Den Haag-studie-uitruil: ’n onderhoud met Tenita Kidelo

  • 0

Tenita Kidelo

Tenita Kidelo is van De Doorns en is tans besig met haar meestersgraad in Afrikaans en Nederlandse Letterkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

Sy het vir ses maande in Den Haag gewoon. Cliffordene Norton gesels met haar oor haar tyd in die pragtige stad.  

Jy het onlangs in Nederland gewoon. Hoe vergelyk jou tuisdorp, De Doorns, met Den Haag, Nederland?

Ek het onlangs in die Suide van Holland gebly, meer spesifiek Den Haag. Wat vir my, met die eerste oogopslag, opvallend anders was van Den Haag was natuurlik die hoeveelheid fietse en treine.

In my tuisdorp maak ons noodsaaklik gebruik van taxi’s as publieke vervoermiddel.

Den Haag het egter busse en treine (wat 99% van die tyd betyds is). Alles is omtrent loopafstand van jou af en hulle het ’n groot verskeidenheid winkels wat voorsiening maak vir elkeen se behoeftes. Dis regtig baie veilig, soveel só dat jy per fiets twee-uur in die oggend huistoe kan ry.

Dan wil ek nie eers praat van die onbeperkte Wi-Fi ontvangs nie, dis soos in oral, selfs op die strand. Kan jy dit glo?

Dit was beslis besiger as die plaaslewe waaraan ek gewoond is.

Van links: Hollandspoor-treinstasie; in Amsterdam; Scheveningenstrand, Den Haag

Jy het onlangs Nederland besoek as deel van die uitruilprogram. Het jy aansoek gedoen en wat was die proses?

Ek was eintlik deur my departement (Departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) geselekteer om aansoek te doen vir die SEA Scholarship. Dit is ’n scholarship wat jou in staat stel om vir ses maande aan Leiden Universiteit te studeer.

Ek het my kans gevat, oë toe geknyp en die aansoekvorms wat ’n CV, motiveringsbrief, volledige akademiese rekord en MA-navorsingsvoorstel insluit, ingestuur. Daarna het ons internasionale kantore kennis van ontvangs aangeteken en ek moes soos al die ander kandidate wag vir die uitslae.

Dit was omtrent ’n stresvolle tyd vir my, eerlikwaar. Ek het al hoe minder begin slaap en in my kop het ek myself oor en oor voorberei vir die “worst case scenario”. 

Ek het eintlik al bietjie vergeet van die hele besigheid toe my studieleier my eendag op kampus nader roep en met gelukwense oorval. Ek het die vrou so verbouereerd aangekyk en net bloot gevra wat gaan aan. Sy het gevra of niemand my nog gekontak het oor Leiden nie en net daar het ek in trane uitgebars. Dat die Here nou vir ’n eenvoudige plaaskind soos ek so ’n groot deur oopmaak was vir my net te oorweldigend.

Na die trane en snikke was dit all systems go met die reëlings, vanaf die gesukkel met visa-aansoeke tot die goedkoopste vlug bespreek. So stresvol soos dit was, was dit ook vir my die beste tyd van my jong lewe.

In Rotterdam

Was hierdie jou eerste reis na Nederland?

Hierdie was egter nie my eerste reis na Nederland nie en daarom was die opwinding, dink ek, dubbel soveel. Ek het in 2017 deel gevorm van die Jongerenprojek (JP) wat elke tweejaarliks ’n groep Suid-Afrikaanse studente na België en Nederland neem om meer oor die kultuur en lande te leer.

Sadly het hierdie JP-reis net ’n maand lank aangehou. Ek was, om die minste te sê, glad nie uitgekuier in Nederland nie. Ek wou nog soveel sien, soveel ervaar en soveel nuwe mense ontmoet.

So toe ek hierdie scholarship kry, het ek uit my vel uit gespring (dis nou ná die tranedal).

Hoe lank was jy daar?

Hierdie keer kon ek langer bly, ’n volle ses maande langer, ’n halwe jaar. Laat dit nou insink.

Eers was ek bietjie skepties oor die halwe jaar-saak, want wat maak ek sonder my ma vir ’n halwe jaar, sonder my familie oor Kersfees en sonder die somerson in November?

Maar ek het navorsing gaan doen oor winters in Europa en toe ek eers die mooi prentjies oor sneeu sien was ek so te sê “sold” op die hele idee. En voor ek my oë kon uitveë en nog wou tel hoeveel maande oor is, was dit alweer tyd om op te pak.

Japanese tuin in Clingendael Park

Wat het jy verwag van Nederland voordat jy op die vlug geklim het?

