’n Skool van ’n voorstad van Kaapstad verken Nederland

  • 0

Die groep Hoërskool Bellville leerders wat vanjaar Nederland gaan besoek. Voor sit Amy Brits en Ané Louw. Agter van links na regs is Alecia Gaven, Lizelle Botes, Miguella Kennedy, Kaylynn Brand, Curtly Coetzee, Bianca Horne en Lize-Mari Burger.

Die Hoërskool Bellville, in die noordelike voorstad van Kaapstad, Bellville, gaan vanjaar weer op ’n skooltoer Nederland toe met die doel om hul horisonne te verbreed.

Volgens Hanmari Pretorius, ’n Afrikaans-onderwyseres by die skool wat die leerders op die toer vergesel, is een van die doelstellings met die toer om leerders bewus te maak van die skakel tussen Nederlands en Afrikaans. Die toer het ook ten doel om leerders se liefde vir Afrikaans te verdiep.

Hanmari vertel meer.

......................

Waarom het julle oorspronklik besluit om ’n skooltoer na Nederland aan te pak?

Daar het by Hoërskool Bellville ’n behoefte ontstaan om leerders te bemagtig en toe te rus met ’n dieper kennis en begrip van ons Nederlandse herkoms as Afrikaanssprekendes.

Verlede jaar se groep leerders het onder andere die Zuid-Afrikahuis besoek

Wat is die doel van die toer?

Ons wil ook ’n liefde vir die taal by die leerders kweek en leerders aanmoedig om te presteer.

Ons wil leerders wys hoe Suid-Afrika met die Weste vergelyk deur leerders na akademies instellings soos die Universiteit van Leiden se taalfakulteit en die Scope School in Alphen aan den Rijn te neem sodat hulle hulle horisonne kan verbreed en hulle bewus kan word van die moontlikhede wat Afrikaans vir hulle kan inhou.

Julle het verlede jaar ook ’n soortgelyke toer aangepak – wat het jy as onderwyseres die meeste van verlede jaar se toer geniet? Wat was sommige van die hoogtepunte?

Verlede jaar se toer het my stoutste verwagtinge oortref. Omdat ek Nederlands magtig is, het dit my baie gehelp met die reëlings en dag-tot-dag-kommunikasie.

Ek het dit die meeste geniet om te sien hoe die kinders se begrip van sekere aspekte van ons Afrikaans-kurrikulum vir hulle lewe gekry het. Ons het die voorgeskrewe gedig “Van Gogh” bespreek na ’n besoek aan die Van Gogh Museum, wat vir leerders ’n groot hoogtepunt was.

Ons het in die Vondelpark gesit en die voorgeskrewe gedig “Twee kleuters in die Vondelpark” gelees en bespreek.

Die besoek aan die Anne Frank-huis was vir baie leerders ’n groot hoogtepunt. Die besoek aan die Leidse Universiteit, Scope School en Zuid-Afrikahuis het ook uitgestaan.

Verlede jaar se groep leerders by die Zuid-Afrikahuis

Beplan julle om die toer ’n jaarlikse instelling te maak?

Die toer gaan beslis ’n jaarlikse instelling wees. Ons is reeds besig met reëlings vir hierdie jaar se toer en ons vertrek op 21 September na Amsterdam.

Watter besienswaardighede beplan julle om vanjaar te besoek en waarom juis daardie besienswaardighede?

  • Die Rijksmuseum, Amsterdam
  • Die Van Gogh Museum, Amsterdam
  • Kamp Westerbork (voormalige Nazi-konsentrasiekamp), Assen
  • Anne Frank Museum, Amsterdam
  • Leidse Universiteit, Leiden
  • Muurgedichten, Leiden
  • Scope School Het Groene Hart Lycium, Alphen aan den Rijn
  • Madurodam, Den Haag
  • Mauritshuis, Den Haag
  • Volendam Klompenmakerij, Volendam
  • Zuid-Afrikahuis, Amsterdam
  • Nieuwe Kerk, Amsterdam
  • Vondelpark, Amsterdam
  • Koninklijk Paleis, Amsterdam.

Die rede vir die besoek aan die universiteit, skool, Zuid-Afrikahuis en Muurgedichten in Leiden het alles te make met die bou van die begrip oor waar ons taal vandaan kom en waarom dit relevant bly, al is dit ’n minderheidstaal.

Veral die bespreking van die voorgeskrewe gedigte is ’n groot hoogtepunt op die reisplan, tesame met die besoek aan die skool en universiteit. Die res van die besienswaardighede is gekies op grond van geskiedkundige en kulturele waarde.

Hanmari Pretorius speel klavier by die Zuid-Afrikahuis tydens verlede jaar se toer

Waarom voel jy is dit belangrik om ’n liefde vir taal en taalherkoms by skoolleerders te kweek?

Daar is ’n Nederlandse gesegde wat lui: “Wie wat bewaart, die heeft wat.” Om te weet wie jy is en waar jy vandaan kom, is ’n inherente menslike behoefte.

Om te weet waar die woorde wat jou diepste emosies uitdruk vandaan kom, maak elke woord ’n skatkis van moontlikhede.

Ek probeer dit by my leerders inskerp dat taal die sterkste wapen is wat hulle tot hulle beskikking het en dat dit gebruik kan word eerder om heel te maak as om te verwond.

  • Foto’s: verskaf

Lees ook 

Jongerenprojek Netwerk 2019

Verslag Jongerenproject 2018

LitNet-argief: Vyf Suid-Afrikaners en die Taalunie Zomercursus Nederlands (TZN) 2017

Bezoek uit Bellville

Meestergraadstudies in Londen: ’n onderhoud met Marina Pienaar

Leuven-studie-uitruil: ’n onderhoud met Sandri Smit

Meestersgraadstudies in Frankryk: ’n onderhoud met Janet Vermaak

Kuils River law student heading to the Netherlands on prestigious Mandela Scholarship

België-studie-uitruil en die Jongerenprojek: ’n onderhoud met Aletta Simpson

Den Haag-studie-uitruil: ’n onderhoud met Tenita Kidelo

Leiden-studie-uitruil: ’n onderhoud met Carmi Britz

Duitsland-studie-uitruil: ’n onderhoud met Giselle Botha     

Groningen-studie-uitruil: ’n onderhoud met Shawna-Leze Meiring

Leiden-studie-uitruil: onderhoud met Marlies Haupt

African ties to the "hermit kingdom": an interview with Leiden University PhD student, Tycho van der Hoog

"The gift of the Nile is shared by 11 countries with various ethnicities, cultures and needs" – an interview with Leiden University PhD student, Abeer Abazeed

"Especially poor women with diabetes suffer in South-Africa": An interview with Chipo Mutyambizi, PhD student

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top