Giselle Botha, ’n nagraadse student aan die Universiteit Stellenbosch, vertel meer oor ’n uitruilprogram wat sy as deel van haar nagraadse studie aan dié universiteit voltooi het.
Sy is tans besig met haar nagraadse studie in Afrikaans en Nederlands en het as uitruilstudent in Hildesheim, Duitsland studeer.
Talle Suid-Afrikaanse studente besoek Duitsland of ander Europese lande soos Nederland en België jaarliks as deel van studie-uitruilprogramme om meer oor die kultuur en leefwyse van die land te leer en hul horisonne te verbreed.
Giselle vertel meer oor haar studie-ervaring en Europese avonture.
Giselle, jy is ’n student aan die US? Wat studeer jy tans?
Ek is ’n derdegenerasie Matie (nou nie dat dit noodwendig iets beteken nie, maar dit is ’n feit) met ’n BCom-graad en ’n honneursgraad in Afrikaans en Nederlands.
Tans is ek ’n nagraadse student wat neig in die rigting van ’n ewige student. Dit beteken ek is besig om die weë te probeer vind wat my in staat sal stel om my drome en ambisies te kan uitleef. Party mense sal dit die aktiewe uitleef van lewenslange leer noem!
Waarom studeer jy juis dit, waar kom jou liefde vir jou studieveld vandaan?
Ek het nog altyd ’n liefde vir tale, stories en woorde gehad en daarmee saam ’n liefde en belangstelling in hoe om “besigheid” te doen. Daar is ’n dringende en brandende drang in my om iets sinvol met my lewe te doen waar my proses van selfaktualisering ook tot iets groters sal lei soos wêreldvrede (haha) of die bekamping van hongersnood en armoede.
Tale en die sakewêreld is seker die twee gebiede wat die grootste impak op die wêreld het buiten politiek. My droom is om ’n manier te vind om dié twee gebiede te gebruik om die wêreld ’n beter plek te maak (dit klink soos ’n cliché, maar dit is my cliché).
Jy het al Europa toe gereis vir jou studies, onder andere na Duitsland, België en Nederland. Vertel asseblief meer hieroor.
In my derde jaar het Rufus Gouws in ons eerste Leksikografielesing genoem dat die Universität Hildesheim in Duitsland ’n nuwe uitruilooreenkoms met die US se Departement Afrikaans en Nederlands vir die komponent Leksikografie wil begin. Enige een van ons derdejaarstudente wat Leksikografie neem, kon aansoek hiervoor doen. Ek het dadelik belanggestel (wie sou nie!).
Aanvanklik sou die uitruil aan die einde van my derdejaar plaasvind, maar omdat dit ’n Erasmusuitruil is, is daar toe vereis dat ek eers die uitruil na die behaling van ’n honneursgraad kan doen. Dit het maar iets daarmee te make dat net Suid-Afrika en enkele ander lande nog iets soos ’n honneursgraad het waar die skryf van ’n mini-skripsie deel van die slaagvereiste van die graad is. Europese studente skryf as deel van die voltooiing van hul voorgraadse baccalaureusgraad reeds ’n mini-skripsie. So ek het my BCom-graad voltooi en daarna my honneurs in Afrikaans en Nederlands.
Op hierdie punt moet ek regtig die grootste lof uitspreek teenoor die Universität Hildesheim se internasionale kantoor. Die spoed en vriendelikheid waarmee hulle my bygestaan het om te verseker dat al die dokumente vir my studievisum in plek is en die wonderlike studenteverblyf wat hulle vir my gereël het, is in wat my beperkte leeftyd betref, ongekend.
Nou raak die storie interessant. Op die dag wat my Duitse studievisum uitgereik is, het ek gehoor dat Alfred Schaffer en Sabien van Craenendonck my genomineer het om deel te neem aan die Taalunie Zomercursus Nederlands (TZN).
Die TZN is ’n Nederlandse somerskool wat jaarliks deur die Universitair Centrum voor Taalonderwijs aan die Universiteit Gent en die Nederlandse Taalunie in Gent in België aangebied word. Dit is amper soos die SAVN se winterskole in Suid-Afrika, maar net langer en intensiewer — kursusgangers voltooi onder andere ’n internskap by ’n verskeidenheid maatskappye en instansies in Nederland en België en lewer verslag daaroor.
My Duitse studievisum sou verval voor die aanvang van die TZN. Dit was ook nie ’n gegewe dat my nominasie suksesvol sal wees nie, want die nominasieproses het ’n Nederlandse taaltoets en ander vereistes ingesluit en dit neem tyd om te voltooi en daar is ook dan ’n wagtyd voordat dit bekend is of die nominasieproses suksesvol was al dan nie.
So verlaat ek toe Suid-Afrika vir die duur van my Erasmusuitruil in Hildesheim, maar met die wete dat die moontlikheid van ’n somerkursus en die klein administratiewe uitdaging van ’n visumverlenging bestaan (wat ’n opwindende vooruitsig om ’n Europese studiekans te kan verleng!).
Vroeg tydens my Erasmusuitruil is die TZN-nominasieproses toe nou suksesvol, maar hoe gemaak met die visum? Ek was baie gelukkig om ’n uitruilkoördineerder en toesiener oor my hele Erasmuservaring soos Ulrich Heid van die Universität Hildesheim te kon hê wat die nut kon insien waarom dit belangrik sou wees om die TZN by te woon. Met sy hulp en onderskraging is ’n goed gemotiveerde brief aan die munisipale owerhede van die Stadt Hildesheim (dit is die munisipaliteit van die stad Hildesheim) geskryf ter motivering van die verlenging van my visum.
Die owerhede was nie suinig met die verlenging van my visum nie. Ek kon die TZN saam met 120 ander studente van 28 verskillende lande sonder enige kommer bywoon.
Die gevolg van die verlenging van my visum was toe dat ’n verdere geleentheid hom voorgedoen het. Ek kon die Lexicomm-werkswinkel oor elektroniese leksikografie in Leiden in Nederland bywoon. Dit was ’n baie leersame ervaring waar daar met die program Sketch Engine gewerk is en ek baie oor die nut van korpusleksikografie kon leer. Hier moet ek my dank betuig vir die toeken van die Erna Meaker Merietebeurs vir Leksikografie wat my in staat gestel het om hierdie werkswinkel te kon bywoon.
