België-studie-uitruil en die Jongerenprojek: ’n onderhoud met Aletta Simpson

  • 0

Aletta Simpson

Aletta Simpson, ’n student aan die Universiteit Stellenbosch, is geen vreemdeling as dit by studie-uitruilprogramme kom nie, en het in die afgelope twee jaar onder meer twee keer België besoek as deel van studie-uitruilprogramme.

Aletta het verlede jaar deelgeneem aan ’n uitruilprogram na België, en hierdie jaar aan die Jongerenprojek.

Die Jongerenprojek Netwerk (JPN) is ’n uitruilprogram tussen Nederland en Vlaandere, en Suid-Afrika en Namibië.

Een jaar ontvang die Lae Lande ’n groep Suid-Afrikaanse studente, en dan onthaal Suid-Afrika die volgende jaar ’n groep studente vanuit die Lae Lande.

Aletta is tans ’n BA Geesteswetenskappe-student aan die Universiteit van Stellenbosch.

Iets wat haar veral bygeval het van haar oorsese reise, is dat Nederlanders en Belge, volgens haar, anders voel oor die verhouding tussen taal en identiteit as wat Afrikaanse Suid-Afrikaners voel.

Dit en die hoeveelheid brood wat die Belge en Nederlanders eet!

Aletta vertel meer oor haar Europese ervaring.

Ons eerste dag in Gent

Aletta, jy is 'n student aan die US? Wat studeer jy tans?

Ek studeer BA Geesteswetenskappe aan die US. My twee hoofvakke is Afrikaans en Nederlands, en Engels. Ek is in my finale jaar. 

In Gent met ons eerste "fritjes"

Gent van bo uit die toring van die Belfort-toring

 Waarom studeer jy juis dit, waar kom jou liefde vir jou studieveld vandaan?

Ek was van altyd af mal daaroor om kreatief te wees, maar veral mal oor stories. My ouers sê hulle het my as klein kind dikwels alleen in my kamer betrap besig om prenteboeke deur te blaai nog voor ek kon lees.

Nou kan ek voltyds stories (krities) lees en ’n graad daarvoor kry. Dit is natuurlik ’n oorvereenvoudiging, maar ek word steeds kinderlik opgewonde oor literatuur en ek voel baie bevoorreg om te kan studeer wat ek studeer. 

In Gent

Jy het al aan ’n uitruilprogram na Gent in België deelgeneem en was ook hierdie jaar deel van die Jongerenprojek-uitruil. Vertel asseblief meer.

Verlede jaar het ek ’n tien-dagkursus aan die Universiteit van Gent  bygewoon. Dit was ’n internasionale kursus van die Nederlandse Taalunie vir studente wat in verskillende lande in die wêreld kies om Nederlands te studeer. My Nederlandse dosent aan die US het hierdie kursus vir my aanbeveel. 

Muiderslot in Nederland

Hierdie jaar het ek drie weke lank saam met die Jongerenprojek-Netwerk in Vlaandere en Nederland getoer. Hierdie keer was ek deel van ’n groep van dertien Suid-Afrikaners (elf studente en twee begeleiers).

Die doel van hierdie toer was ’n kulturele uitruil. Elke tweede jaar gaan daar studente van Suid-Afrika en Namibië na Nederland en België en elke ander jaar kom besoek studente van Nederland en België Suid-Afrika. 

Kröller-Müller Museum in Nederland

Ek het albei hierdie toere gedoen, omdat ek graag my Nederlands wil verbeter.

Die ander rede hoekom ek hierdie toere gedoen het, is omdat ek agter gekom het dat wanneer jy iemand se storie werklik wil beleef en begryp, moet jy dit eintlik in hulle taal ervaar.

Dis moeilik om te beskryf presies wat gebeur wanneer jy vir die eerste keer ’n ander land beleef met die kennis van hulle taal, maar dit is regtig asof jy ingelaat word op die geheim van ’n hele ander wêreld.

Ek verwys ook spesifiek na die effek van wat kennis van ’n nuwe taal (in hierdie geval Nederlands) het op die ervaring van literatuur (in hierdie geval Nederlandse literatuur). Ek het byna geen aandenkings gekoop nie, maar ek het my heeltemal vergryp aan tweedehandse Nederlandse boeke!

Brussels

Was verlede jaar se uitruil die eerste keer dat jy België besoek het?

