Groningen-studie-uitruil: ’n onderhoud met Shawna-Leze Meiring

  • 0

Shawna-Leze Meiring

Talle Suid-Afrikaanse studente besoek Nederland jaarliks as deel van studie-uitruilprogramme. Shawna-Leze Meiring, afkomstig van die Oos-Rand in Gauteng, is een so ’n persoon.

Shawna-Leze het aan die Universiteit van Groningen studeer as uitruilstudent as deel van haar nagraadse studie in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria.

Tans werk sy as assistentuitgewer van kinder- en jeugboeke by LAPA Uitgewers in Pretoria.

Sy vertel meer oor haar Europese avonture.

Shawna-Leze, jy was tot onlangs nog ’n student. Wat het jy studeer?

Ek het by die Universiteit van Pretoria geswot. Daar het ek verlede jaar toe my MA in Afrikaans voltooi.  

Waarom het jy juis dit studeer – waar kom jou liefde vir jou studieveld vandaan?

Soos die meeste letterkundestudente het ek ’n groot liefde vir stories. Ek kom uit ’n gesin van lesers en noudat ek terugdink, is dit so duidelik dat ek ná skool iets met boeke sou doen. Voorgraads het ek uitgewerswese studeer en toe besluit ek om tog nog vir ’n ruk met stories self besig te bly. Daarom het ek nagraads verder in letterkunde studeer. Op die oomblik werk ek as assistentuitgewer by LAPA.

By Park Guell in Barcelona

Tydens jou studies het jy Nederland besoek – was dit deel van ’n uitruilprogram? Vertel asseblief meer.

Ek wou vreeslik graag vir ’n ruk in Nederland gaan woon. Ek het ’n beurs gekry wat my toegelaat het om in Nederland aan my MA te werk. Ek het toe vir ’n paar maande in Groningen in die noorde in ’n studentehuis gebly.

Was dit die eerste keer dat jy Nederland besoek het? En hoe lank was jy daar?

Nee, dit was nie die eerste keer nie. ’n Vorige keer was ek deel van die Jongerenprojek waar ons vir drie weke deur die Lae Lande getoer het.

Ek het soveel as moontlik poffertjes geëet.

Verlede jaar was ek uiteindelik ses maande in Europa – van Februarie tot Augustus. Ek het vyf maande lank in Groningen gebly en toe ’n maand lank op ’n tipe Eurotrip gegaan. In hierdie maand het ek 10 lande besoek (wat mal klink as ek nou daaraan dink). Die lande wat ek besoek het, was Frankryk (Parys), Denemarke (Odense), Pole (Krakau), Tsjeggië (Praag), Oostenryk (Wene), Slowakye (Bratislava), Hongarye (Boedapest), Italië (Venesië), Spanje (Barcelona) en Duitsland (Berlyn).

Wat was jou eerste indrukke van Nederland toe jy van die vliegtuig afgeklim het?

Dit was koud en grys, nogal die uitsig wat ek in Februarie verwag het. Tog was ek baie opgewonde vir die avontuur.

Op die eiland Schiermonnikoog

Hoe verskil ’n universiteit in Nederland van ’n Suid-Afrikaanse universiteit?

Ek dink nie daar is só baie verskille nie. Iets soos die klasgeestyl van die meeste dosente het ooreengestem met wat ek by my dosente ervaar het. Wat my wel opgeval het, was hoe baie nagraadse studente daar was. In die meestersklasse wat ek bygewoon het, was daar omtrent 15–20 studente in ’n klas. Ek dink ook Nederlandse en ander Europese studente sal graag hulle menings in die klas lug terwyl ek soms gehuiwer het om iets te sê. Ek is nie heeltemal seker hoekom ons Afrikaanse (miskien selfs Engelse?) studente ’n bietjie bang is om te praat in die klas nie.

Ek het saam met ’n groep Spaanse vriendinne die Wêreldsokkerbeker gekyk.

Hoe verskil Nederland en Suid-Afrika oor die algemeen vir jou?

Behalwe die ooglopende verskille soos die publieke vervoer, tipe kosse, en kuiers op terrasjes, het ek baie waardering vir die openbare debatte wat gevoer word. Om te sien hoe debatte op ’n (meestal) sinvolle en logiese manier gevoer word, is wonderlik. Die Nederlanders wat ek ontmoet het, was ook oopkop en belangstellend. Ek dink dit het dalk te doen met die leeskultuur, wat groter blyk te wees. Ek bedoel, dink maar aan die Boekenweek wat ’n hele ding is! Selfs ek en ’n Kanadese vriendin, wat nie ’n woord Nederlands verstaan nie, het elkeen ’n boek gaan koop om die cadeau te kry. Ons het daardie Sondag gratis in die treine na Maastricht gery – jy moes net die cadeau by jou hê.

