Elsa Winckler is op Upington gebore. Sy het gematrikuleer aan die Hoërskool Upington waarna sy haar op Wellington as ’n laerskoolonderwyseres gekwalifiseer het. Sy het op veertig weer begin studeer en het ’n BA-graad deur Unisa voltooi, en later ’n honneursgraad in Engels en ’n MPhil in Dokumentanalise en -ontwerp (cum laude) aan die Universiteit Stellenbosch. Sy is met haar studenteliefde getroud en hulle het drie interessante kinders en drie pragtige kleinseuns. Vandat sy kan onthou, is lees deel van haar lewe en toe sy die werke van klassieke skrywers soos Jane Austen, Elizabeth Gaskell, Henry James en The Brontë sisters tydens haar nagraadse studies “onmoet” het, is sy geïnspireer om self te begin skryf. Sy skryf in Engels en Afrikaans en is internasionaal gepubliseer deur uitgewers soos HarperImpulse en Tule Publishing.
Sy het reeds 42 liefdesverhale gepubliseer, een kinderboek en nege kortverhale. Vier van haar boeke het ’n ATKV Woordveertjie-toekenning ontvang – in 2010, 2014, 2016 en 2019.