Was dit die eerste keer wat jy Duitsland en Nederland besoek het?
Nee, nogals nie. My eerste besoek aan Nederland was as baba in 1994 saam met my ouers (daar is seker iets te sê vir mense wat kans sien om met ’n baba van vyf maande oud te reis). Ons het deur Nederland en België gereis met ’n bloedrooi gehuurde Nissan Micra Jive. Met ons opeenvolgende gesinsvakansies na Nederland het ons eerder van openbare vervoer gebruik gemaak.
My eerste besoek aan Duitsland was in die jaar 2000 vir ’n besoek saam met my ouers aan die Suide van Duitsland. My Erasmusuitruil na Hildesheim was wel my eerste solo-reis na Europa en my eerste kennismaking met die (verre en diep) Noorde van Duitsland.
Hoe verskil ’n universiteit in Duitsland van ’n Suid-Afrikaanse universiteit?
Die verskille kan opgesom word as ’n groter internasionale bewustheid en teenwoordigheid, mobiliteit, toegang tot hulpbronne. O, en gratis wifi oor die hele kampus wat werk! Ek dink ook daar is ’n groter sensitiwiteit en waardering onder Duitse studente vir kultuurverskille omdat daar so ’n klem geplaas word daarop om nie die onmenslikhede van die Tweede Wêreldoorlog te herhaal nie.
In Suid-Afrika is daar soveel angstigheid onder studente wat deur die politieke bagasie van die verlede en hede veroorsaak word wat maak dat almal omtrent ’n identiteitskrisis het oor wie en wat nou eintlik die reg het om ’n Suid-Afrikaner te kan wees en in die proses word niemand ’n antwoord of ’n oplossing ryker nie en die spanning op kampusse bly.
Duitsland het ook maar sy probleme soos hoe om die vlugtelingkwessie te benader, maar dit voel of Duitse studente die wete het dat hulle deel uitmaak van ’n breër Europese identiteit (wat dit ook al mag wees). Dié wete of bewustheid gee hulle dan ’n sekere mate van selfvertroue.
Een groot verskil tussen ’n Europese universiteit en ’n Suid-Afrikaanse universiteit is dat jy onmiddellik in ’n internasionale omgewing is. Daar is baie meer internasionale studente by ’n Europese universiteit as ’n Suid-Afrikaanse universiteit en dit is nie net ’n klomp Europese studente van verskillende Europese lande nie. In Hildesheim was daar byvoorbeeld ook baie studente uit die Verenigde Koninkryk, die Midde-Ooste, Indië, Pakistan, China en uit Noord- en Suid-Amerika.
Europa is klein (in vergelyking met Afrika), maar die Europese lande is baie meer bewus van en ingestel op mekaar. Dit het seker maar te make met die prominente teenwoordigheid en rol van die Europese Unie. Ons Suid-Afrikaanse studente is nie noodwendig so ingestel op ander Afrikalande nie en ons kan ook nie so maklik (ongehinderd) reis na ander Afrikalande soos wat Europese studente van een Europese land na ’n ander land reis nie. Dit is jammer.
Een rede vir die groter internasionale landskap van ’n Duitse universiteit of dan nou enige Europese universiteit (ja, ook die Oos-Europese universiteite) is die moontlikhede wat iets soos Erasmus Mundus bied.
Erasmus is ’n uitruilprogram met verskillende uitruilopsies, maar het ten doel om mobiliteit onder Europese studente, dosente en navorsers te bevorder. So bestaan hierdie groot interuniversitêre uitruil in Europa wat daartoe bydra dat amper elke tweede Europese student reeds voorgraads vir ’n uitruil na ’n ander universiteit in Europa gaan.
Die Erasmusprogram skep ook ’n interuniversitêre netwerk: Elke universiteit wat deel is van die Erasmusprogram het ’n studente-organisasie die ESN (Erasmus Student Network) wat nie net ’n ondersteuningsnetwerk is vir die Erasmusstudente van ’n spesifieke universiteit nie, maar die ESN van die verskillende universiteite reël ook saam geleenthede en uitstappies wat die Erasmusstudente van die onderskeie universiteite dan saam kan doen (’n mens ontmoet regtig baie mense tydens ’n Erasmusuitruil).
Daar is ook iets soos ’n Erasmus-internskap wat studente na afloop van hulle Erasmusuitruil kan volg en ’n ESN-kaart wat onder andere gebruik kan word vir afslag met die gebruik van openbare vervoer.
Wat die toegang tot hulpbronne betref, het ek ervaar dat ’n Duitse universiteit op soveel meer internasionale joernale ingeskryf is en ander vaktydskrifte wat dit maklik maak om artikels in die hande te kry. Die biblioteek van ’n Duitse universiteit sal ook vir jou ’n boek bestel as jy dit vir jou nagraadse studies nodig het en hulle nie die boek het nie. Daar is geen probleme van “jy moet maar ’n ander plan maak nie, want ons het nie die boek nie”. Die beste van alles is dat jy selfs die boek mag hou!
Studente aan Duitse universiteite betaal ook nie klasgeld nie. Die klasgeld is gratis, maar jy betaal wel ’n registrasiefooi aan die begin van elke semester wat iets soos 400 of 500 euro is.
Op ’n ligter noot. Daar is baie min werklike mooi sonskyndae in Duitsland so, wanneer dit die dag die volmaakte somerdag is, kom studente nie klas toe nie en benut eerder die goeie weer! By Hildesheim word studente toegelaat om twee lesings van ’n vak sonder verskoning mis te loop. As jy meer as twee lesings sonder verskoning misloop, kan jy nie meer daardie vak loop nie (geen klasbunkkultuur nie).
Wat doen ’n mens dan op ’n mooi somersdag as jy nie klas toe gaan nie? Jy gaan tjill by een van die stadsmere en bied jou Vitamien D tekort die hoof! Neem net in ag dat selfs die stadsmere in Hildesheim ’n nudiste-afdeling het.
Dit was ook verbasend hoe algemeen dit vir voorgraadse studente is om bietjie “ouer” te wees. Heelwat studente het eers ’n jaar of drie iets anders gedoen voordat hulle kom studeer het.
Die assessering werk ook anders in die sin dat take en opdragte nie in die kwartaal of semester ingegee word of voltooi word nie, maar ná die semester — blykbaar is dit sodat studente ten volle kan fokus op lesings en toets- of eksamenvoorbereiding. Ek het selfs ook op Saterdae en Sondae klasgeloop! Ek het ook agtergekom dat plakkaatvoorleggings graag gebruik word op universiteit en dat daar by kongresse ook plakkaatvoorleggings is.
