Francis Galloway se monografie Breyten Breytenbach as openbare figuur (HAUM-Literêr, Pretoria 1990), is aanlyn beskikbaar gestel deur die Digitale Bibliotheek voor de Nederlandse Letteren (DBNL). In hierdie biblioteek is daar tekste wat uit die Goue Eeu kom; ander is uiters onlangs. Die DBNL “is een digitale collectie van teksten die behoren tot de Nederlandse letterkunde, taalkunde en cultuurgeschiedenis van de vroegste tijd tot heden. De collectie representeert het hele Nederlandse taalgebied.” Izak de Vries het met Galloway gesels oor haar teks en die opname daarvan in die openbare ruimte, haar navorsing en die resepsie daarvan.
Hoe het dit gekom dat jou teks oor Breytenbach in die DBNL opgeneem is?
Ek het vroeg in 2015 bewus geraak van die beskikbaarheid van die boek op DBNL en het daaroor in korrespondensie met Cees Klapwijk getree. Hy was die direkteur van die DBNL vanaf Junie 1998 tot Desember 2014. Hy het flink reageer op my navraag oor inligting oor die proses wat daartoe gelei het. Ek haal aan uit sy e-pos aan my (16 Februarie 2015):
Wij hebben uw boek gedigitaliseerd in het kader van een project dat heeft geleid tot het openen van een aparte afdeling in de DBNL over de Zuid-Afrikaanse literatuur (https://www.dbnl.org/letterkunde/zuidafrika).
Voor dat project hadden wij een aantal jaren geleden fondsen gekregen vanuit Nederland en vanuit Zuid-Afrika. Uw boek hadden wij ook al een aantal jaren geleden gedigitaliseerd samen met een aantal andere boeken, die wij nog niet gepubliceerd hadden omdat wij de rechten nog niet geregeld hadden.
In september 2014, toen in Nederland voor de eerste keer een week van de Zuid-Afrikaanse roman werd georganiseerd, hebben we een aantal titels en ook uw boek opgenomen in de DBNL. Ik kan het niet helemaal meer reconstrueren maar ik denk dat ik op dat moment gedacht heb dat wij al een diligent search hadden gedaan naar uw contactgegevens. Hoe dan ook, ik moet constateren dat u wel gevonden had moeten kunnen worden.
Hy het verskoning gevra vir die misverstand en aangebied dat die teks uit die DBNL verwyder kan word as ek dit so verkies. Ek het hom laat weet dat die gedigitaliseerde weergawe van die boek gerus deel van die biblioteek kan bly, want ek word gereeld deur (buitelandse) navorsers genader oor die beskikbaarheid van die boek en nou kan ek hulle na die DBNL verwys. Ek het ook toestemming gegee vir die skep van ’n e-boek. Die boek, PDF-weergawe en e-boek is beskikbaar by: https://www.dbnl.org/tekst/gall037brey01_01.
Jy is ’n lid (en vorige bestuurslid) van PEN Afrikaans wat weer ’n lid is van die Kopieregalliansie hier in Suid-Afrika. Dié alliansie werk baie hard teen die sogenaamde copy left-beweging wat alle tekste gewoon gratis wil beskikbaarstel en sodoende outeurs se reg op ’n inkomste sal ontneem. Het jy gevoel dat jou teks soveel jaar ná publikasie maar openbaar gemaak kan word?
My boek was reeds lankal uit druk en dit verskyn nie op enige plaaslike fondslys nie – op sigself ’n lotgeval van die (Suid-) Afrikaanse uitgewerygeskiedenis. Breyten Breytenbach as openbare figuur het in September 1990 by HAUM-Literêr verskyn – om presies te wees, op 14 September, twee dae voor Breytenbach se 51ste verjaardag. Die bekendstellingsfunksie is op 13 November by Exclusive Books in die Sunnypark-inkopiesentrum in Sunnyside, Pretoria gehou (eens ’n gesogte lokaal vir boekbekendstellings in die stad).
