Etienne van Heerden
Etienne van Heerden (Hillbrow, 1954) is skrywer en emeritus-professor aan die Universiteit van Kaapstad. Hy was vir baie jare Hofmeyr-professor in die Skool vir Tale en Letterkundes aan die Universiteit van Kaapstad. Sy boeke verskyn in 13 tale wêreldwyd. Hy is stigter-redakteur van LitNet, wat in Januarie 1999 aanlyn gegaan het nadat hy ’n voorstel vir ’n aanlyn-boekejoernaal aan 24.com gemaak het. Sedertdien het hy LitNet uitgebou en bestuur en toegesien dat die virtuele gemeenskap LitNet tot baie meer as ’n boekejoernaal ontwikkel. Hy dien as redakteur en mede-eienaar van LitNet in die LitNet-bestuurskomitee en is ook besturende direkteur van die maatskappy sonder winsbejag, LitNet Akademies. Die maatskappy bestuur die geakkrediteerde inhoud in LitNet se node vir akademiese skryfwerk, asook aktuele meningsgesprek rondom LitNet se akademiese inhoud.
Etienne behaal die grade BA (Regte) en LLB aan die Universiteit Stellenbosch en word as prokureur tot die destydse sybalie toegelaat. Verdere grade is Honneurs in Afrikaans en Nederlands (cum laude), Universiteit Stellenbosch, MA (cum laude), Universiteit van die Witwatersrand, PhD (Rhodes) en die eredoktorsgraad DLitt (hc), Universiteit van die Vrystaat.
Kontak Etienne by profetiennevh@gmail.com as jy ’n skerp idee vir ’n nuwe Voertaal-projek het.