Een van die belangrikste verskille is dat jou studentekaart soveel meer mag het in Duitsland. Dit is jou openbare vervoerkaartjie, bied vir jou afslag by museums en toegang tot sommige feeste en selfs opera-vertonings! My studentekaart van Hildesheim het gratis openbare vervoer in die stad moontlik gemaak en ek kon die streekstreine in die provinsie gratis ry. Ek kon selfs gratis tot in Hamburg en Bremen reis.
Amper vergeet ek om te noem dat die meeste Duitse universiteite ’n Mensa het. Die Mensa is die kafeteria van die universiteit en jy kan daagliks vir minder as twee euro ’n driegangmaaltyd geniet — en die kos is smaaklik!
Nog iets interessant was dat Duitse studente aan die einde van elke lesing ’n handgeklap vir die dosent gee. In Hildesheim klop studente met hulle kneukels op die tafels of banke in die lesinglokaal. In Suid-Afrika storm ons (onseremonieel) om by die deur uit te kom vir ons volgende lesing.
Een van my vakke was Semiotiek. In die kursusbeskrywing word daar gesê dat internasionale studente welkom is om die kursus by te woon. Toe ek die eerste lesing bywoon, was ek egter die enigste internasionale student en daar is besluit dat die kursus derhalwe in Duits aangebied gaan word, want Afrikaans en Duits is tog nie so “ver” van mekaar nie. Haha.
Ek het dit eintlik waardeer om Semiotiek in Hoogduits te kry, want dit het my geleer dat ek nou in ’n Duitse taalgebied is waarby ek moet aanpas — die Duitse taalgebied gaan nie by my aanpas nie. Gelukkig het ek ’n goeie klasmaat gehad wat met geduld vir my iets in Engels verduidelik het as ek dit nie verstaan het nie. Die klasmaat was ook darem bereid om al die groepwerkassesseringsaktiwiteite saam met my te doen. So ek was darem nie té vrot nie.
Ek wil ook noem dat ek ook ervaar het dat studente van ’n Duitse universiteit groter vrymoedigheid het om vrae te vrae en om aan klasbesprekings deel te neem. Ek weet nie of dit daarmee verband hou dat die dosente ruimte daarvoor skep dat leergierigheid en nuuskierigheid positief is nie en of dit te doen het met die studente se opregte belangstelling en dat hulle nie skaam is om “dom” of “onvoorbereid” op die lesing voor te kom nie.
Hoe verskil Nederland, Duitsland, België en Suid-Afrika vir jou?
Die Duitsers, Belge en Nederlanders eet sekerlik meer sjokolade as Suid-Afrikaners en veroordeel nie iemand so maklik as hulle twee dae na mekaar dieselfde klere aantrek nie.
Nederland, Duitsland en België is ontwikkelde lande en Suid-Afrika is ’n ontwikkelende land (en alles wat daarmee saamgaan). Dit help nie om dit te ontken nie. Suid-Afrika is ’n jong demokrasie waaraan daar nog gebou word. Foute word gemaak en ons as Suid-Afrikaners leer nog by mekaar — ons gebruik dikwels humor om ons diverse kultuurverskille te verstaan en te oorbrug.
Daar is nie ’n bloudruk vir hoe ’n land soos Suid-Afrika met al sy diversiteit en sy komplekse geskiedenis ’n demokratiese bestel moet benader nie. Dit beteken egter nie dat die leemtes wat bestaan en wat toenemend meer word weens al die geldvergrype en magsbeheptheid aanvaarbaar is nie.
Ek het ervaar dat daar in dié drie Europese lande groter verdraagsaamheid van landsburgers teenoor mekaar is (ek probeer geensins die vlugtelingkrisis ontken nie of byvoorbeeld Nederland se “almal- is-welkom-oopstel-van-grense” verromantiseer nie of die slawegeskiedenis ontken nie).
Daar is ook ’n respek vir reëls en gesag en ook ’n soort wetsgehoorsaamheid wat nie noodwendig tans in Suid-Afrika bestaan nie. Iemand sal byvoorbeeld nie sommer net “J-walk” oor die pad of ’n rooi lig ignoreer nie. Daar moet ook genoem word dat die openbare vervoer betroubaar en veilig is en dat álmal daarvan gebruik maak.
Tydens my Erasmusuitruil het ek die vak Interkulturele Kommunikasie geneem. Dit was ’n Erasmuskursus wat beteken dat net Erasmusstudente die vak mag neem en die klasgenote dus van regoor die wêreld kom. Ons kry toe ’n groepwerkopdrag wat juis gaan oor die verskille tussen jou tuisland en die land waarin jy studeer en hoe jy hierdie uitdagings hanteer.
Die opdrag was verder dat die taak in groepe van twee gedoen moet word en verkieslik saam met iemand in die klas wat jy nie regtig ken nie. Dit sou ’n mondelinge aanbieding van 20 minute behels. So beland ek en ’n student uit Indië, Rishita, in ’n groep. Dit was heel gepas omdat ons beide uit BRICS-lande kom en lande wat gekoloniseer is. Ons het dus ’n middelgrond wat as wegspringplek kon dien vir ons groeptaak.
Dit was nogal ’n uitdaging om die opdrag uit te voer, want hoe beantwoord jy ’n vraag waar die kontras tussen ’n ontwikkelde en ontwikkelende land die leemtes en tekortkominge van jou tuisland kan ontbloot en jy bang is dit kom voor asof jy nie lojaal is teenoor jou land nie? Jy is mos ’n ambassadeur van jou land in Europa! Gelukkig kon ons besef ons lei ook ’n bietjie aan kultuurskok en daarom voel ons soos wat ons voel en kon dit toe mooi in die aanbieding verduidelik.
Kultuurskok is ’n normale ding om deur te gaan wanneer jy op ’n uitruil is. Daar is vyf fases van kultuurskok en omtrent alle uitruilstudente ervaar dit en dit is OK. Ons het ook die Hofstede-model gebruik om sin te probeer maak van ons ervaring in ’n land wat ontwikkeld is.