Die uitgewery HAUM se ontstaansgeskiedenis gaan terug tot die 19de eeu. Op 1 Mei 1894 is die Kaapstadse tak van die Amsterdamse boekhandelaar Jacques Dusseau & Kie geopen en reeds kort na sy ontstaan werf die firma plaaslike skrywers vir sy opkomende publikasielys. Kort voor die Anglo-Boereoorlog raak die besigheid in finansiële moeilikheid en dit word oorgeneem deur die firma JH de Bussy te Amsterdam, wat reeds in 1895 ’n tak in Pretoria geopen het. Dit word nou die Hollandsch-Afrikaansche Uitgevers Maatschappij (HAUM) genoem.1
HAUM (later De Jager-HAUM) was nie deel van ’n mediamaatskappy nie, maar ’n groot en mededingende uitgewery wat mettertyd in al die sektore van die boekbedryf uitgegee het. Teen die einde van die 1980’s en vroeë 1990’s was HAUM (saam met Naspers se uitgewerye en Perskor) ’n belangrike produsent van Afrikaanse boeke – veral deur die druknaam HAUM-Literêr, wat in 1984 gestig is en onder knap uitgewers soos Hettie Scholtz en Marietjie Coetzee grensverskuiwende fiksie en akademiese werk uitgegee het. Met HAUM se eeufeesviering in 1994 word die uitgewery deur die Kagiso-groep gekoop. Kagiso Uitgewers het nie lank bestaan nie en het geen ideaal gehad om die produksie van Afrikaanse fiksie en niefiksie in stand te hou nie. Met die daaropvolgende oorname deur Maskew Miller Longman (MML) het die eens glorieryke fondslys van HAUM-Literêr dormant geraak. Outeursreg is oorgedra aan die skrywers van HAUM-Literêr, maar hulle werke was nie meer deel van ’n fondslys nie en dus nie meer in die handel beskikbaar nie.2
Sedertdien kon Breytenbach-navorsers en -belangstellendes my boek (wat die eras van die 1960’s tot die einde van die 1980’s bestryk) slegs nog in biblioteke raadpleeg. Ek moes gereeld my eie eksemplare daarvan uitleen (sonder vergoeding) of selfs gedeeltes daarvan as fotostate aan dosente en studente beskikbaar stel. Die “openbaarmaking” deur die DBNL van die boek wat nie meer in die handel beskikbaar is nie (en wat in elk geval nooit ’n bron van finansiële kapitaal vir my was nie, maar wel van simboliese kapitaal in die terme van Pierre Bourdieu), was ’n geleentheid wat ek nie van die hand kon wys nie – ’n eerbiedwaardige buitelandse instansie met argivale oogmerke stel die boek binne almal se bereik.
Die DBNL se riglyne vir die opneem van tekste stel dit duidelik: “Voor de boeken die op de DBNL-website beschikbaar worden gesteld, geld dat ze niet meer commercieel in de handel verkrijgbaar zijn.” Die huidige copy left-beweging wat skrywers van boeke wat in die handel beskikbaar behoort te wees van hulle inkomste sal beroof, is ’n heel ander kwessie en ek deel PEN Afrikaans se standpuntinname daarteen.
PEN Afrikaans praat steeds saam met PEN International uit teen die voortgesette aanhouding en inperking deur sensuur van skrywers. Dit was interessant om in jou boek te sien dat PEN International ook betrokke was by die stryd om Breytenbach uit die tronk te bevry. Vertel iets daarvan – en was daar na sy vrylating voortgesette skakeling tussen Breytenbach en PEN asook bemoeienis met die soort aktiwiteite waarvoor PEN hom beywer?
