“Clichébeelde”, soos sy dit noem, van “baguettes, barette, snorre en die Eiffel-toring” het aanvanklik haar belangstellening in Frans geprikkel en haar gemotiveer om haar studies in Frankryk voort te sit. Sy het gou besef dat dié taal selfs mooier is as die Eiffel-toring en baie verder as net Frankryk strek.
Janet Vermaak het onlangs haar MA in literêre vertaling in Strasbourg, Frankryk voltooi, waar sy vir ongeveer twee jaar gebly het. Sy het voor dit ’n MA in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch voltooi.
Tydens haar studies aan die Universiteit Stellenbosch toer sy ook na Leiden in Nederland as deel van ’n uitruil.
Janet vertel meer oor haar ervaringe.
Janet, jy is was ’n student aan die US en ook ’n student is Frankryk. Wat het jy studeer?
Ek het ’n MA gedoen in Afrikaans en Nederlands aan die US, waarna ek nog ’n MA gedoen het in literêre vertaling in Strasbourg, Frankryk. Ek het my studies in Frankryk in September 2019 voltooi.
Waarom het jy juis dit studeer – waar kom jou liefde vir jou studieveld vandaan?
Ek het baie gelees as kind, en toe ek afkom op ’n paar Franse woorde in ’n Enid Blyton-boek (daar was ’n Franse karakter in een van die Secret Seven-boeke), het dit my gepla dat ek nie weet wat daar staan nie. Toe leer ek Frans. ’n Paar jaar later. Ek was in ’n hoërskool wat Frans aangebied het, en ek was baie opgewonde om dit te begin leer (waarskynlik met clichébeelde van baguettes, barette, snorre en Eiffel-torings in my kop). Op universiteit het ek ontdek dat die taal baie mooier is as die Eiffel-toring, en baie verder as net Frankryk strek.
My liefde vir Afrikaans en Nederlands het verdiep op universiteit, veral danksy die poësie-, prosa- en kreatieweskryfklasse. Ek moes op ’n punt kies watter taal ek mee wou aangaan, maar ek kon nie. Met bemoedigende dosente en ’n paar jaar se ekstra studies kon ek uiteindelik albei doen.
As elke taal ’n venster is wat oopstaan tot die wêreld, soos die filosoof George Steiner dit gestel het, dan is vertaling vir my ’n manier om ander ook bekend te stel aan nuwe wêrelde en om deel te wees van verrykende verbindinge tussen tale en kulture.
Watter lande in Europa het jy as deel van ’n uitruilprogram besoek? Was dit die eerste keer dat jy dié lande, of Europa, besoek het? En hoe lank was jy daar?
As deel van my MA in Afrikaans en Nederlands het ek vir vyf maande in Leiden, (Nederland) gewoon. Ek was voor dit al een keer in Europa op ’n studentetoer. Daarná het ek vir twee jaar in Strasbourg (Frankryk) gewoon.
Wat was jou eerste indrukke van die land toe jy van die vliegtuig afklim?
In Leiden het ek my so verwonder aan die keisteenstrate, die kanale en die feit dat niemand hulle gordyne toemaak en klaarblyklik nie omgee dat jy alles in hulle huise beloer nie, dat ek amper omgery is deur ’n trop fietsryers.
Min het ek geweet dat ek een van daardie roekelose fietsryers sou word, en ek het weldra besef dat Nederlanders nie so gevaarlik is soos hulle voorkom nie. Ek het lelik verdwaal met ’n baie swaar tas, en die vyf mense langs die pad wat vir my aanwysings gegee het tot by my koshuis, was my almal baie behulpsaam.
In Strasbourg was ek meer gereed vir die verdwaal en die swaar tas. Waarvoor ek nie gereed was nie, was die spoed waarteen die mense praat. Ek het gewonder hoekom hulle so haastig is, of hulle mekaar kan verstaan, en of hulle monde nie moeg raak nie. Dit was wonderlik om Frans oral om my te hoor, en ek het hard probeer om nie te lyk asof ek besig was om mense se gesprekke af te luister nie.
Hoe verskil ’n universiteit daar van ’n Suid-Afrikaanse universiteit hier?
In Nederland is daar baie klem gelê op deelname, en daar is dikwels van ons verwag om aanbiedings te doen. Dit is nogal iets om aan gewoond te raak, veral as jy in Nederlands moet kommunikeer.
In Frankryk was die styl van onderrig heeltemal anders as waaraan ek gewoond was. Ek het byvoorbeeld ’n regsvak gehad wat my heeltemal onkant gevang het. Die klas het elke week as volg verloop: Die dosent kom in, praat vir twee ure lank in baie vinnige Frans, kyk miskien so een of twee keer na sy notas, en almal tik asof hulle lewens daarvan afhang.
Aan die begin het ek gedink daar sal studiemateriaal verskaf word, maar ek het later besef dat ons lewens inderdaad afgehang het van die spoed waarteen ons kon tik. Al inligting wat ons gehad het, was dit wat ons in die klas kon vasvang, en dan kan ’n mens natuurlik ook self boeke in die biblioteek gaan soek.
Die vertaalklasse in Strasbourg was baie prakties en interaktief. Ons het elke week tekste gekry om te vertaal (van tydskrifartikels tot Charles Dickens) en dan het ons in die klas die teks deurgegaan en mekaar se werk gekritiseer. Die vertaalklasse van Engels na Frans was uitdagend en baie sleg vir my selfbeeld, maar gelukkig was daar ook klasse waarin ons na Engels toe vertaal het, net om my ego ’n bietjie te streel.
