, André P Brink, Willie Burger en jy self my gehelp met die keuses.

Die “besinnende artikels” was maar net ’n manier om die verhale vir studente te verduidelik – dis nie bedoel as “besinnende proses” nie. Ek het ’n boek (Kortom) geskryf met verduidelikings vir elkeen van die verhale wat ek gekies het. Koos Human het dit gepubliseer. Toe wys ek die boek vir Merwe en dis hoe my doktorsgraad ontstaan het; Merwe wou weet hoekom ek nie die boek nie vir ’n doktorsgraad voorlê nie.

O, ja, natuurlik was daar ontwikkeling in die kortverhaal as genre. Nêrens nog volledig opgeteken nie, nie náby nie. My besprekings van afsonderlike verhale het vermeerder toe ek in Oslo en later in Amsterdam reekse lesings gaan gee het oor die Afrikaanse kortverhaal (gepubliseer in Kortom: ’n gids by die Afrikaanse kortverhaalboek). Dis soms baie nodig, want skrywers het die manier om spronge te maak in die onbekende in, “genres” wat verander of verfyn word. Kyk maar na die poems en prose van Michaux, Jan Rabie en Breyten Breytenbach, en nou weer in die werk van een of twee van die nuwe skrywers.

Jy was betrokke by die oprigting en organisasie van sowel die Afrikaanse Skrywersgilde as die Afrikaanse Skrywersvereniging. Waarom het jy hierdie organisasies belangrik gevind? Dit moes immers energie geverg het wat jy eerder vir skeppende werk kon gebruik het?

Die Skrywersvereniging was belangrik omdat daar sensuur bestaan het. Of dit ooit veel gehelp het, weet ek nie, want die sensuur was polities van aard en dit is veel later eers verander. Die samekomste van skrywers en digters was meestal ’n soort waardevolle familiebyeenkoms van vakgenote.

Oor die jare was jy heeltyds dosent by verskillende universiteite en hoëronderwysinstellings. Hoe kyk jy terug op hierdie soort omgaan met die letterkunde?

Stel jou voor die nuwe ontdekkings, aansporings, uitbreidings – dis te veel om op te noem. Net al die werk met anderstaliges was ’n soort opleiding. Van my interessantste ondervindings was die kursus in joernalistiek wat ek by die Technikon Skiereiland geopen het. Dan was daar die lesingreekse oor Adam Small in Oslo en Dresden en dié oor die kursusse oor die Afrikaanse kortverhaal in Amsterdam en Nijmegen, en daarna my jare by die UWK. Lesings opstel is ’n interessante manier van kennis maak met nuwe verhale én met nuwe maniere van vertel.

Jy het ook oor die jare ’n aantal interessante boeke in Afrikaans vertaal. Het dit waarde toegevoeg tot jou skrywersloopbaan?

Zorba het; ek moes van dié Griek ’n robuuste Afrikaanssprekende maak. Ek moes ’n karakter skep wat ek in die Afrikaanse wêreld net gedeeltelik geken het. Ronnie Belcher het dit nooit geweet nie, maar dis hom wat ek in gedagte gehou het met die vertaling!

Ten slotte het jy ook gesorg vir ’n aantal dokumentêre films. Wat het jou hiertoe “moveer”? Wat is die verband met jou skryfwerk? Is daar hier gevalle was jy sou wou uitlig?

Die reeks films oor die Klein Karoo wat ek en Koos Roets gemaak het, was hoogtepunte, maar so ook die een oor Afrikaans en Nederlands na apartheid en die laaste drie oor bruin digters, die heel laaste Ek hoor die vryheid sing oor Adam Small minder as ’n maand voor hy oorlede is.

Ek het met films begin toe Chris en Katinka Barnard my vra om tekste te skryf by ’n reeks wat reeds verfilm was. Dis waar die gogga gebyt het; die reeks oor die Klein Karoo was die eerste wat ek self gemaak het, met Koos Roets as kameraman. Dáárna het Afrikaans en Nederlands na apartheid gevolg met Jurie le Grange as kameraman, Merwe Scholtz as raadgewer, en my seun Andries as klankhulp.

Na al hierdie hoogtepunte waarvoor jy nou so ’n bekroning ontvang het, wat bly oor om te doen? Jy kon immers al jare gelede op die gewone swoeg-en-sweet-manier “doktor” op jou tjekboek skryf.

’n Mens kan nie sonder geld tjeks teken nie! Goeie nuus is dat “Kaleidoskoop van Kannaland”, oor ’n besoek aan my oop geboortewêreld ná die korona-inperkings, en ’n artikel oor die flenter huise en gate in die paaie, reeds by ’n tydskrif lê. En ek sal hopelik miskien ’n hersiene uitgawe van Die Afrikaanse kortverhaalboek kan saamstel.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top