Die Hofstede-model bestaan uit ses dimensies of kategorieë wat gebruik word om kultuurverskille te verduidelik. Dit is nou verskille soos individualisme versus die kollektief en hoe daar omgegaan word met hiërargie. Ek gaan nie nou daaroor uitwei nie, maar dit is regtig ’n baie nuttige model om verskille tussen kultuurgroepe beter te verstaan.
Ek dink wat ek wil sê, is dat ek in hierdie klassituasie geleer het dat ’n mens moet sê wanneer iets nie reg is nie. Maak jou mond oop. Moenie stilbly oor ongeregtighede nie, maar doen dan iets daaraan. In Suid-Afrika het sommige mense dit gewild en aanvaarbaar gemaak om blind te wees vir ’n verskeidenheid onregte. Dit is nou veiliger om eerder passief te wees oor korrupsie, want netnou word jy van ’n “-isme” beskuldig omdat jy ’n fluitjie wil blaas.
Dit is ’n belangrike verskil tussen Suid-Afrika, Duitsland, Nederland en België: Hulle sal na die feite van ’n saak kyk en nie net iets onder ’n “-isme” invee nie. En so iets gee die selfvertroue om te praat oor ongeregtighede en ook om iets daaromtrent te doen.
Het jy enigiets nuuts oor die Nederlandse- of Duitse taal en kultuur geleer?
Iets wat ek baie vinnig agtergekom het, is dat daar ’n groot verskil is tussen om saam met jou ouers op vakansie in Europa te wees en om op jou eie vir ’n ruk in ’n land te woon. Jy is op jouself aangewese, so daar is baie te leer en jy let die klein dingetjies op.
Moedertaalsprekers van Nederlands én Duits is erg oor dialekte. Mens weet dit (jy word dit geleer), maar jy weet dit nie regtig todat jy daar bly nie. In Nederland leer jy dat die Limburgers se Limburgs onverstaanbaar is en dat daar dié is wat dink dat Belgiese Nederlands, Vlaams, se sagter klanke “lief” is en dat daar diegene is wat nie daarvan hou nie en dit nie verstaan nie.
Tydens my Erasmus in Hildesheim het ek vriende gemaak met twee Nederlanders wat ook op hulle Erasmus in Hildesheim was. Die een het uit Rotterdam gekom en die ander uit Den Haag en selfs hulle twee se Nederlands het anders geklink (ek sal maar voorlopig niks sê oor Hagenees wat as “onbeschaafd” beskou word teenoor die “kakkers” van Leiden nie.). Daar was ook ’n Nederlandssprekende student uit Wes-Vlaandere en nie een van ons drie kon dié student met min moeite verstaan nie.
In Vlaandere was al die kursusgangers tydens die TZN vir ’n aand gaste van verskillende gasgesinne. My gasgesin, die De Nils, woon in Mazenzele, ’n dorpie sowat 50km van Gent af. Daar kom ek toe agter dat die Vlaams wat daar gepraat word van straat tot straat kan verskil! Moedertaalsprekers van Nederlands (Nederlands-Nederlands én Belgies-Nederlands) kom ook gou agter dat jy as ’n nie-moedertaalspreker “anders” klink — ten spyte van jou beste pogings.
Gelukkig word die Nederlandse spraakpoging wel waardeer en moet jy net sterk staan as iemand probeer om die gesprek in Engels te voer en jy weet jou Nederlandse taalbeheersing is goed genoeg.
In Duitsland val die inwoners van die provinsie Sakse se Duits (blykbaar) vreemd op die oor terwyl die inwoners van die provinsie Neder-Sakse se Duits die naaste aan Hoogduits is.
Hildesheim is in die provinsie Neder-Sakse en dit is gereeld in my Duitse taalklas beklemtoon hoe gelukkig ons is om juis in Neder-Sakse te wees, want dit is die beste plek om “regte” Duits te hoor. Ek het ook geleer van “plattdeutsch” en dit is verbasend hoe verstaanbaar die “plattdeutsch” is wat op die grens van Duitsland en Nederland gepraat word.
Die Nederlandse en Duitse kulture stel albei geselligheid hoog op die prys. Hulle is regtig ewe gesellig, maar die Duitsers en Nederlandssprekende Belge is wel vrygewiger wat hul kosporsies betref. Tydens die TZN het die trajek wat ek gevolg het, naamlik Taal en Kultuur, ’n Nederlander en ’n Vlaming as kursusaanbieders gehad.
Daar was die hele tyd ’n speelse kompetisie tuusen die Nederlander Jaap en die Vlaming Tom oor al die aspekte van die Nederlandse kultuur teenoor die Vlaamse kultuur. Van gasvryheid tot uitspraak tot taalgebruik tot kleredrag, maar die een ding waaroor albei saamgestem het, is dat Nederlandse bier soos slootwater proe en dat Belgeise bier koning kraai.
Vir ’n buitestander is die tipe gedrag om twee buurlande met ’n gemeenskaplike taal so teen mekaar af te speel bietjie vreemd, maar dis maar hoe dit is. Alles in ’n goeie gees.
Ek was regtig verstom oor die taligheid van die Duitsers en die Nederlanders. Die verskil tussen Nederlands en Duits is so dat die moedertaalsprekers van dié twee tale mekaar tog goed sou kon verstaan sou hulle wil (en hulle wil nie altyd nie). Dit was vir my opmerklik hoeveel Duitssprekende studente Nederlands as vak neem en hoeveel Nederlandse studente Duits magtig is.
Dit is nie al nie. In die kringe waarin ek beweeg het, was dit baie algemeen dat ’n Duitse student benewens Duits en Engels ook Spaans en Frans magtig is. Ek was self baie gelukkig om vriende te maak met Duitsers wat Nederlands magtig is. Nou nie om snaaks te wees nie, maar Afrikaans kan ’n mens nogal ver in die wêreld bring, want as ek baie huis toe verlang het, het ek tydens my Erasmus sommer Afrikaans met dié vriende begin praat. En ons het mekaar verstaan.
Tydens die TZN het ek my internskap by die Poëziecentrum in Gent onder leiding van Stefaan Goossens gedoen. Daartydens het ek net meer bewus van die Vlaminge se belangstelling in Afrikaans geraak met onder andere Ernst van Heerden se groot boekeversameling wat in die Poëziecentrum gehou word. Ek het ook uit die Poëziecentrum se argiewe wys geword dat Gert Vlok Nel in beide Nederland en Vlaandere baie gewild is en moes selfs ’n stuk geskryf het oor Gert Vlok Nel as deel van my internskap.
