Ek het in 2006 in Nederland gaan au pair en verlief geraak op die land, taal en kultuur.
Ek het veral ’n sterk gevoel van ons erfenis beleef en dit het bly groei, selfs na my terugkeer na Suid-Afrika.
Ek het Afrikaans aan Unisa studeer en daarna my nagraadse onderwyssertifikaat deur dieselfde instansie verwerf. Gedurende hierdie tyd het ek Afrikaans gegee by Gill Kollege in Somerset-Oos, een van die oudste skole in ons land.
Ek werk tans by die Hoërskool Bellville, waar tradisie en ons erfenis baie belangrik is.
Die droom om leerders bloot te stel aan ons herkoms, die herkoms van ons taal en die erfenis wat vandag nog in elke woord lewe, het my gemotiveer om hierdie projek aan te pak.
Dit was geen maklike taak nie, maar een van dié verrykendste ondervindings van my lewe om saam met leerders in die Zuid-Afrikahuis se biblioteek in Amsterdam te staan, omring deur Afrikaanse boeke!
En om te sien hoe die voorgeskrewe gedigte “Van Gogh” en “Twee kleuters in die Vondelpark” vir hulle ’n werklikheid word, het my diep ontroer. “Wie wat bewaart, die heeft wat.”