Verlede jaar was die eerste keer dat ek België besoek het en ek het hoofsaaklik tyd spandeer in Gent. Dit was tien dae.

Kasteel van Gaasbeek in België

Hierdie jaar was ons aansienlik langer in België en in meer streke. Ons het begin met ’n paar lesings in Gent.

Verder het ons Brussel, Leuven en Hasselt besoek. Daarna het ons ook Den Haag, Leiden, Rotterdam, Amsterdam en De Valuwe in Nederland besoek. Hierdie toer het om en by drie weke geduur. 

Kasteel van Gaasbeek

Hoe verskil ’n universiteit in België van ’n Suid-Afrikaanse universiteit?

Ek was aangenaam verras dat die US se fasiliteite en die fasiliteite by die Universiteit van Gent baie goed vergelyk. Ek dink dit is veilig om te sê dat Stellenbosch Universiteit se fasiliteite wêreldklas is. Ek het wel in beide gevalle ’n somerkursus bygewoon en nie gewone klas nie, maar ek het gevind dat ons dosente ook goed vergelyk.

Ek was wel beïndruk met die interaktiewe metodes van die dosente met die eerste kursus wat ek in Gent verlede jaar bygewoon het. Alhoewel die lesings hierdie jaar net so interessant en verrykend was, het ek ook besef dat nie alle Belgiese en Nederlandse dosente van hierdie metodes gebruik maak nie. 

My eerste gasouers se tuin in Halle

Blomme in die tuin

Dit is waarskynlik nie die antwoord wat ’n mens sou verwag nie, maar die mees opvallendste verskil is die geboue. In België bou hulle geboue wat die hitte moet binne hou. Dit is natuurlik ideaal vir die Europese winter, maar in die somer beteken dit dat die lokale nogal warm is.

Gent

Het jy enigiets nuuts oor die Belgiese taal en kultuur geleer?

Iets wat vir my hierdie keer baie opvallend was, is dat Nederlanders en Belge anders voel oor die verhouding tussen taal en identiteit as wat Afrikaanse Suid-Afrikaners voel.

In Suid-Afrika het verskillende Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners verskillende opinies oor die rol wat Afrikaans speel en hoe Afrikaans moet ontwikkel en hoe dit gepraat moet word, maar iets wat ’n mens by alle Afrikaanssprekendes ervaar, is ’n emotiewe verhouding met hulle taal.

Nederlandssprekendes gaan baie meer pragmaties om met taal. Dit is nie dat hulle nie glo dat die taal belangrik is en dat dit bestudeer en ontwikkel moet word nie, maar hulle raak letterlik minder emosioneel oor die saak.

Ons het verskeie gesprekke gehad oor die verband tussen die stand van Afrikaans en die stand van Nederlands en dit was vir my elke keer opvallend hoeveel emosionele passie dit by die Suid-Afrikaners wek en hoe vreemd hierdie passie was vir die Nederlandssprekendes in die gesprek. Ek dink beide partye kan iets by die ander leer. 

Bokrijk, België

Bokrijk

Dit was vir my ook opvallend dat die meeste Nederlandssprekendes wat ons ontmoet het ook Duits, Frans (veral in België) en ’n bietjie Engels, maar selfs Afrikaans of Latyns kon lees of praat. Die meertaligheid van hierdie mense was vir my indrukwekkend. 

Bokrijk

Hierdie jaar het ons ook verblyf ontvang van gasgesinne en iets waaroor die Suid-Afrikaners nogal baie gekla het (nie dat daar veel was om oor te kla nie, die toer was fantasties), is die hoeveelheid brood wat die Belge en die Nederlanders eet!

Ons het elke dag vir ontbyt en middagete brood geëet en dikwels was daar iets op die brood gesmeer wat ’n suikerbasis het, naamlik sjokoladesmeer of konfyt of iets soortgelyks. Ons is regtig bederf met ons vleis en groente in Suid-Afrika wat van so ’n hoë gehalte is en so vrylik beskikbaar is. 

Uitsig op ’n seiltog van Dordrecht na Amsterdam

Wat was jou gunsteling besienswaardighede?

Ek is mal oor Gent. Gent is een van die mooiste stede, maar dit is ook nog ietwat van ’n onverwagse skat en daarom is dit nog nie so toeristies soos byvoorbeeld Brugge nie.