Dit was ’n aanpassing om te aanvaar dat wanneer ’n Duitser vir jou “nee” antwoord op iets wat in Suid-Afrika met ’n rede of verskoning vergesel sal word, daar nie ’n rede of verskoning gaan wees nie. Die antwoord is “nee” en ’n verduideliking is nie nodig nie. Duitsers kan ook regtig baie privaat wees en buitestaanders kan dit as “bot” ervaar, maar eintlik is dit algemeen vir Duitsers om nie in te meng met iemand anders se sake nie.
Dit was ook vir my snaaks dat dit algemene praktyk in Duitsland is dat wanneer ’n groep mense saam uiteet elkeen weet dat hy of sy vir hulleself gaan betaal (die rekening is “getrennt”). Die kelner hou boek van elkeen se aparte rekening en jy kry jou eie rekening teen betaaltyd. Hier by die huis kry mens mos maar een groot gesamentlike rekening en dan moet daar maar gesukkel word met wie betaal hoeveel. Dit is ook opmerkbaar hoe min Duitsers vloek of kragwoorde gebruik.
In Duitsland moes ek die verskil tussen ST- en CT-tyd leer. Die een (ek weet nie watter een nie) is vyftien minute vroeër as die gegewe tyd en die ander een is die tyd soos dit aangedui word. Dit het tot gevolg gehad dat ek die meeste van die tyd heeltemal te vroeg by lesinglokale opgedaag het. Die Duitsers is ook gaande oor papierwerk. Vir alles moet jy ’n vorm hier en ’n vorm daar invul. Ek het ook elke week pos ontvang van my gesondheidsversekering én my bank.
Gepraat van papierwerk. Die Nederlanders en Duitsers beskou herwinning as iets wat vanselfsprekend gedoen word. Dit is so deel van jou bestaan soos om jou veters vas te maak. In my Duitse studentewoning was daar in my seksie se kombuis ’n werkkaart waarvolgens elkeen van ons ses “huismaats” weekliks verantwoordelik was vir ’n spesifieke herwinningsmateriaal se houer se leegmaak. Daar was ’n houer vir karton, ’n houer vir papier, ’n houer vir organiese afval (ja, dit kon lastig raak met muggies as iemand vergeet het om dit uit te gooi), ’n houer vir glas en ’n houer vir metaalblikkies.
Sjoe, en behoede jou as jy nalaat om ’n item in die regte houer te plaas! By omtrent al die supermarkte is daar ’n masjien waar jy “pfand” terugkry. Die “pfand” kry jy vir plastiekbottles, glasbottels of metaalblikkies wat jy in die masjien plaas waarna dit saamgepers word om vir herwinning te gebruik. O, “pfand” is ’n geldjie wat jy dan kry in die vorm van ’n koepon of afslag om in die supermark te gebruik. Goeie dade word beloon.
Die hele ervaring van die bestaan van ’n Erasmuskultuur was ook iets nuuts. Die Erasmuskultuur bestaan natuurlik onder die Erasmusstudente. Die idee van Erasmus is ’n intellektuele sowel as ’n kulturele uitruil. ’n Erasmusuitruil moet dus bydra tot die verryking van jou volle menswees. Die wanpersepsie bestaan egter dat Erasmusstudente net die heeltyd reis en partytjie hou en nie eintlik akademies verkeer nie. Dis nie waar nie.
Erasmus leer jou om hard te werk sodat jy kan hard speel ook. Balans is moontlik en dit is goed as jy dit regkry. Ek dink ook omdat so baie van die Duitse studente self op Erasmus was, het hulle ’n begrip vir die “nuwe” Erasmusgangers. Jy leer nogal dat vooropgestelde idees en veroordeling regtig niemand help nie.
Die stereotipe oor Duitsers wat hard werk en effektiwiteit en produktiwiteit ernstig opneem, is waar. My fiets is in Hildesheim gesteel en ek het ’n klag (met die hulp van my Duitssprekende huismaats) by die polisie gelê vir versekeringsdoeleindes.
Nie eens drie weke later nie, toe het die polisie my fiets opgespoor en ek moes my fiets by die polisiekantoor kom uitken. Dis nou dienslewering!
Dit is algemeen bekend dat die Nederlanders sinoniem is met fietsry, maar die fietsrykultuur is net so groot in Duitsland. Dit was aanvanklik vreemd om daagliks aan die regterkant van die pad te ry en op te let dat daar verskillende verkeersligte vir fietse, voetgangers en motors (en busse) is, maar mens raak dit gou gewoond.
Ek het nie geweet dat Duitsers en Nederlanders hulle skoene uittrek wanneer hulle binnenshuis verkeer nie. Binne die huis loop op jou sokkies rond.! Jy kom dit nie in ’n hotelkamer agter nie.
Laastens is daar baie woude en bosse in Duitsland. Dit is mooi en wonderlik bedags, maar snags is dit ’n ander storie. Die Duitse studente skroom glad nie om bedags of snags ’n kortpad deur die woud of bos te neem nie. Dit is baie donker in die aand en dan sal iemand dit nog met ’n fiets deur die woud waag ook. Die wonderlike is seker dat dit veilig is om in die daglig of in die donker deur die woud te loop.
En nog ’n laaste laastens oor nuwe dinge: Die Duitsers het baie somerfeeste en maak die beste van die sonnige weer. Daar was ’n paar feeste soos naweekfeeste by die verskillende stadsmere in en rondom Hildesheim, fees is gevier in die pragtige tuine in Hannover en dan was daar die hele jaar ook feesvieringe van Luther se 500 jaar van reformasie (dan kom mens ook agter dat ’n duidelike onderskeid nog getref word tussen die Protestante en die Katolieke). Twee feeste wat ek in Hildesheim geniet het, is die Campusfest en die Mittsommernacht.
Die Campusfest is ’n kampusfees om die koms van die somer te vier en klasse eindig vroeër daardie dag en die hele kampus neem deel aan die aktiwiteite. Dit is ’n kombinasie van ’n karnaval, waterkaskenades, speletjiesdag en skoudag. Groot pret (en onthou dit is wettig in Duitsland om in die openbaar alkohol te gebruik).
