"Ek het weer besef ’n mens moet jou storie neerskryf"

  • 0

Liefdesverhaalskrywer, Elsa Winckler, het onlangs Nederland besoek. Sy gesels met Cliffordene Norton oor hierdie reis.

Kan jy jou eerste besoek aan Nederland onthou? Wat was jou eerste indruk van Amsterdam? 

Ons dogter, Mia, is vyf jaar gelede getroud en vroeg in die volgende Januarie is hulle Nederland toe waar hy ’n besigheid begin het wat druiwe van reg oor die wêreld invoer en in Europa versprei.

Hulle is hier weg met net hulle tasse en het met niks begin in die vreemde nie. Ons het in April gaan kuier en was verstom oor wat hulle in die besigheid en in hulle eerste huisie reggekry het.

Aanvanklik het hulle in die pragtige ou dorpie, Naaldwiijk, gebly. Ons het ons verkyk aan hoe almal op fietse rondbeweeg. Mammas met bak-fietse waarin maklik vier kinders sit, of daar is ’n sitplek agter haar fiets en een voor haar en nog ’n kind ry langs haar op sy of haar eie fiets.

Ek het iewers gelees Nederlandse kinders is van die gelukkigste kinders op aarde, iets wat ek baie goed verstaan ná ek die glimlaggende gesiggies by Mamma gesien het. 

Nog iets wat ons opgeval het tydens ons eerste besoek, is die plat wêreld en die baie, baie water. Die Nederlanders is gedissiplineerde mense – alles, maar alles werk. Treine, busse is op die minuut betyds en alles word skoon en netjies gehou.

Hallo Leiden (Elsa en haar man, Theo)

Ons dogter het Amsterdam vir ons gaan wys, ons is met ’n bus en toe ’n trein tot op die Amsterdam-stasie en het vir die eerste besoek op ’n boot na al die besienswaardighede van dié mooi stad gekyk.

Theo, my man, het toe die reël gemaak – ’n bier elke uur! Jy kry die heerlikste Duitse bier te koop by enige van die baie restaurante waar ’n mens kan sit en jou aan die mensdom verkyk.

Watter besienswaardigheid móét jy besoek wanneer jy in Amsterdam is? 

Ek sou sê die Van Gogh-museum en natuurlik ook die Rijksmuseum, maar daar is ook die Anne Frank-huis, die Dam-plein, die Ou Kerk, Vondelpark en vele meer. Maar om sommer net in die strate van die mooi stad te loop, op ’n brug te gaan staan en jou te verlustig in die wonder van daar wees, is al baie besonders. En soek ’n meul – dis nogal iets om te sien.

Ek en Mia voor die Rijksmuseum

Jy skryf eg Suid-Afrikaanse liefdesverhale wat dikwels rondom die Kaap-omgewing afspeel. Die openingstoneel van jou liefdesroman, #liefvirjou, speel af op ’n vlug van Nederland terug na Suid-Afrika. Wat het dit geïnspireer? 

Ons moes met een van die besoeke aan Nederland, met die terugvlug by die heel laaste hek wees op Schipol. Dis ’n laaaang stap. Ek het net daar begin dink, sê nou net … En so het die storie begin.

Het jou onlangse reis jou muse geïnspireer?

Tydens ons laaste besoek is ons Dresden toe in Duitsland en het met ’n motor deur die Duitste platteland tot by Niesky gery ─ ’n klein dorpie baie na aan die Poolse grens.

Theo se oupa was ’n Morawiese sendeling en Mia wou hom op sy grootpa se spoor terugvat. Theo het die ring wat sy oupa gedra het gekry en ons was by die kerk waar sy oupa en ouma getroud is. Dit was ’n onbeskryflike ondervinding.

Niesky was ook veertig jaar onder kommunistiese bewind, ’n hartseertyd wat nog op die inwoners se gesigte te bespeur is.

Theo en Mia voor die kerk in Niesky

Theo se oupa het sy en sy vrou se stories destyds neergeskryf, iets waaroor die nasate vandag baie bly is. Ek het weer besef ’n mens moet jou storie, hoe oninteressant jy ook al mag dink dit is, neerskryf vir dié wat na jou kom. En ja, die muse is sedert ons besoek omtrent met my besig!

Lees jy boeke deur Nederlandse skrywers? Indien wel, wie is jou gunsteling- Nederlandse skrywers? 

Ek het lank terug Nederlands gelees toe ek studeer het, maar nie in die onlangse verlede nie. Met ons onlangse besoek het ek by ’n boekwinkel gevra na iets met ’n happy ending en het Hettie Kleinloog se Volle Bloei op aanbeveling gekoop. Ek lees baie lekker daaraan, tog interessant hoe ’n mens wel die Nederlands verstaan. 

Op die Altmark in Dresden in Duitsland – so ’n mooi stad!

  • Elsa Winckler se jongste boek, Want hy praat tjoklits, is nou beskikbaar!

.........

Titel: Want hy praat tjoklits
Skrywer: Elsa Winckler
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799396645

Friede het ’n slegte stel met ’n branderplankryer afgetrap. Sy ontmoet Matthys, die plaaslike deli se bakker. Daar is allerhande vibrasies tussen hulle, maar sien sy kans vir ’n man wat brood bak vir ’n lewe?

.........

  • Foto’s: verskaf
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top