Leiden-studie-uitruil: ’n onderhoud met Carmi Britz

  • 0

Carmi Britz

"Stellenbosch-universiteit was onlangs 100 jaar oud. Dit is ’n mylpaal om te vier in Suid-Afrika. Nederlandse universiteite is baie ouer, so 100 jaar is vir hulle nog taamlik jonk. Om deur hierdie ou geboue, kanale en strate te loop is ’n onbeskryflike gevoel."

Carmi Britz, ’n nagraadse student aan die Universiteit Stellenbosch, vertel meer oor ’n uitruilprogram wat sy as deel van haar nagraadse studie aan dié universiteit voltooi het. Sy is tans besig met haar meesters in Afrikaans en Nederlands en het vir ses maande as uitruilstudent in Leiden, Nederland studeer.

Sy vertel meer oor haar studie-ervaring in Nederland, onder andere hoe sy ’n Suid-Afrikaanse universiteit verskillend van ’n Nederlandse universiteit ervaar het, en wat sy alles oor die Nederlandse kultuur geleer het. 

Carmi, jy is ’n student aan die Universiteit Stellenbosch? Wat studeer jy?

Ek is besig met my meestersgraad in Afrikaans en Nederlands. Ek fokus op die letterkunde. In my verhandeling ondersoek ek hoe die Suid-Afrikaanse landskap as distopies uitgebeeld word in Lien Botha se Wonderboom.

Waarom studeer jy juis dit – waar kom jou liefde vir jou studieveld vandaan?

Van jongs af was ek vreeslik lief vir lees. Ek het besluit om iets te studeer waaroor ek passievol is. Ek het Engels en Afrikaans en Nederlands as voorgraadse vakke gehad, maar Afrikaans het my meer geïnteresseer as Engels. Ek is keer op keer verstom deur wat geskep word in Afrikaans.

Ek skryf ook oor iets wat vir my interessant is: rampe en distopiese toekomsvoorspellings. Dit is veral aangrypend om die Westerse distopiese vrees met ’n Suid-Afrikaanse distopiese wêreld te vergelyk. Niks openbaar die mens se vrees soos ’n boeiende distopiese roman nie, en Suid-Afrikaners het baie vrese.

Leiden

Waarom het jy onlangs Leiden besoek? Was dit deel van ’n uitruilprogram?

My MA bestaan uit twee komponente. Ek moes vir ’n semester in Nederland klasdraf en dan moet ek ook ’n verhandeling skryf (die verhandeling is wel korter as die tradisionele volle een).

As ’n Afrikaans en Nederlands-student dink ek dit is baie belangrik dat die Nederlandse deel van die studie ook ontgin moet word. Ek is baie dankbaar teenoor die Studiefonds voor Zuid-Afrikaanse studenten en die Van Ewijck-stigting vir hul finansiële steun.

Leiden se munisipaliteit

Was dit die eerste keer dat jy Nederland besoek het? En hoe lank was jy daar?

Dit was my eerste besoek aan Nederland. Ek het einde Augustus 2018 daar geland en was begin Maart 2019 terug in Suid-Afrika. Ek was vir ’n bietjie meer as ses maande in Nederland.

Ek het die 5de Colloquium voor het Afrikaans in Gent bygewoon. Vlaams was makliker om te verstaan as Nederlands. Die kongres was fantasties en vreeslik insiggewend. Gent was beslis ’n belewenis.

In Amsterdam is daar omtrent meer fietse as mense!

Wat was jou eerste indrukke van Nederland toe jy van die vliegtuig afgeklim het?

Die afwesigheid van berge tref jou soos ’n vuishou.

Toe ek by Schiphol land, was daar probleme met die treine, so honderde mense moes lank wag vir alternatiewe vervoer per bus. Daar was orde in die chaos. Teen die tyd dat ek middernag by my blyplek aangekom het, het ek slegs die lughawe gesien.