Dan was daar die Mittsommernachtfees in samewerking met die Universität Hildesheim. Die Mittsommernacht vier natuurlik die langste dag en kortste nag. Die feesaanbiedinge het enige iets van klassieke musiek tot elektro-punkmusiek tot sweefartiste ingesluit en het geëindig met ’n skouspelsagtige vuurwerkvertoning.
Wat was jou gunstelingbesienswaardighede in Duitsland?
Dit is bekend dat die Suide van Duitsland uiters gewild onder toeriste is, maar die Noorde is nie te versmaai nie. Die provinsie Niedersachsen is dalk nie die toeris se eerste keuse wanneer daar aan Duitsland gedink word nie, maar die provinsie se sjarme het regtig my hart gesteel.
Ou stede met kastele, gevestigde universiteite, imposante stadsale, historiese markpleine, museums, houthuise met die mooiste, fynste en gedetailleerde houtwerk, lowerryke bosse en parke en goed versorgde fietspaadjies is volop. Ek moet ook dankie sê aan Elizabeth May en die Hildesheimse Toerismekantoor vir al die pamflette en idees oor wat om te sien en te besoek. Dankie ook aan my getroue reismaats wat elke avontuur met hope geesdrif (en bietjie voorbereiding) aangedurf het.
Die stad Hildesheim is natuurlik ’n moet. Daar is ’n magdom historiese geboue en baie ou kerke. Hildesheim spog met twee kerkgeboue wat sedert 1985 deur UNESCO as Wêrelderfenisgebiede verklaar is, naamlik die St. Michael’s Kerk (St. Michaeliskirche) en die Hildesheim Katedraal (Hoher Dom). Albei is argitektoniese wonders en daar is ook kunsskatte te sien, maar wat my by beide geboue getref het is die absolute sereniteit wat jy ervaar wanneer jy daar is.
Soms as ’n mens ver van die huis af is en verlang, is dit helend om so ’n heilige ruimte te kan betree, stil te word en net ’n kers aan te steek (teen betaling natuurlik wat dien as ’n donasie vir die kerk). By die katedraal groei daar ook ’n roosboom wat na beraming ongeveer 1000 jaar oud is (die Tausendjähriger Rosenstock).
Op 22 Maart 1945 is Hildesheim swaar getref deur die Geallieerders wat die stad gebombardeer het. Die roosboom by die katedraal het wel oorleef, maar die historiese sentrum is byna heeltemal verwoes asook die stad se sinagoge.
Vandag is die markplek herbou en die geboue ten volle gerestoureer. Waar die sinagoge eens was, is daar nou ’n gedenkteken opgerig.
Die beste manier om Hildesheim te ervaar is om na die toeristekantoor te gaan en die gids tot die Rosen Route (die Roosroete) aan te skaf. Die duisend jaar oue roosboom is natuurlik die simbool van Hildesheim veral omdat die roosboom selfs die Tweede Wêreldoorlog trotseer het. Volg die teëls met die embleem van ’n roos op om al die stad se besienswaardighede te bewonder en drink net die mooi en die historiese wat die stad het om te bied, in.
Volgende is die stad Hannover wat dan ook die hoofstad van Niedersachsen is. Daar is ’n rooi lyn wat regdeur die stad gevolg kan word om al die historiese en toeristiese hoogtepunte van die stad te beleef. My drie gunsteling besienswaardighede langs hierdie rooi lyn is: Die nuwe stadsaal (Neues Rathaus) waar jy met ’n hellende hysbak sowat 100 m na ’n platform reis om ’n 360 grade beeld van die stad te kry. Die Nanas, drie interessante beelde (eintlik uitbeeldings van die vroulike liggaam) van die Frans-Amerikaanse kunstenaar Niki de St. Phalle is op die oewer van die rivier Leine in die stad te vind.
Die Nanas is bietjie kontroversieel en het vir heelwat openbare diskoers gesorg toe dit langs die Leine staangemaak is. Dan is daar die Aegidienkirche. Dié kerk is nooit herbou nadat dit vernietig is in die Tweede Wêreldoorlog nie en dien as herinnering dat oorlog nie ’n oplossing is nie. Op baie plekke in Duitsland sal jy vind dat oorblyfsels van die Tweede Wêreldoorlog saam met die nuwe van vandag voortbestaan as herinnering aan die wandade wat gepleeg is. Hannover is een van daardie stede waar oud langs nuut bestaan.
Die eintlike besienswaardigheid wat jy in Hannover moet ervaar is een van die stad se (handel)skoue. Hannover staan nie verniet bekend as die Messe Stadt nie. Die “skou” wat ek bygewoon het is die Hannover Messe. Dit was op aanbeveling van een van my dosente dat ’n mens doodeenvoudig die Messe móét ervaar, al beteken dit dat jy ’n klas of wat gaan mis (onthou, ons mag twee lesings per vak sonder verskoning mis.).
So is ek en my vriendin uit Nederland, Cerise, toe na die Messe. Wat ’n belewenis. Die Messe is die wêreld se grootste tegnologieskou. Met ander woorde, alle nuwe tegnologiese uitvindings wat in industrieë en nywerhede gebruik kan word (letterlik enige masjinerie en uitvindings soos 3D-brille, robotte wat met kunsmatige intelligensie werk en selfs ’n hele uitstallokaal met verskillende soorte “ball bearings”) is daar te vinde. Die uitstaloppervlakte beslaan ’n totaal van 12 000 vierkante meter. Daar was dus baie te doen en te sien.
Göttingen was ook ’n gunsteling bloot omdat die Broers Grimm van die Grimm-sprokies so ’n ryk verbintenis met die stad het. Net die gedagte dat jy moontlik loop waar hulle hulle inspirasie gekry het, is besonders. Jy moet ook net gaan stap op die kampus van die Georg August Universiteit wat al meer as 40 Nobelpryswenners opgelewer het. Baie van hierdie Nobelpryswenners se grafte is natuurlik te vinde in die stad se begraafplaas.
Goslar is geleë aan die voet van die mooie Harzberge. Dit is regtig prentjiemooi. Jy kan jou verwonder aan die mooi stadsplein, die mooi houtafwerkings van die huise en natuurlik die paleis. Wat my egter getref het, is dat Goslar in die gebied is waar die storie van die mitologiese nag van die hekse (Walpurgisnacht) vandaan kom. Skielik kry mens so ’n bietjie van ’n onheilspellende gevoel so tussen al die mooi en groen, maar dis net ’n storie en nou ’n tradisie.