Hoewel ons ook teoretiese vakke gehad het, soos vertaalteorie, was die kursus baie gefokus daarop om die student op ’n beroep voor te berei. Ons moes byvoorbeeld ’n internskap van drie tot vyf maande doen om ons graad te kon kry. Verder het daar ook dikwels uitgewers en literêre of professionele vertalers met ons kom praat oor die uitdagings van die beroep. Ons het ook rekenaarvakke gehad waarin ons geleer het van beskikbare vertaalprogramme en hoe dit nuttig kan wees in ons beroep.
Het jy enigiets nuuts oor die land se taal en kultuur geleer?
In Nederland het ek allerlei oulike uitdrukkings geleer en my Nederlands het baie verbeter omdat ek al my opstelle in Nederlands moes skryf. Dit was wel ’n probleem dat die Nederlanders dadelik wou oorslaan Engels toe as hulle hoor jy praat swak Nederlands of dat jy ’n aksent het.
In Frankryk het ek glad nie daardie probleem gehad nie. Van die begin af het alles in Frans gebeur: doktersafsprake, afsprake by die bank (wat ’n bietje gevaarlik is as ek nou terugdink), en niemand het ooit probeer Engels praat nie. Die twee jaar in Frankryk was vir my van onskatbare waarde as vertaler. Aan die begin was ek so bly as ek grappies kon verstaan in Frans dat ek ekstra hard gelag het.
Sosiale interaksie is maar moeilik as mense humor moet verduidelik. Teen die einde was ek baie meer gemaklik by sosiale geleenthede juis omdat die meeste van die nuanses en die humor nie meer by my verbygegaan het nie. Dan het ek natuurlik in literêre vertaling ook ’n klomp groot woorde geleer wat ek waarskynlik nooit in my lewe sal gebruik in ’n normale gesprek nie.
Wat die kultuur betref, het ek ervaar dat Nederlanders baie direk is: Daar word nie doekies om enige iets gedraai nie. Die Franse is dalk ’n bietjie meer diplomaties, en hoflikheid is van kernbelang. As jy ’n vraag vra in ’n winkel sonder om eers te groet, mag jy dalk net begroet word met ’n koue “bonjour” voordat jy ’n antwoord kry. Wanneer jy by ’n sosiale geleentheid is, moet jy seker maak dat jy almal soengroet op die wang (een keer aan elke kant in Strasbourg).
Hulle is baie wetties oor wanneer dit geskik is om wat te eet, en middagete is heilig. As jy in ’n park sit en eet, kan jy verwag dat minstens een verbyganger jou kos sal bekyk en jou ’n “bon appétit” sal toewens. Verder het die Franse ’n voorliefde vir staak en betogings (meer nog as die Suid-Afrikaners). Dinge lyk net of dit gaan skeefloop, dan is daar ’n staking gereël met geel baadjies en al.
Wat was jou gunstelingbesienswaardighede?
Strasbourg is ’n pragtige stad om in te woon, met ’n lieflike park, ’n indrukwekkende katedraal (die sesde hoogste kerk in die wêreld), en ’n pragtige ou stad wat La Petite France genoem word. Dan is daar natuurlik ook die Europese parlement, wat vir seker die moeite werd is om te besoek.
Een van my gunstelingstede in Frankryk is Saint-Malo, ’n hawestad in die noorde van die provinsie Bretagne met ’n baie interessante geskiedenis. In hierdie stad het ons staaltjies gehoor van skatte, seerowers en konings, en kon ons die graf van die digter François-René de Chateaubriand besoek. Hierdie befaamde digter is begrawe op ’n klein eilandjie wat ’n mens te voet kan bereik as dit laaggety is. Maar ’n mens moet versigtig wees in daardie geweste, want die gety kom in soos ’n perd wat galop...
Het jy enige interessante geregte geëet?
Vir my internskap het ek ’n resepteboek vertaal, en ek het op ’n paar baie interessante geregte afgekom, onder andere ’n resep vir slakke waar ’n mens self die slakke in jou tuin moet gaan “jag”.
In Alsace, die historiese streek waarvan Strasbourg die hoofstad is, is daar baie Duitse invloede, omdat die streek meermale hande gewissel het tussen Frankryk en Duitsland. Een van die lekkerste disse wat goed gaan saam met ’n bier by ’n gesellige kuier, is tarte flambée, of Flammkuchen in Duits, ’n soort pizza bedek met suurroom, uie, spek en soms sampioene en kaas. Ander disse wat eie is aan hierdie streek, is Spaetzle, ’n soort noedel, Kneckes, ’n tipe wors, en suurkool.
Dan is die gebak wat in die bakkerye uitgestal word om elke hoek en draai natuurlik ook genoeg om enigeen se mond te laat water. Die verskeidenheid kase (van stink tot minder stink) is duiselingwekkend. Elke streek het sy eie soort kase. Munster, ’n kaas wat in Alsace gemaak word, val onder die “stink”-kategorie, en ek is vooraf gewaarsku dat dit lekkerder smaak as wat dit ruik.
Wat was jou gunstelinggesegde of interessante woorde van hul taal?
Terwyl ons nou praat oor kaas: Een van my gunsteling- Franse gesegdes is “faire tout un fromage de (quelque chose)” of, letterlik vertaal, “om ’n hele kaas van iets te maak”, wat beteken om ’n groot bohaai van iets te maak.
- Foto's: verskaf
Lees ook
Meestergraadstudies in Londen: ’n onderhoud met Marina Pienaar
België-studie-uitruil en die Jongerenprojek: ’n onderhoud met Aletta Simpson
LitNet-argief: Vyf Suid-Afrikaners en die Taalunie Zomercursus Nederlands (TZN) 2017
Groningen-studie-uitruil: ’n onderhoud met Shawna-Leze Meiring
Kuils River law student heading to the Netherlands on prestigious Mandela Scholarship
Buro: MvH