Toe ek vir die eerste keer in Amsterdam en Leiden gekom het, het ek waarlik “Holland” beleef: die land waarvan ek vir jare al gelees en geleer het. Dit is werklik pragtig.

Prentjiemooi Amsterdam

As die kanale ’n bietjie meer gevries was, sou dit moontlik wees om daarop te ski.

Hoe verskil ’n universiteit in Nederland van ’n Suid-Afrikaanse universiteit?

Nederland, sowel as Wes-Europa, is ryk lande en die universiteite is bewys daarvan. Daar is klein en groot luukshede waarvan ons in Suid-Afrika net kan droom. Die hele kampus het gratis WiFi en jy kan met ’n geruste hart jou skootrekenaar kampus toe vat.

Die universiteit is ook ingeteken by baie akademiese tydskrifte en het skaars en duur boeke in die biblioteek.

Daar was baie verskillende soorte studielokale oor die hele kampus. Dit was baie gerieflik – daar kan by enige van die plekke gewerk word.

Daar is ook ’n kultuurverskil: Stellenbosch-universiteit was onlangs 100 jaar oud. Dit is ’n mylpaal om te vier in Suid-Afrika. Nederlandse universiteite is baie ouer, so 100 jaar is vir hulle nog taamlik jonk.

Om deur hierdie ou geboue, kanale en strate te loop is ’n onbeskryflike gevoel.

Die hoof-geesteswetenskappegebou het al die nodige fasiliteite en daar is ’n bekostigbare kafeteria en ’n kafee. Die biblioteek het ook ’n kafee-area waar jy lekker kan rus, gesels en koffie drink.

Warm Chocomel met slagroom by die Café UBL (Universiteitsbibliotheek Leiden).

Suid-Afrika én Nederland sukkel om genoeg behuising te verskaf vir studente. Dit is ’n groot kwessie. In Nederland sukkel baie internasionale studente om blyplek te kry (vir ons wat nie van die EU is nie, is dit selfs moeiliker). Soms is die huur baie hoog en die blyplek aaklig.

Sommige studente moes in tente op ’n kampterrein bly en het baie duur betaal, en moet nog ver fiets ry kampus toe. Die universiteit weet van die probleem, maar niks word daaraan gedoen nie. Dit is ’n landswye probleem.

Studente se protesaksie vir meer behuising. Gesien in Lispius – die hoof-geesteswetenskappegebou.

Vir my voel dit asof Nederlandse universiteite praktykgerig is, waar Suid-Afrikaanse universiteite meer navorsingsgeoriënteerd is. In elke klas word dit van die student vereis om ’n lesing aan te bied, alleen of in groepsverband. Dit was vir my uitdagend.

Dit is veral in my meestersklas, “De canon herlezen”, aangebied deur prof Yra van Dijk, waar ons studie tot praktyk oorgaan. Ons het ’n intervensie gehou. In die Lipsiusgebou het ons vir Nederlandse studente vraelyste uitgedeel om hul mening van die Nederlandse kanon te hoor. Die meeste studente het erken hulle lees nie eintlik romans nie, en het nie ’n sterk opinie oor die kwessie nie. Letterkundiges weet van die problematiek rondom die literêre kanon.

Die kursus was vir my ook baie insiggewend, en ek het besef Nederland het ook sosiale probleme soos Suid-Afrika.

“De canon herlezen”-intervensie in die Lipsius.

Ons intervensie haal die studentekoerant, Korte Mare.

Nog ’n ooreenkoms tussen Suid-Afrikaanse en Nederlandse universiteite is die taalkwessie. Nederlandse universiteite is besig om te verengels en dit sal hartseer wees as Nederlands as onderrigtaal afgeskaf word.

Dit is vir my kommerwekkend: Nederlands as ’n vak is hierdie jaar gestaak by die Vrije Universiteit Amsterdam. Afrikaanssprekendes het baie meer taaltrots as Nederlanders. Die passie vir hul moedertaal is afwesig by Nederlandse studente.

