Connel James Fortuin, gebore in Worcester in die Boland, studeer Afrikaans en Sielkunde by die Universiteit van Wes-Kaapland en rond sy studies daar af met ’n Hoëronderwysdiploma. Oor die jare wat volg, probeer hy leerlinge inspireer óf as Afrikaans-onderwyser óf as voorligting-onderwyser. Tussendeur verwerf hy ook ’n nagraadse diploma in die Tegnologie van Onderwys aan Rhodes Universiteit. Hy verlaat uiteindelik die onderwys en word vryskut werkswinkel-fasiliteerder by onder andere verskeie ambassades. Hy sien homself as wêreldreisiger en verdeel sy jaar, wanneer hy nie op reis is nie, tussen Kaapstad en Amsterdam.