Dwarsdeur Breytenbach se gevangeskap (1975 tot einde 1982) was daar pleidooie en veldtogte vir sy vrylating of parool – ook deur PEN International en spesifieke PEN-takke in verskillende lande. In Februarie 1979 het die sekretaris-generaal van PEN International, Peter Elstob, Suid-Afrika besoek, onder andere om onderhandelinge aan te knoop dat Breytenbach vrygelaat sal word om politieke asiel in Nederland te verkry. Die minister van justisie, Jimmy Kruger, het die versoek geweier.3
Na sy vrylating is Breytenbach deur verskillende internasionale takke van PEN as gasspreker genooi. Een van sy eerste openbare optredes is die toespraak “The writer and responsibility” wat hy op 9 April 1983 tydens ’n byeenkoms van die Hollandse tak van PEN in die Vlaamse Kultuursentrum in Amsterdam lewer. Hy spreek hom hierin ook uit oor die kultuurboikot teen Suid-Afrika: “I believe, in the question of a cultural boycott, that alternative links should be forged strengthening and amplifying the real voices of resistance in the country [...]”.4
JC Kannemeyer verwys in sy JM Coetzee-biografie na twee ander PEN-byeenkomste in New York in die 1980’s.5 In 1985 neem Coetzee en Breytenbach “saam met ’n uitgelese groep internasionale skrywers” deel aan ’n byeenkoms wat bekendgestel is as “die omvangrykste ontmoeting tussen Amerikaanse en buitelandse skrywers”. In Januarie 1986 woon Coetzee, Breytenbach asook Nadine Gordimer, Sipho Sepamla en Dennis Brutus die PEN-byeenkoms in New York by om deel te hê aan die beweging van Skrywers teen Apartheid. Die Suid-Afrikaanse skrywers sorg vir ’n opskudding toe hulle saam met ’n groot groep die opening, waargeneem deur die VSA se staatsekretaris George Schultz, boikot op grond daarvan dat die Reagan-administrasie “regerings steun wat hul onderdane vir hul oortuigings deur inhegtenisname en marteling tot stilswye dwing”. In hierdie era toon Breytenbach begrip vir die ontbinding van die Johannesburg-tak van PEN South Africa op grond daarvan “that a multi-ethnic (or anti-racist) superstructure such as PEN reflects do-goody idealism – corresponding neither to the reality of polarization nor to the consciousness of the people”.6
In 1994 word Breytenbach verkies as lid van die raad van die pasgestigte International Parliament of Writers (IPW) wat voortgevloei het uit die Salman Rushdie-fatwa en die toenemende voorkoms van soortgelyke vervolging van skrywers en joernaliste in Algerië en elders. Hy dien op die raad saam met figure soos Salman Rushdie (eerste president), Yehuda Amichai, Pierre Bourdieu, JM Coetzee, Mahmoud Darwich, Jacques Derrida, Edouard Glissant, Jürgen Habermas, Edward Said, Wole Soyinka, Adriaan van Dis en ander internasionale intellektuele en skrywers. Een van die eerste projekte wat deur die IPW geloods word, is die Cities of Asylum Network (INCA) om toevlug te verskaf aan skrywers wat in hulle lande van herkoms vervolg word.
Na die aanbreek van die Nuwe Suid-Afrika het daar nuwe sensuuronweerswolke op die plaaslike horison verskyn, soos die beoogde Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting (die “muilbandwet”) en ’n voorgestelde mediatribunaal. Hierdie ontwikkelinge ontlok sterkbewoorde verklarings van onder andere PEN South Africa en PEN International. Breytenbach bepleit in ’n volbladartikel op 21 November 2010 in Rapport Weekliks skrywersoptrede teen die beoogde wetgewing en die beskerming en uitbouing van “die vrye woord”. Die inisiatief loop uit op die stigting in Maart 2012 van ’n nuwe skrywersvereniging, die kortstondige Afrikaanse Skrywersunie. In Oktober 2012 smelt hierdie inisiatief saam met die herkonstitueerde PEN Pretoria (wat lank dormant was) as die nuwe liggaam PEN Afrikaans. Hierdie instelling is sedertdien ’n welluidende kritiese stem teen enige onredelike beperking op vryheid van spraak en persvryheid asook teen wetsontwerpe en beleidsrigtings wat tot nadeel van skrywers, uitgewers en lesers kan wees, soos die protesaksie sedert November 2018 teen die beoogde Wysigingswetsontwerp op Outeursreg omdat dit nie ’n billike balans tussen die belange van die skrywer en die belange van die publiek daarstel nie.7
Ek het jou boek jare gelede as student gelees – kort na die verskyning dus – en dit was genoeglik om weer daardeur te blaai. Jy vang ’n donker deel van ons land se kultuurgeskiedenis hier vas, en Breytenbach en ander skrywers om hom heen was indringend betrokke by die geveg teen apartheid. Wil jy iets daaroor sê?
Ek is bly dat jy as student die boek gelees het.