Het jy enigiets nuuts oor die Nederlandse taal en kultuur geleer?

Nederlanders is meer afsydig en koud in vergelyking met Suid-Afrikaners. Dit is veral opvallend by die studente. Die Nederlandse studente meng nie graag met die internasionale studente nie. Drie van my vier klasse was Nederlandse klasse, en dit is slegs in die nagraadse klas waar studente werklik in interaksie met my was.

My vriendekring het meestal bestaan uit ander internasionale studente. Ek is hartseer hieroor, want ek wou graag Nederlandse studente se opinies hoor oor Nederlandse kwessies, soos die taal, letterkunde, kultuur en politiek.

Ek het probeer om Nederlands met die Nederlanders te praat (buite klasverband), maar die meeste Nederlanders het nie baie geduld gehad nie en het oorgeskakel Engels toe. Dit is ’n jammerte.

Utrecht is ook ’n pragtige universiteitsdorp.

Wat was jou gunsteling- Nederlandse besienswaardighede?

Toe ek Anne Frank se dagboek in graad 7 gelees het, het ek nooit gedink ek sal eendag in daai agterhuis staan nie. Dit was werklik spesiaal. Die Van Gogh-museum was ook ’n onbeskryflike belewenis.

Ek het ook die alledaagse, tipies Nederlandse tonele pragtig gevind: die kanale, die boothuise, die graghuisies, die fietsryers, die eeue oue geboue.

By die Van Gogh-museum.

Het jy enige interessante geregte geëet?

Ek het saam met my internasionale vriendekring baie internasionale geregte geëet. Restaurante met tradisionele Nederlandse geregte is nie so algemeen soos internasionale restaurante nie.

Ek was mal oor kroket, bitterballen en stroopwafels. Niks is so lekker soos Nederlandse tjips met mayonnaise nie.

In Leiden is daar Oudt Leyden wat heerlike pannekoeke maak en dit op groot blou Delftborde bedien. Hagelslag is verslawend.

Oudt Leyden se reuse-pannenkoeken.

Wat was jou gunsteling- Nederlandse gesegde?

“Tot strakjes” was vir my ’n mooi manier om iemand te groet en die “straks” is soos die Suid-Afrikaanse “nou” – dit kan na enige tyd verwys.

“Even kijken” het ek ook graag gesê, sowel as “heel erg leuk” en “heel veel” (van iets).

  • Foto’s: Carmi Britz

............

Lees ook

Meestergraadstudies in Londen: ’n onderhoud met Marina Pienaar

Leuven-studie-uitruil: ’n onderhoud met Sandri Smit

Meestersgraadstudies in Frankryk: ’n onderhoud met Janet Vermaak

Kuils River law student heading to the Netherlands on prestigious Mandela Scholarship

België-studie-uitruil en die Jongerenprojek: ’n onderhoud met Aletta Simpson

Den Haag-studie-uitruil: ’n onderhoud met Tenita Kidelo

Duitsland-studie-uitruil: ’n onderhoud met Giselle Botha     

Groningen-studie-uitruil: ’n onderhoud met Shawna-Leze Meiring

Leiden-studie-uitruil: onderhoud met Marlies Haupt

African ties to the "hermit kingdom": an interview with Leiden University PhD student, Tycho van der Hoog

"The gift of the Nile is shared by 11 countries with various ethnicities, cultures and needs" – an interview with Leiden University PhD student, Abeer Abazeed

"Especially poor women with diabetes suffer in South-Africa": An interview with Chipo Mutyambizi, PhD student

Jongerenprojek Netwerk 2019

Verslag Jongerenproject 2018

LitNet-argief: Vyf Suid-Afrikaners en die Taalunie Zomercursus Nederlands (TZN) 2017

’n Skool van ’n voorstad van Kaapstad verken Nederland

Bezoek uit Bellville

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top