Op besoek aan Delft

Ek het ook die nagkultuur geniet – jou dag voel soveel langer as die son eers 10-uur in die aand sak. Saam met die mense in my studentehuis het ek dikwels tot laat op ’n terrasje gekuier.

Dis ook maklik om tussen die buurlande in Europa te reis. Dit sou so gerieflik gewees het as ons so maklik na Suid-Afrika se buurlande kon reis.

In Boedapest in Hongarye

Het jy enigiets nuuts oor die Nederlandse taal en kultuur geleer?

Ek dink my Nederlands het tog verbeter terwyl ek daar was. ’n Taal moet geoefen word en ek het soveel as moontlik probeer om Nederlands te praat – al maak ek erg embarrassing foute. Ek sukkel nog ’n bietjie met die aksent.

Op ’n gondola in Venesië

Ek verstaan nou hoekom Nederlanders geneig is om slank te wees. As ek my hele lewe lank so baie fiets gery het, in alle tipes weerstoestande, sou ek ook my daaglikse brood kon eet en dit geniet!

In Barcelona

Wat was jou gunsteling- Nederlandse besienswaardighede?

Die noorde was pragtig vir my. Leeuwarden en Schiermonnikoog, een van die eilande, is gunstelinge.

Ek’s ook mal oor Utrecht – besig, oud, lewendig, histories. Dit was veral die tweedehandseklerewinkels met vintageklere wat my aandag getrek het. Die restaurante en koffieplekke is ook nogal hipster en het ’n lekker atmosfeer.

Saam met die mense van my studentehuis. Ons het gereeld aandete geëet.

Wat was die hoogtepunt van jou besoek?

Te veel dinge! Kan ek ’n lysie maak? 😉

Saam met ’n paar vriendinne by Keukenhof

Hoogtepunte was:

  • Om in Groningen te kon bly. Ag, ek raak skoon liries oor die stad.
  • Om so vrylik en gemaklik op my fiets te kon ry. Dit was net vir my ’n groot uitdaging om die GPS op my foon te volg. Die tannie se “turn left” was nooit die onmiddellike links nie. Ek het in sirkels gery, in mense vasgery, geval, en ek het die battle scars om te wys.
  • Om in ’n studentehuis te kon bly. Dit het beteken dat ek heelwat internasionale studente ontmoet het. Dit was vir my ’n goeie situasie, want ek het met Nederlanders én ander internasionale mense te doen gekry.
  • Om baie boeke te kon koop. Ek het inderwaarheid soveel boeke gekoop (en min kos) dat ek van my klere moes weggee (!) om die boeke in my tas te pas. My hart is ’n klein bietjie seer oor die klere, maar ek het my boekies.
  • Die maand toe ek deur Europa gereis het. Op groot gedeeltes van my reis kon ek by vriende bly wat ek in die studentehuis ontmoet het.

Foto’s: Shawna-Leze Meiring

............

Lees ook

Meestergraadstudies in Londen: ’n onderhoud met Marina Pienaar

Leuven-studie-uitruil: ’n onderhoud met Sandri Smit

Meestersgraadstudies in Frankryk: ’n onderhoud met Janet Vermaak

Kuils River law student heading to the Netherlands on prestigious Mandela Scholarship

België-studie-uitruil en die Jongerenprojek: ’n onderhoud met Aletta Simpson

Leiden-studie-uitruil: ’n onderhoud met Carmi Britz

Den Haag-studie-uitruil: ’n onderhoud met Tenita Kidelo

Duitsland-studie-uitruil: ’n onderhoud met Giselle Botha     

Leiden-studie-uitruil: onderhoud met Marlies Haupt

African ties to the "hermit kingdom": an interview with Leiden University PhD student, Tycho van der Hoog

"The gift of the Nile is shared by 11 countries with various ethnicities, cultures and needs" – an interview with Leiden University PhD student, Abeer Abazeed

"Especially poor women with diabetes suffer in South-Africa": An interview with Chipo Mutyambizi, PhD student

Jongerenprojek Netwerk 2019

Verslag Jongerenproject 2018

LitNet-argief: Vyf Suid-Afrikaners en die Taalunie Zomercursus Nederlands (TZN) 2017

’n Skool van ’n voorstad van Kaapstad verken Nederland

Bezoek uit Bellville

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top