My ondersoek het my tot die gevolgtrekking gebring dat Breytenbach nie slegs ’n sleutelrol in die stryd binne en tussen die literêre, politieke en joernalistieke sisteme van die 1960’s tot die einde van die 1980’s gespeel het nie, maar in ’n omvattende kultuurstryd. Hy het ’n bydrae gelewer tot die vorming van interne sisteempolariserings, wat weer gelei het tot die ontstaan van subsisteme soos die Sestigers en ander groeperinge, avant-garde-poësie, betrokke en politieke literatuur, ens. Binne die politieke sisteem was hy ’n stukrag ten opsigte van die polarisering verkramp/verlig en later die polarisering hervormingsgesind/alternatief/radikaal. Hy het ook ’n rol gespeel om polariserings binne die joernalistieke sisteem na vore te bring. Ewe belangrik was sy rol ten opsigte van die kritiese bevraagtekening van sleutelkodes binne die sisteme, soos “Afrikanerskap”, “verlig”, “teks-as-woordwêreld” en “betrokkenheid”. Hy het tot die hart van (dikwels verskuilde) waardesisteme deurgedring, op welsprekende wyse die hart van die apartheidsideologie aangeval en die hegemonie uitgedaag.
Hoe het die politieke klimaat van die tyd jou navorsing en die ontwikkeling, verskyning en resepsie van die boek beïnvloed?
My navorsing en die proses wat uitgeloop het op die publikasie van die boek het in fases afgespeel in die konteks van die 1980’s. Terugskouend kan ek drie fases as volg onderskei:
Die eerste fase is die navorsing vir my doktorale proefskrif, “Breyten Breytenbach – Die skrywer as openbare figuur” (UOVS, 1986; onder promotorskap van JH Senekal en medepromotorskap van Charles Malan). Terwyl ek die navorsing onderneem het, was ek werksaam binne ’n bepaalde institusionele omgewing, naamlik die eertydse Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (Sensal) van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN, ’n semistaatsinstelling in 1968 gestig), waar Charles Malan die hoof van Sensal was en wat baanbrekende werk oor taalgrense vir die Suid-Afrikaanse literatuursisteme gedoen het. In hierdie tyd moes ek sterk bedenkinge en selfs teenkanting oor my invalshoek en benadering oorkom (wat ook ’n vorm van sensuur en inperking was). My aanvanklike idee was om ’n weliswaar toe vernuwende, maar “veilige” resepsiestudie van die ontvangs van Breytenbach se digbundels te onderneem. In die proses van bronverkenning het die fokus verbreed om ook beriggewing oor sy omstrede openbare uitsprake en optrede, asook die hewige openbare reaksie wat hy uit die geledere van wit Afrikaanssprekendes ontlok het, te verreken. Hierdie soort literatuursosiologiese en sisteembenadering was “volksvreemd” in die destyds heersende navorsingsparadigma en ek moes dikwels my sienings en bevindinge (moedig) verdedig en vasskop teen die afwatering daarvan. Op die bedankingsbladsy van die proefskrif moes ek aandui: “Menings in hierdie werk uitgespreek of gevolgtrekkings waartoe geraak is, is die navorser s’n, en nie bedoel as ’n weergawe van die menings en gevolgtrekkings van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing nie.”
Die tweede fase was die een van manuskripontwikkeling en postdoktorale navorsing. Na die voltooiing van die proefskrif het ek dit in manuskripformaat verpak en voelers vir moontlike publikasie uitgesteek na ’n paar uitgewerye. Voor ek in Augustus 1988 op ’n postdoktorale navorsingsreis na Amsterdam vertrek het, het ek die manuskrip by ’n belangstellende uitgewer ingedien, met dieselfde soort skadeloosstelling van die RGN wat ek in die proefskrif moes onderneem.
In Amsterdam en Den Haag het ek navorsing gedoen oor die resepsie van Breytenbach in Nederland (by die Stichting ZASM by Keizersgracht 141, uitgewery- en koerantargiewe, die dokumentasiesentrum in Den Haag en selfs by die kantoor van die Zuidelijke Afrika Komitee van die Anti-Apartheidsbeweging waar ek ten minste toegang tot Sechaba, die amptelike spreekbuis van die verbode ANC, kon kry). In Suid-Afrika het die noodtoestande talle nuwe beperkings aan die versetbeweging opgelê en daar was gereeld berigte oor die situasie in die Nederlandse pers. Oor die algemeen is ek hulpvaardig ontvang by die instellings waar ek navorsing gedoen het.
