Elirea Bornman

Elirea Bornman is ’n navorsingsprofessor in die Department Kommunikasiewetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Sy het ’n doktorsgraad in sosiale sielkunde aan Unisa verwerf en was voorheen 18 jaar lank as navorser by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) werksaam.

By die RGN was sy betrokke by verskeie projekte wat verband gehou het met interkulturele kontak en kommunikasie, tussengroepverhoudinge en ontwikkelingskommunikasie. By Unisa was sy veral by die onderrig van navorsingsmetodologie en internasionale kommunikasie op voorgraadse en nagraadse vlak betrokke. Tans is sy onder meer betrokke by ’n program wat fokus op die ontwikkeling van die navorsingsvaardighede van doktorale studente van Unisa in Ethiopië.

Haar navorsingsbelangstellings hou verband met sosiale identifisering in Suid-Afrika en meer spesifiek met nasionale versus etniese identifisering; die nasiebouproses in Suid-Afrika; kwessies rondom die akkommodasie van minderhede; die verband tussen taal en identiteit; die rol van simbole in verdeelde samelewings; faktore wat studente se taalkeuses beïnvloed; asook aspekte wat verband hou met tussengroepkontak en -verhoudinge.

Sy is die skrywer/medeskrywer van etlike boeke, hoofstukke in boeke, artikels in nasionale en internasionale vaktydskrifte, kongreslesings en navorsingsverslae en is as ’n C2-navorser geakkrediteer. Sy is ’n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, asook van die Suider-Afrikaanse Kommunikasievereniging (SACOMM) en die International Academy for Intercultural Research, en dien in  die NRF-paneel vir Thuthukha-toekennings.

Sy is as aktiewe Christen betrokke by verskillende kerklike aktiwiteite. Sy hou van lees, die teater en fliek, draf en gaan gimnasium toe, en neem haar honde vir stappies om in die buitelug te kom.

’n Globale perspektief op groepregte en diversiteit

Menán van Heerden, Elirea Bornman Academisch 2018-12-18

"Dit is so dat multikulturalisme ’n veel moeiliker en komplekser pad is om te volg as die betreklik eenvoudige idee van die nasiestaat." Menán van Heerden gesels met Elirea Bornman oor migrasie en populisme; groepregte; sosiale kohesie in Suid-Afrika; en globalisering, mobiliteit en identiteite.

Verified by MonsterInsights
Top