As ’n mens die voorreg het om jouself so bietjie te verdiep in Gent, voel jy sommer vinnig asof jy nie meer ’n toeris is nie, maar asof jy daar hoort. Gent se middestad is ook nie vreeslik groot nie, wat dit maklik maak vir ’n besoeker om hul weg te vind. 

Amsterdam, Nederland

By die Universiteit van Amsterdam

Persoonlik is ek mal daaroor om museums te besoek.

Gent het twee groot museums, die MSK en die S.M.A.K. Die een het klassieke kuns en die ander meer moderne, eksperimentele kuns. Dit is vir my ’n aangename ervaring om hierdie museums te besoek en die uiters verskillende ervarings en kunswerke te vergelyk. Vir die klassieke kuns in die MSK het ek baie respek. Dit is indrukwekkende kuns.

Die moderne kuns in die S.M.A.K. kan ook indrukwekkend wees, maar dit is soms ook bedrieglik eenvoudig en daarom is dit ook soms lekker om hierdie kuns te sien, omdat daar dikwels gefokus word op wat presies kuns nou eintlik is. Hierdie fokus suggereer ook dat enigiemand ’n kunstenaar mag wees en ek vind dit inspirerend. 

Hasselt

Gent het ook ’n ou kasteel in die middel van die stad asook ’n vreeslike mooi katedraal, Sint-Baafskatedraal, wat die moeite werd is om te besoek. Dit is ook besonders om die stad te bekyk van die Belfort se toring. 

 Het jy enige interessante geregte geëet?

In Gent is daar verskeie friture waar ’n mens Belgiese friet (slaptjips) met mayonaise kan eet. Dit is een van my gunstelingdisse. 

Straatkuns in Hasselt

Van my reisgenote het wel haring in Nederland geëet, maar ek was nooit braaf genoeg nie. Ek het wel by een van my gasgesinne Indonesiese reisstoof geëet. Een van die gasouers het familie in Indonesië gehad en hulle het self ook ’n paar jaar in Indonesië gebly.

Hulle dogter het verduidelik dat dit nie noodwendig is hoe Indonesiërs eet nie, maar eerder die manier waarop die Nederlanders gekook het met die bestanddele tot hulle beskikking in Indonesië. Daar is ooreenkomste met die Maleisiese kos wat ’n mens in die Kaap kan eet. 

Rotterdam

Wat was jou hoogtepunt van die ervaring?

Dit is vir my fantasties om die voorreg te hê om so lank in een stad te kan bly. Die tyd wat ek in Gent spandeer het was vir my besonders, omdat ons lank genoeg gebly het om die stad regtig te leer ken. Jy kry selfs ’n gunsteling winkel en “jou” plekkie op die gracht.  

Dordrecht in Nederland

Sal jy weer een van die lande besoek?

Ek sal beslis weer België besoek. Ek het nog net Antwerpen se stasie gesien, maar het nog nie die res van Antwerpen besoek nie en wil dit nog baie graag doen. Ek wil ook graag nog langer tyd in Leuven en in Brugge deurbring. Dan sal ek natuurlik ook weer graag op “my” plekke op die gracht in Gent wil gaan sit.

  • Foto’s: verskaf

Lees ook 

Kuils River law student heading to the Netherlands on prestigious Mandela Scholarship

Den Haag-studie-uitruil: ’n onderhoud met Tenita Kidelo

Duitsland-studie-uitruil: ’n onderhoud met Giselle Botha     

Leiden-studie-uitruil: ’n onderhoud met Carmi Britz

Groningen-studie-uitruil: ’n onderhoud met Shawna-Leze Meiring

Leiden-studie-uitruil: onderhoud met Marlies Haupt

African ties to the "hermit kingdom": an interview with Leiden University PhD student, Tycho van der Hoog

"The gift of the Nile is shared by 11 countries with various ethnicities, cultures and needs" – an interview with Leiden University PhD student, Abeer Abazeed

"Especially poor women with diabetes suffer in South-Africa": An interview with Chipo Mutyambizi, PhD student

Jongerenprojek Netwerk 2019

Verslag Jongerenproject 2018

LitNet-argief: Vyf Suid-Afrikaners en die Taalunie Zomercursus Nederlands (TZN) 2017

’n Skool van ’n voorstad van Kaapstad verken Nederland

Bezoek uit Bellville

Buro: MvH
  • 0
Top