Om eerlik te wees kan ek nie vir jou ’n reguit antwoord gee nie, maar ek weet dat ek iets anders verwag het.

Die eerste keer met die JP was ek te senuweeagtig om die nuwe groep mense, saam met wie ek reis, te ontmoet en ek was ook nog baie bang vir die hele oorsee-besigheid.

Dit was immers my eerste kennismaking met ’n vliegtuig, maar die tweede keer het ek van beter geweet.

Ek kon nie wag om weer ver te reis met die trein nie, maar ongelukkig het dit daardie dag so gereën dat ek doodeenvoudig ’n privaat taxi moes neem.

Wat was jou eerste indrukke van Nederland toe jy van die vliegtuig afgeklim het?

Ek sal jou hier terugvat na my JP-2017 ervaring, aangesien dit die eerste was. So moeg soos wat ons was, kon ons nie wag om uit die vliegtuig te klim nie. Dit het begin voel asof die mense net te stadig beweeg.

Toe ons uiteindelik buite kom, ons tasse gekry het en ons eerste toergids ontmoet het, was ons op die volgende trein uit.

Die hele treinrit het bestaan uit opwindende “Oe kyk daar” en “awww dis so mooi”-opmerkings. Ons het by die vensters uitgehang soos klein kinders en opmerkings soos “ons is van SA” geskree.

Alles was prentjiemooi en ek was dadelik opgewonde vir die res van die toer en om die res van die land en ander lande te sien.

In Leiden

Hoe verskil die Nederlandse universiteit waar jy studeer het van ’n Suid-Afrikaanse universiteit?

Ek het aan die Universiteit Leiden studeer en dis so 15 minute met die trein uit Den Haag. Hulle klasse is baie langer as ons s’n.

Ek het byvoorbeeld aaneen klas gehad vanaf twee-uur die middag tot vyf-uur met slegs ’n 30-minute pouse. Daar was dae waarop ons selfs in die botaniese tuin klas gehad het. Klasse het ook soos by die UWK bestaan uit “PowerPoint presentations” en alle ekstra inligting of klasnotas word dan daarna op “blackboard” geplaas.

Verder het jy ook jou kleiner groepsklasse gehad waar jy meer indiepte kon gesels oor onderwerpe wat jy dalk nie so lekker begryp nie. Dosente het ook maar verskeie kontaktye en indien jy ’n toets of eksamen mis, moet jy nes hier in SA, ’n geldige doktersbrief of bewys hê.

In talle opsigte was dit vir my nie baie anders as UWK nie.

Is daar ’n enige verskille tussen die Nederlandse en Suid-Afrikaanse studentekultuur wat jy opgelet het? Is daar enige ooreenkomste?

Nie veel verskille nie – student bly maar student oor die grense heen. Behalwe vir die feit dat die meeste van hul studentepartytjies in die middel van die week plaasvind, weet hulle ook soos SA studente hoe om lekker te kuier. Nes hier bestaan daar ook verskillende studenteverenigings en jou verskillende klieks.

Tensy jy by jou ouers bly, is goedkoop wegneemetes ook maar so te sê jou voorland (bygesê as jy die nodige fondse het).

Het jy enigiets nuuts oor die Nederlandse taal en kultuur geleer?

Sinterklaasavond – dis eintlik die aand waar almal hulle geskenke uitdeel. Maar voor die aand moet jy heeltyd op die uitkyk wees vir Sinterklaas en sy klein kabouters, hulle besoek al die dorpies.

Links: Groot kersfeesboom (Grotemarkt); regs: Royal Christmas fair in Den Haag

Wat was jou top-tien-hoogtepunte van jou Nederlandse besoek?

Dis moeilik om net tien te lys, maar ek sal my bes probeer. In geen volgorde van beter na beste nie, net sommer so randomly:

  • Die New Years Eve festival and countdown: Dit was beslis die beste vuurwerke wat ek nog gesien het. Almal was so gesellig en vriendelik en al was ons ’n klomp internasionale studente bymekaar, het ons luidkeels saam met die Hollandse volk in Nederlands afgetel vir die nuwe jaar.
  • Die eerste sneeuval. Ek kan mooi onthou dat ek vroeg gaan slaap het daardie aand, my huismaats het my kom wakker maak en ons het dadelik musiek aan gesit (alle liedjies wat met sneeu te doen het, was gepas vir die geleentheid). Ons het warm sjokolade gemaak, koekies geëet en lekker saam gesing tot in die vroeë oggendure (mind you dit nogal met ’n oop kombuisvenster).
  • Beslis stroopwafels in al sy vorme, warm of koud. Niks beter as ’n koppie tee met stroopwafels daarby nie. Hierdie was natuurlik my trooskos saam met al die ander lekkernye wat ek daardie kant ontdek het. Gepraat van lekkernye, hulle het regtig die mees fassinerende kombinasies van eetgoed, eetgoed wat ek nou nogal baie mis.
  • Die Zuid-Afrikaanse feeste in Haarlem en Amsterdam, wat my laat snik het van verlange. Die reuk van melktert en kerrie het my hart na my ma se kombuis laat verlang. Frazer se musiek het die “kamma-sterkvrou” muurtjie wat ek opgebou het, vinnig weer afgebreek en om die taal Afrikaans weer te hoor, was hemels.
  • Dan was daar natuurlik die kersfeesmarkies met al die klein huisies geheel en al soos op die televisie. Daar was soveel vader krismisse dat die hele besigheid my later begin uitfreak het. Jy het byna om elke hoek en draai in een vasgeloop.

Voor die Mauritshuis-museum in Den Haag

  • In November, of was dit nou Desember, het ek gegaan na wat hulle ’n “Carnavali” noem. Aanvanklik het ek gedink dat dit soos ’n karnaval gaan wees, jy weet met cool rides en ’n big wheel, maar boy oh boy was ek in vir ’n surprise. Die hele affêre het bestaan uit weird en creepy goed. Van vuurdansers (wat cool was) en spookhuise tot manne wat voorwerpe met hul tande optel.
  • Gepraat van spookhuise en wankommunikasie, die Onset-Festival was toe meer soos ’n karnaval/ mallemeule. Daar het ek bykans die dak van die spookhuis afgeskree op ons mini toer. Ek weet nou verseker dat ek nie een vir donker hoekies en grillerige goed, wat sommer so uit die bloute aan jou raak, is nie. Ek het om die minste te sê die volgende dag met ’n seer keel en ’n sexy, husky stem opgestaan.
  • Ek het ook kennis gemaak met my heel eerste Chinese restaurant en “chopstix”. Was dit nou vir jou ’n storie om daai twee stokkies gebalanseerd en stewig tussen my klein vingers te kry, maar aan die einde van die dag het ek letterlik “elke stokkie op sy plek gesit” en laat wiel. Ek is nou ’n vaardigheid ryker te danke aan my Chinese maatjie Emily en die res van die groep om die tafel wat my mislukte pogings so mooi aangemoedig het met ’n probeer tog weer!

Full Moon City (Dim Sum en Cantonese cuisine) in Den Haag

  • Kersfees met my 2017-gasfamilie. Ek het eintlik so baie tyd met hulle spandeer terwyl ek daar was en as gevolg van hulle kon ek meer plekke sien. Hulle het regtig al die verlange by die venster laat uitvlieg. Van laataand wandel op die strand tot eenvoudige geselsies oor die lewe.

Leiden-stadsaal: by die scholarship award ceremony

  • Natuurlik die aand van die “scholarship award ceremony” waar ons die geleentheid gehad het om die burgermeester van Leiden te ontmoet. Hier het ons kennis gemaak met ander internasionale studente en ons sertifikate ontvang. Daarna was dit eet en drink tot jy nie meer kan nie!

◊ Foto’s: verskaf 

............

 Lees ook 

Meestergraadstudies in Londen: ’n onderhoud met Marina Pienaar

Leuven-studie-uitruil: ’n onderhoud met Sandri Smit

Meestersgraadstudies in Frankryk: ’n onderhoud met Janet Vermaak

Kuils River law student heading to the Netherlands on prestigious Mandela Scholarship

België-studie-uitruil en die Jongerenprojek: ’n onderhoud met Aletta Simpson

Leiden-studie-uitruil: ’n onderhoud met Carmi Britz

Duitsland-studie-uitruil: ’n onderhoud met Giselle Botha     

Groningen-studie-uitruil: ’n onderhoud met Shawna-Leze Meiring

Leiden-studie-uitruil: onderhoud met Marlies Haupt

African ties to the "hermit kingdom": an interview with Leiden University PhD student, Tycho van der Hoog

"The gift of the Nile is shared by 11 countries with various ethnicities, cultures and needs" – an interview with Leiden University PhD student, Abeer Abazeed

"Especially poor women with diabetes suffer in South-Africa": An interview with Chipo Mutyambizi, PhD student

Jongerenprojek Netwerk 2019

Verslag Jongerenproject 2018

LitNet-argief: Vyf Suid-Afrikaners en die Taalunie Zomercursus Nederlands (TZN) 2017

’n Skool van ’n voorstad van Kaapstad verken Nederland

Bezoek uit Bellville

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top