Ek het ook toegang gekry tot die privaatargiewe van Breytenbach-kenners. Ek het egter ’n bloutjie geloop by die Anne Frank Stichting wat ’n duplikaatstel van Adriaan van Dis se dokumentversameling oor Breytenbach gehad het en wat dit vir navorsers beskikbaar gestel het. Ek het by twee geleenthede die Stichting besoek en verduidelik wat my navorsing behels en dat ek bewus is van die Van Dis-versameling. Elke keer was die kortaf reaksie, volgens ’n inskrywing in my dagboek, iets soos “Ons het niks oor Suid-Afrika nie.” Dit was vir my duidelik dat my besoek (en versoek) ’n verleentheid vir die Stichting was. Hierna het ek persoonlik kontak gemaak met Van Dis en hy het my genooi om aan sy huis deur die dokumente te werk, wat ek toe ook gedoen het.
Jare later het ek vir die Belgiese digter en joernalis Herman de Coninck van hierdie voorval vertel toe hy in 1996 deel was van die eerste “rondreis van Nederlandse en Vlaamse skrywers” in Suid-Afrika. Ek was die plaaslike koördineerder van hierdie gebeurtenis wat deur die Nederlandse Taalunie georganiseer is, uitgaande van die inisiatief van Martin Mooij van Poetry International en Breytenbach. De Coninck verwys vlugtig daarna in sy boek De cowboybroek: “Francis Galloway, die eind jaren tachtig doctoreerde over Breyten Breytenbach, werd de toegang tot het huis van de Anne Frank-stichting ontzegd.” De Coninck se biograaf, Thomas Eyskens, noem in e-pos-korrespondensie aan my dat De Coninck die verwysing na dié voorval “gebruikte als voorbeeld om de absurditeit van de culturele boycot aan te tonen”.
Aan die einde van die Nederlandse verblyf het ek met ’n kloppende hart al die honderde fotostate wat ek gemaak het (ook van tekste in bronne wat destyds in Suid-Afrika verbode was) in pakkies opgemaak wat per seepos huis toe versend is met die hoop dat alles veilig sal aanland en nie deur die doeane gekonfiskeer sal word nie. Alles het wel veilig aangekom.
By my terugkeer het daar egter byna ’n ander deur vir my toegegaan.
Terwyl ek in Nederland was, is die produksiewerk aan die manuskrip van die Breytenbach-boek by die plaaslike uitgewer gestaak op aandrang van my departementshoof. Hierdie ontwikkeling was deel van ’n ingewikkelde stukkie institusionele geskiedenis wat nie hier vertel gaan word nie. Alhoewel dit ’n groot skok was, het ek die geleentheid gebruik om my argumente te verstewig en om die manuskrip aan te vul met nuwe navorsing oor gebeure wat nie in die proefskrif en aanvanklike manuskrip gedek was nie.
Die derde fase was natuurlik die publikasie van die boek. Die bygewerkte manuskrip is later in 1989 deur HAUM-Literêr vir publikasie aanvaar en dit het in 1990 in produksie gegaan. Die politieke konteks het uiteraard verander na die aankondigings op 2 Februarie deur staatspresident FW de Klerk oor die opheffing van die beperkings op die bevrydingsorganisasies en op 11 Februarie oor die ontperking van die ANC en ander verbode politieke organisasies en die vrylating van Nelson Mandela. Hierdie gebeure het groot impak gehad op instellings soos die RGN. Die organisasie maak te midde van snelle politieke hervorming en die meegaande navorsingsfokusse ’n dramatiese koersaanpassing ten einde groter legitimiteit te verkry. Soos ek hier bo aangedui het, het die boek in September 1990 verskyn. Ek was toe al ’n jaar lank die hoof van Sensal nadat Charles Malan in ’n soort paleisrevolusie onthef is van dié bestuurspos, en hy kon op ’n nuwe navorsingsinisiatief fokus.8