Dan is daar Hameln. Ja, die Hameln soos in die storie “Die rottevanger van Hameln”. Die hele stadjie is vol standbeelde van die rottevanger en hier kan jy al die hoogtepunte van die stad besigtig as jy die bronsplaatjies met rotte volg. Die ou stad is vol sjarme met mooi sandsteengeboue en huise met fraai houtafwerkings en ’n stappie langs die Weserrivier is ’n moet. Maak seker jy sien ’n vertoning van die storie van die rottevanger.
Lüneberg is nog een van daardie sjarmante Duiste stadjies waar jy net verstom staan dat ’n stad wat uit die middeleeue dateer so goed behoue gebly het. Jy kan regtig net deur die stad loop en deur die skoonheid betower word (dit gebeur nogal baie in die kleiner Duitse stede dat jy net betower word).
In Brunswick is daar ook ’n kasteel en historiese stadskern om te verken, maar ook die Happy Rizzi House. Dit is ’n gebou wat deur spotprentkuns geïnspireer is en ontwerp is deur die New Yorkse popkunstenaar James Rizzi en die argitek Konrad Kloster. Jy kan nie help om te glimlag as jy die gebou sien nie.
Die stadjie Wolfenbüttel, waarvandaan Jägermeister kom, en die stad Celle se mooi timmerhouthuisies bekoor jou heeltemal en is ’n hoogtepunt as jy nie gewoond kan raak aan huise wat soos huise uit sprokiesverhale lyk nie. Wat nog van ’n hele stadjie wat soos ’n sprokie lyk.
Bremen was ’n hoogtepunt nie net om die mooie Schnoorgebied te verken nie, maar ook om ’n foto te neem saam met die standbeeld van die musikante van Bremen. Vir enige iemand wat met die storie van die verworpe diere grootgeword het wat ’n groep rowers die skrik op die lyf gejaag het, is dit ’n groot oomblik om self uiteindelik in Bremen te wees.
Die ander hoogtepunt was eintlik om vanaf Bremen na Bremerhaven te reis saam met my Meksikaanse reisgenoot. Ons het per ongeluk op die skeepsdok beland en byna ’n passasierskip gehaal wat bestem is vir die Karibiese eilande. Dit het gebeur omdat ons ’n verkeerde bus geneem het (lang storie en heeltemal onwetend), maar gelukkig het die busbestuurder genoeg deernis gehad om ons terug te neem na die kern van Bremerhaven. Dit was ’n besige dag.
Twee gunstelingbesienswaardighede wat nog uitgesonder kan word is die Elbphilharmonie-gebou in Hamburg, ’n besonderse konsertgebou met ’n uitsig oor die hele Hamburg, en die Völkerschlachtdenkmal in Leipzig wat baie na die Voortrekkermonument in Pretoria lyk.
Leipzig en Hamburg is natuurlik ook geskiedenisryke stede met baie om te sien.
Een van dié grootste hoogtepunte van die Noorde van Duitsland is ’n besoek aan Berlyn. Wie wil nou nie die graffiti-kuns, die dele van die Berlynse muur wat behoue gebly het en die kosmopolitiese karakter van dié stad ervaar nie? Doen al die toeristiese dinge, maar my hoogtepunt was om ’n vertoning van die bekende Blue Man Group te gaan kyk.
Jy moet doodeenvoudig een of ander vertoning van een of ander aard in Berlyn bywoon. Ek was gelukkig genoeg om Berlyn saam met Jan, een van die TZN-gangers, te ervaar. Dit is natuurlik die voordeel van uitruile en somerskole dat mense jou nooi om vir hulle te gaan kuier.
Het jy enige interessante geregte geëet?
O, ja! Wel, ek het interessante en nuwe kosgewoontes beproef. In Gent is daar ’n lekkerny, die Gentze neuzen. Dit het amper die tekstuur van die Nederlandse drop aan die buitekant en is gevul met so ’n suikerstropie. Vir die eerste keer het ek ook Belgische stoofpot in België geëet. Stoofpot is eintlik maar ’n vleisbredie wat vir ure lank op die stoof prut. Heerlik.
Met alle eerlikheid kan ek sê dat ek minstens 12 van die 500 verskillende biere wat in Gent gebrou word op die proef gestel het. Daar was ook ’n besoek aan die legendariese Belgiese Jenewerkroeg ‘t Dreupelkot waar jy omtrent enige soort gegeurde Jenewer sal kan vind.
In Duitsland was die interessantse gereg seker ’n tipe gestoofde varkpootbredie, lekker sagte vleisies, en dan is “curry wurst” ’n nuwe gunsteling. Curry wurst is gewone Bratwurst wat bedien word met ’n kerrietamatiesous (en gewoonlik saam met skyfies.).
Dan was daar die bekende Döner en Döner Kebab wat by die Turkse restaurante in verskillende variasies (bees, hoender, lam of vegetaries, wat gewoonlik maar falafel as vulsel in gehad het) beskikbaar was (ook dikwels met skyfies). Spätzle is ’n tipe Duitse pasta wat nogal herinner aan gnocchi, maar spätzle is kleiner en dit proe elke keer na nog, al is dit baie versadigend.
Ja, natuurlik het ek ook schnitzel met verskillende souse probeer en my gunsteling is schnitzel met pynappelringe en bessiekonfyt (en vanselfsprekend die aartappelskyfies wat daarmee saam bedien word).
Daar is regtig baie soorte wors in Duitsland. Ek was maar vervelig en het die meeste van die tyd Bockwurst of Bratwurst geëet. Wat ek wel geleer het, is om mark toe te gaan en die wors by al die verskillende stalletjies te proe en so te leer waarvan jy hou.
Koop dan die wors waarvan jy hou en as jy teen die volgende week vergeet het wat die naam van die wors is of by watter stalletjie jy dit gekoop het, dan doen jy maar net weer ’n worsproe. Die verkopers is gewoonlik baie vriendelik gewees en vertel graag meer oor die soorte worse sou jy vrae hê.
Die Duitsers eet graag aartappels, is lief vir appelmousse as ’n bygereg by omtrent alles en eet suurkool (sauerkraut) saam met byna elke gereg. Die suurkool is eintlik lekker en goed vir die spysverteringskanaal. By die Mensa by die universiteit was die geregte dikwels tradisionele Duitse geregte soos Eisbein, Kasslertjops en kalkoenborsies, maar ek moet bieg, daar is so baie lekkernye in Duitsland beskikbaar dat ek nie altyd so gesond geëet het nie.
