Jongerenprojek Netwerk 2019

  • 0

Die Engelse uitdrukking: “When in Rome, do as the Romans do”, het nuwe betekenis gekry in die tyd van 29 Junie tot 21 Julie.

’n Groep van elf Suid-Afrikaanse studente en twee begeleiers het met oë vol verwagting op Brussel Lughawe geland.

Verwagtinge en onsekerheid was twee sterk emosies wat almal ervaar het. Vir baie van die studente was dit hul eerste kennismaking met die buiteland.

Op die stoep van die Zuid-Afrikahuis, Amsterdam / Foto: Paul van Putten Fotografie

Die avontuur begin: België

Die program het in Gent begin. ’n Beter begin kon niemand voor gevra het nie. Ons het by Hostel Uppelink gebly, teenaan die Graslei. Die Graslei was ons ken-mekaar-plek. Ons het soveel aande daar deurgebring en net lekker gesels. Die studente het selfs ’n klompie Belgiërs leer sokkie op die Graslei.

Sokkie op ’n boot op die IJsselmeer / Foto: Paul van Putten Fotografie

Tydens ons besoek aan Gent het ons ook klas gehad by Universiteit Gent. Lesings is gehou oor die geografiese agtergrond van die Lae Lande, Nederlandse letterkunde, die Vlaamse media en ook Het Lam Gods. Elke dag se lesing was ter voorbereiding van die dag se aktiwiteite en besienswaardighede.

Een van die hoogtepunte was ’n bier-en-sjokoladetoer deur Gent. Nie net het ons verskillende Belgiese sjokolades en biere geproe nie, maar ons het staaltjies en verhale gehoor oor dié stad en sy geboue.

Dit was ’n prettige manier om die stad te leer ken en ook sy geskiedenis te ervaar.

In België het ons ondermeer Brussel, Leuven en Hasselt besoek. Dit was ook in Brussel waar ons ons eerste gasteouers ontmoet het.

Grote Markt, Brussel

Gasteouers speel ’n baie belangrike rol in dié toer. Gastegesinne bied aan die studente die geleentheid om die kultuur en taal eerstehands te ervaar. Om vir ’n aantal dae saam in hul huise te bly en deel te wees van hul daaglikse roetine dra by tot dié ongelooflike ervaring. Studente was behoorlik bederf by hul gastegesinne en ’n hele paar het steeds kontak met hul gastegesinne.

Nog ’n hoogtepunt was Bokrijk. Die buitelugmuseum was interaktief, maar ook vol geskiedenis.

Nederland

En so pak ons ons tasse en vertrek ons van Hasselt na Den Haag. Sovêr het die studente behoorlik kennis gemaak met die publieke vervoer, maar om per trein met al ons bagasie van Hasselt na Den Haag te reis, was ’n senutergende ervaring.

Om vier “overstappen” te hê en te hardloop na die volgende platform het vir groot opwinding gesorg, maar ook ’n positiewe impak op die groep se dinamiek en spanbou gehad. Gou is daar planne beraam. Wie laai die tasse op die trein, wie gee aan, wie pak die tasse weg en wie laai weer die tasse af. ’n Geoliede masjien!

Ons eerste kennismaking van Nederland was in die pragtige stad Den Haag. Die uitstappies na Leiden, Kinderdijk en Rotterdam het bygedra tot ’n goeie balans en baie agtergrond.

Die studente het ook die besoek aan die Tweede Kamer baie geniet.

Amsterdam was ook natuurlik ’n stad waarna die studente baie uitgesien het. Tydens ons verblyf in Amsterdam het ons die Bijlmer en Utrecht besoek.

Een van die lekkerste aktiwiteite was die teaterwerkswinkel by die Bijlmer Parktheater. Ook die besoek aan die Rijksmuseum en die seiltog van Monnickendam na Amsterdam het vir groot opwinding gesorg.

Teaterwerkswinkel by die Bijlmer Parktheater / Foto: Paul van Putten Fotografie

Ons laaste bestemming was die Hooge Veluwe. Die laaste twee dae was rustiger. Die studente het die geleentheid gekry om deur die park te “fietsen” en het ook die Kröller-Müller Museum besoek.

Op pad na die Hoge Veluwe het ons ook ’n begeleide toer by Kamp Amersfoort en by Kasteel Muiderslot gehad.

“Fietsen” oor die Veluwe / Foto: Paul van Putten Fotografie

Ten slotte

Baie studente het aan die einde van die toer vir my kom sê dat hulle nie kan glo hoeveel plekke ons besoek het in net drie weke nie.