In my voorwoord tot die boek hoef ek nou geen vrywaringsklousule aan te bring nie, maar kan ek my dank en waardering uitspreek betreffende die benutting van die kosbare dokumentversameling (gehuisves in die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Kunste-inligting, Saski) van die RGN. Op 1 Oktober 1990 hou Sensal (en dus oorkoepelende projekte soos die jaaroorsigreeks SA Literature/Literatuur) en die ander kunstesentra van die RGN op om te bestaan. ’n Jaar later word die inhoud van Saski oorgeplaas na die Staatsargief in Pretoria, waar dit sedertdien geen verdere aandag ontvang nie. Hierdie verlies van ’n navorsingsinstelling en dokumentasiesentrum en die impak daarvan op argivale navorsing oor die letterkunde en kunste was ’n voorloper van die groter lotgevalle wat sou volg. ’n Nuwe bedeling het aangebreek vir kunstenavorsing en -ondersteuning.9
Het die aanbreek van die nuwe daeraad ’n impak gehad op die resepsie van die boek? Die verskyning van die boek het wye belangstelling en positiewe reaksie geniet, met resensies in ’n verskeidenheid koerante (hoofstroom en “alternatief”) en vaktydskrifte, onderhoude met my, radiobesprekings en ’n dokumentêre insetsel op ’n destydse kultuurjoernaalprogram op SABC-televisie. Telkens het die resensente die “nuwe paradigma”-benadering aangeprys. Een resensent (wat wel meen dit is ’n “moeisame boek”) het daarop gewys dat Breytenbach die rebelse, anti-establishment stem verteenwoordig wat dit duidelik gemaak “dat daar ’n Afrikaanse identiteit moontlik is wat apartheid en sy produkte verafsku, maar wat steeds in Afrikaans bly skryf en dink en droom”.10
Die historikus Heinie Heydenrych beklemtoon onder andere die volgende verdienste van die boek:
Dit moes moed gekos het om ’n boek soos hierdie te skryf in die era voor FW de Klerk, voor 2 Februarie 1990. Galloway het baie van Breytenbach se standpunte en uitsprake neergepen toe dit nog as ondenkbaar en as verraad beskou is – toe Breytenbach en andere wat met die ANC gepraat het, as verraaiers beskou en uitgekryt is. En sy het Suid-Afrikaners se soms power teen-argumente weergegee sonder om doelbewus mense aan die kaak te stel. Sy het hulle bloot in hulle tydkonteks laat praat [...]. Daar is ’n hele paar mense in hoë kringe én letterkundiges wat ongemaklik sal rondskuif by die lees van hulle uitsprake van nie te lank gelede nie. Dit geld ook vir lede van die publiek. In die huidige (en enige ander) konteks vorm dit fassinerende leesstof wat verskuiwende Afrikanerdenke dramaties belig.11
Mens kan maar net bespiegel oor die ontvangs wat die boek te beurt sou geval het as dit voor 1990 verskyn het.
Het jy voortgegaan om navorsing oor Breytenbach as openbare figuur te onderneem na die verskyning van die boek in 1990? En hoe kan sy rol en bydrae in die postapartheid konteks gesien word?
Ja, dit bly ’n volgehoue bemoeienis en ek het in verskillende latere bydraes voortgebou op my verkenning. Een daarvan word dikwels benut as navorsingsbron,12 waarin die sikliese ritme waarop die “volk” en Breytenbach mekaar omhels en afstoot, aan die hand van ’n aantal resepsiedebakels tot 2001 toegelig word.
Ek is die redakteur van ’n essaybundel wat in 2019 op Breytenbach se 80ste verjaardag vrygestel is.13 Daarvoor het ek ’n oorsig van sy loopbaan as skrywer en openbare figuur tot op hede saamgestel. Met die aanbreek van die demokratiese era in Suid-Afrika breek daar vir Breytenbach ook ’n era van verhoogde kreatiwiteit, asook bemoeiing met en inisiëring van plaaslike skrywers- en ander kulturele aktiwiteite aan wat in die teken staan van beloning en bekroning, maar ook polemiek en ontsteltenis uit verskillende oorde. In die “Nuwe Suid-Afrika” bly hy getrou aan die rol wat hy reeds in 1964, die jaar van sy skrywersdebuut, uitgespel het vir die Afrikaanse skrywer en intellektueel: “Hy moet ook die gewete van sy gemeenskap beliggaam. Hy moet vooruit kan kyk en waarsku as hy dink ons raak die weg kwyt. [...] Hy bewaar ons gemeenskaplike ervaring, van die voetspore van ons langsame evolusie.”14
Wat kan (jonger) lesers by die algemene beskikbaarheid van Breyten Breytenbach as openbare figuur op die DBNL baat?