Tipies student was die 900 g Nutella-fles by supermarkte vir minder as vier euro net onweerstanbaar (met 75 g gratis) en het dit ’n stapelproduk in my koskas geword. Daarmee saam was daar op sekere dae van die week spesiale aanbiedinge op Ritter Sport-sjokolade en om by die Ritter Sport-sjokolade uit te kom moes jy verby al die Kindersjokolade produkte loop.
En om by die sjokolade uit te kom, moet jy eers verby al die soorte pretzels en paprika-skyfies loop. En ’n mens kan nie net verby versnaperinge loop sonder om dit ook in jou mandjie te sit nie — netnou kry jy lus daarvoor. Daar was ook Ovalmaltine vir wanneer mens nou sou moeg raak vir Nutella. Ovalmaltine is ’n tipe sjokoladesmeer met bros sjokoladekoekies in die smeer. Lekker. Die Nederlandse sjokoladedrankie Chocomel was ook in eenliterbokse te koop in die Noorde van Duitsland. Dit was ook gereeld in my kosmandjie.
Daar is meer as 600 soorte brood te koop in Duitsland en dit is nie vreemd om in ’n supermark 30 soorte brood teë te kom nie. Gaan dan bakkery toe en jy word oorrompel met nie net die heerlike geure van varsgebakte brood nie, maar ook ’n duiselingwekkende verskeidenheid brood. Daar is wel ook nie net brood nie, maar die smaaklikste fyngebak.
Die supermarkte en afdelingswinkels is nie op Sondae oop nie, maar die bakkerye en restaurante wel. En wat is nou lekkerder op ’n Sondagoggend (voor en ná kerk) as vars brood en ’n varsgebakte stukkie fyngebak? My gunsteling varsgebak was Bienenstich (bysteekkoek) — dit is soos ’n vlaskyf maar in koekvorm.
Dan is daar ook die immergewilde Bretzel (die broodweergawe van ’n pretzel) wat bekostigbaar en versadigend is. Jy sal vir twee euro ’n blik bier en ’n bretzel vir middagete by ’n supermark kan koop. Ag, en as jy nie jou bretzel “skoon” wil eet nie is daar ’n wye verskeidenheid koue vleise om van te kies om daarmee saam te eet.
Een van my huismaats was ’n groot bakster. Alles van kersietert tot appeltert tot neutkoekies het sy gebak en gedeel. Dit was dus nie altyd nodig om bakkery toe te gaan vir fyngebak nie. ’n Ander huismaat was weer ’n groot aanhanger van die reeks gevriesde geregte en pizzas van die handelsmerk Dr Oetker. Ek het dit ook probeer, maar alhoewel dit gerieflik is, proe dit nie tuisgemaak nie.
Die laaste interessante kos wat ek in Duitsland teëgekom het, was Banaanweissbier. Dit is piesangpulp wat by Weissbier gevoeg word. Dit klink vreemd, maar smaak vorentoe.
Wat was jou gunsteling Duitse gesegde?
Kan ek darem sê dat ek een nuwe gunsteling Nederlandse frase tydens die TZN ook geleer het? Die frase is: “Goed verhaal. Lekker kort, hoor”. Jy gebruik dit in ’n situasie waar iemand ’n storie vertel wat te dik vir ’n daalder is.
Ag, en eintlik is die Nederlanders se “doe maar” tog maar so ’n nuttige frase vir wanneer iemand iets doen en sê waarmee jy nie saamstem nie, maar hulle tog maar laat begaan. Wanneer dit so vreeslik baie reën, troos die Nederlanders hulle daaraan dat dit “alles goed is voor de plantjes”.
Kyk, my Duits is maar skraps gewees toe ek daar aankom, so dit was ’n hele nuwe taalwêreld wat oopgegaan het en hier is my gunsteling Duitse frases en gesegdes:
Genau (Dit beteken enige iets van instemmend wees tydens ’n gesprek om te kenne te gee dat jy luister na jou gespreksgenoot tot “ja”.)
Egal (Om’t ewe.)
Ich verstehe nur Bahnhof (Grappenderwys gesê wanneer jy nie verstaan wat gesê word nie. Die letterlike vertaling is “Ek verstaan net stasie”.)
Das ist schnee von gestern (Dit is ou nuus. Die letterlike vertaling is “Dit is gister se sneeu”.)
Danke aber nein (Dankie, maar nee dankie. Dit is nuttig om te gebruik in ’n verskeidenheid kontekste.)
Schönes Wochenende (Mooi/ Lekker naweek!)
Gleichfalls (Insgelyks of dieselfde vir jou.)
Essen ist ein Bedürfnis, Geniessen ist eine Kunst (Hierdie spreuk was teen die kombuismuur in my seksie in die studentewoning opgeplak. Dit beteken dat dit maklik is om iets te eet, maar om dit wat jy eet te geniet, ’n kuns is.)
My een Duitse huismaat het baie hard probeer om Duitse gesegdes by my vas te lê, maar bogenoemde is die wat vasgesteek het. So het twee van my ander Duitse huismaats ook uitsluitlik Duits met my gepraat om seker te maak ek hoor darem genoeg Duits.
Dan wil ek graag nog net dankie sê aan almal wat my studiebesoek ondersteun het en moontlik gemaak het.
In die besonder Heid en Getrud Faass van die Institut für Informationswissenschaft & Sprachtechnologie by die Universität Hildesheim; Steffi Dannenberg van die internasionale kantoor van die Universität Hildesheim; my Mitbewohnerinnen Anja, Alex en Nadine; Els Verscheure wat die TZN reël en laastens al my Erasmusvriende en vriende van die TZN wat my begrip van “cultural knowledge” en “cultural understanding” verbreed en verryk het.
- Foto’s: verskaf
............
Lees ook
Meestersgraadstudies in Frankryk: ’n onderhoud met Janet Vermaak
Kuils River law student heading to the Netherlands on prestigious Mandela Scholarship
België-studie-uitruil en die Jongerenprojek: ’n onderhoud met Aletta Simpson
Groningen-studie-uitruil: ’n onderhoud met Shawna-Leze Meiring
LitNet-argief: Vyf Suid-Afrikaners en die Taalunie Zomercursus Nederlands (TZN) 2017
Buro: MvH