Francis Galloway behaal haar kwalifikasies aan die Universiteit van die (Oranje) Vrystaat: BA (met Afrikaans-Nederlands en Duits as hoofvakke); BA. Honneurs (cum laude); MA (cum laude) en D.Litt. Sy is sedert 2009 die redakteur van die geesteswetenskappe-afdeling van die geakkrediteerde aanlyn vaktydskrif LitNet Akademies. Sy het haar loopbaan begin as dosent in Afrikaanse letterkunde aan die destydse Universiteit van die Noorde (tans die Universiteit van Limpopo); daarna was sy lid van die navorsingspan van die Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (SENSAL) by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN); akademiese uitgewer by Van Schaik Uitgewers; en dosent (en koördineerder van die program) in Uitgewerswese aan die Departement Inligtingkunde van die Universiteit van Pretoria. Sy was die samesteller van ’n jaaroorsigreeks oor die Suid-Afrikaanse letterkundesisteem, SA Literatuur/Literature, en projekleier van verskeie verslae oor die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf. Sy publiseer navorsingsartikels oor die plaaslike boeklandskap en neem deel aan die jaarkongresse van die internasionale Society for the History of Authorship, Reading and Publishing (SHARP) waarvan sy ook ’n bestuurslid was. Sy is die skrywer van die monografie Breyten Breytenbach as openbare figuur asook die redakteur van die Breytenbach-huldigingsbundel, Woordenaar woordnar, en van die versameling liefdesbriewe tussen André P. Brink en Ingrid Jonker, Vlam in die sneeu.