Min studente het waarskynlik soos jy destyds die boek aangekoop (of het jy dit in die biblioteek gevind?). Een van die resensente het destyds daarop gewys dat die boek ’n unieke navorsingsbron is, hoewel die prys van R65,50 vir studente nogal afskrikwekkend sal wees. Koop studente vandag nog hoegenaamd akademiese studies van hierdie aard? Die algemene beskikbaarheid van die bron in die DBNL behoort dus nuttig te wees vir studente wat wel vandag nog opleiding kry in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis en van die Sestigers en die sogenaamde Tagtigers leer. Onlangs het ek selfs in ’n fotoartikel in die byderwetse onafhanklike webjoernaal, klyntji.com, ’n verwysing na die gratis beskikbaarheid van die boek raakgelees: 15 “Dit is ietwat akademies, maar ’n sterk aanspraakmaker om as ambisieuse vakansieleesstof aangepak te word.”
Of die boek nog tersaaklike aangeleenthede aanspreek in ’n era waarin Afrikaans (en witheid) onder druk staan? Ek glo wel mens moet weet waar jy vandaan kom (die hoofstroomgeskiedenis asook die alternatiewe narratief daaromheen) om jou eie pad vorentoe te vind. Dis soos om eers die klassieke kitaar te begryp sodat jy kan improviseer en vernuwe.
Eindnotas
1 Galloway, F en R (MR) Venter. 2015. Die Afrikaanse uitgewersbedryf. In HP van Coller (red) Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 3, bl 373.
2 Galloway, F en R (MR) Venter. 2015. Die Afrikaanse uitgewersbedryf. In HP van Coller (red) Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 3, bl 456.
3 Galloway, F. 1990. Breyten Breytenbach as openbare figuur. Pretoria: HAUM Literêr, bl 218.
4 Breytenbach, B. 2015. The writer and responsibility. Parool/Parole. Versamelde toesprake / Collected speeches. Kaapstad: Penguin Books, ble 24–32.
5 Kannemeyer, JC. 2012. JM Coetzee. ’n Geskryfde lewe. Johannesburg en Kaapstad: Jonathan Ball Uitgewers, ble 444 en 446.
6 Breytenbach, B. 1986. “Black on white”. End papers. Londen: Faber & Faber, ble 201–6.
7 Galloway, F (red). 2019. breyten breytenbach: woordenaar woornar – ’n huldiging. Pretoria: Protea Boekhuis, ble 270–3.
8 Van Wyk, P. 1989. Charles Malan uit ná SENSAL-druk. Rapport, 6 Augustus, ble 1–2.
9 Sien Johann Lodewyk Marais oor die teleurgang van SENSAL op Versindaba (https://versindaba.co.za/2009/07/05/sensal-se-teleurgang) asook die uitgawe van die tydskrif Ensovoort wat fokus op erfenisbewaring en spesifiek NALN toe dié instansie onder geweldige druk gekom het (https://ia601605.us.archive.org/10/items/ensovoort13unse/ensovoort13unse.pdf).
10 Van Vuuren, H. 1990. ’n Moeisame boek oor Breytenbach. Vrye Weekblad, 14 Desember 1990, bl 14.
11 Heydenrych, H. 1991. Resensie: Breyten Breytenbach as openbare figuur. Suid-Afrikaanse Historiese Joernaal, 25:287–9.
12 Galloway, F. 2004. “‘Ek is nie meer een van ons nie’: Breyten en die volk”. Tydskrif vir Letterkunde, 41(1):5–38. https://journals.assaf.org.za/index.php/tvl/article/view/4918.
13 Galloway, F (red). 2019. breyten breytenbach: woordenaar woordnar – ’n huldiging. Pretoria: Protea Boekhuis.
14 Breytenbach, B. 1964. Die swart kaart. Sestiger, 2(1):6–13.
15 Troskie, E. 2020. Foto's van 'n jong Breyten Breytenbach, meestal in 'n pak. Klyntje.com. https://klyntji.com/joernaal/2020/10/25/fotos-van-breyten-breytenbach-meestal-in-pak.
Lees ook:
Bande tussen Breyten Breytenbach en die Lae Lande verken in internasionale tydskrif
Francis Galloway gesels met Breyten Breytenbach oor die Dansende Digters Fees
Foto’s met vergunning van die skrywer gebruik.