Hulle kan nie glo hoe hul kennis van die Lae Lande in net drie weke uitgebrei het nie. Dit was ook vir hulle ’n besonderse geleentheid om soveel van die Lae Lande en sy geskiedenis te leer.

Hulle Nederlands het ook verbeter!

Van die Jongerenprojek Netwerk in Suid-Afrika wil ek graag die Stichting Zuid-Afrikahuis Nederland en die Vlaams Zuid-Afrikaanse Cultuurstichting bedank vir al hulle moeite en ook die ongelooflike geleentheid wat hulle Suid-Afrikaanse studente bied.

In besonders wil ons graag vir Tim Snel, Frank Judo, Laura Engels, Bernard Slaa, Sophie van Putten-Velthuizen, Peter de Graaf en Lex de Jongh baie dankie sê vir hulle ongelooflike harde werk en begeleiding.

Dit is so lekker om saam met julle te werk. Dankie dat julle ons laat tuis voel het!

Ons wil graag die Engelse uitdrukking oorskryf na, “In Nederland, doen ons wat die Nederlanders doen en in Vlaandere doen ons wat die Vlaminge doen”. Van Belgiese bier tot friet, en van fietsen tot publieke vervoer. Van Nuttela en hagelslag op brood, tot pakke en pakke spekulooskoekies.

Ons kan met heimwee terugverlang na ons ander huis. 

Ek het opnuut weer besef hoe taal en kultuur bande kan versterk. Ek is nuuskierig oor die toekoms vir die Jongerenprojek en Jongerenprojek Netwerk en kyk met groot verwagtinge na die toekoms.

Ons sien uit om julle volgende jaar in Suid-Afrika te verwelkom.

.........................

Agtergrond Jongerenprojek

Die Jongerenprojek (JP) vind sedert 1976 jaarliks plaas. Die program roteer om die beurt – een jaar bring deelnemers uit Nederland en België besoek aan Suid-Afrika en Namibië, waarna ’n ander groep Suid-Afrikaners en Namibiërs die daaropvolgende jaar in die Lae Lande ontvang word.

Die JP is in kern ’n uitruilprogram waardeur daar gepoog word om deelnemers ’n begrip te gee van die onderliggende verhouding wat daar tussen die Lae Lande en Suid-Afrika bestaan – soos in die besonder vergestalt word in die taalbande wat Nederlands en Belgies met Afrikaans deel.

Die hoop is om ’n wedersydse begrip en waardering vir die Europese en Suid-Afrikaanse kulture te ontwikkel, omdat deelnemers deur hulle sustertale relatief maklik kan kommunikeer en sodoende mekaar se wêrelde – en die gedeelde geskiedenis daarvan – kan ontdek.

In Nederland en Vlaandere word die program georganiseer deur die Stichting Zuid-Afrika Huis en die Vlaams Zuid-Afrikaanse Cultuur Stichting. In Suid-Afrika word die reëlings behartig deur die Jongerenprojek Netwerk.

Lees ook

Meestergraadstudies in Londen: ’n onderhoud met Marina Pienaar

Leuven-studie-uitruil: ’n onderhoud met Sandri Smit

Meestersgraadstudies in Frankryk: ’n onderhoud met Janet Vermaak

Verslag Jongerenproject 2018

LitNet-argief: Vyf Suid-Afrikaners en die Taalunie Zomercursus Nederlands (TZN) 2017

’n Skool van ’n voorstad van Kaapstad verken Nederland

Bezoek uit Bellville

Den Haag-studie-uitruil: ’n onderhoud met Tenita Kidelo

Duitsland-studie-uitruil: ’n onderhoud met Giselle Botha     

België-studie-uitruil en die Jongerenprojek: ’n onderhoud met Aletta Simpson

Leiden-studie-uitruil: ’n onderhoud met Carmi Britz

Kuils River law student heading to the Netherlands on prestigious Mandela Scholarship

Groningen-studie-uitruil: ’n onderhoud met Shawna-Leze Meiring

Leiden-studie-uitruil: onderhoud met Marlies Haupt

African ties to the "hermit kingdom": an interview with Leiden University PhD student, Tycho van der Hoog

"The gift of the Nile is shared by 11 countries with various ethnicities, cultures and needs" – an interview with Leiden University PhD student, Abeer Abazeed

"Especially poor women with diabetes suffer in South-Africa": An interview with Chipo Mutyambizi, PhD student

Buro: IG
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top