“In die finale ronde van oudisies by die Royal College of Music het ek gestaan op die bekende Britten Theatre se verhoog en moes myself herinner dat ek regtig op daai verhoog staan en sing vir die hoof en onderhoof van sang en opera.”
Wat eens ’n droom was, is nou ’n werklikheid vir Marina Pienaar, wat tans besig is met ’n meestersgraad in musiek aan die Royal College of Music in Londen. Marina, wat aan die Universiteit Stellenbosch musiek studeer het, kon haar geluk nie glo toe sy aan die prestigeryke Royal College of Music aanvaar word nie, en lewe nou haar droomlewe in Londen.
Marina vertel meer oor haar ervaring in Londen tot dusver.
Marina, jy was ’n student aan die Universiteit Stellenbosch en studeer nou aan die Royal College of Music in Londen. Vertel asseblief meer oor jou studies: wat jy studeer en waarom?
Ek is tans besig met ’n meestersgraad in musiek, of meer spesifiek sang.
Ek wil graag die operabedryf betree in die toekoms, dus was die volgende natuurlike stap na ’n BMus-kwalifikasie om nog twee jaar aan ’n meestersgraad te bestee.
Die Royal College of Music is ’n konservatorium, dus is my kursus spesifiek meer gefokus op my praktiese opleiding. Dit beteken dat al my klasse van ’n praktiese aard is; met ander woorde in al my klasse is ek veronderstel om te sing. ’n Mens kan byna sê dat my klasse almal soos sangwerkswinkels is.
Waarom het jy besluit om by hierdie spesifieke instansie te studeer?
Om eerlik te wees was dit nog altyd een van my drome, maar omdat ek dit altyd as net ’n droom beskou het, was dit nooit vir my ’n realistiese opsie nie. Maar in Augustus 2018 het die Guildhall School of Music and Drama kom meesterklasse aanbied by verskillende universiteite in Suid-Afrika en my toe genooi om ’n oudisie by Guildhall te doen.
Dus het ek in Desember 2018 ’n oudisietoer in Londen aangepak. Ek het by die Royal College of Music, Royal Academy of Music, en die Guildhall School of Music and Drama oudisies afgelê. Ek is by al drie universiteite aanvaar en is ook beurse by elke universiteit aangebied. Maar tog het die Royal College of Music my die meeste gelok. Ek sal nooit vergeet toe ek die eerste keer voor hierdie magiese rooibaksteengebou gestaan het en toe deur hulle glasdeure geloop het na my eerste oudisie nie.
In die finale ronde van oudisies by die Royal College of Music het ek gestaan op die bekende Britten Theatre se verhoog en moes myself herinner dat ek regtig op daai verhoog staan en sing vir die hoof en onderhoof van sang en opera. Nadat ek gesing het, het die hoof my gevra om van die verhoog af te kom en met hulle te kom gesels.
Dit was ’n informele onderhoud, maar toe ek vir hom verduidelik hoekom ek spesifiek by die Royal College of Music wil studeer, het hy my geantwoord met ’n sin wat ek altyd sal onthou. “Stop seeing it as a fantasy and make it your reality, because we want you to study here next year.” Die enigste woord wat ek toe kon uitkry, was “OK”. En dit is wat my oortuig het dat dit die enigste plek is waar ek verder wil studeer.
Van waar jou liefde vir musiek?
Musiek het maar net nog altyd ’n manier gehad om my aan te raak. Ek het grootgeword in ’n familie waar die meeste van my niggies en tannies gesing het wanneer die familie bymekaar was. Ek is sover die enigste een in my familie wat musiek gaan studeer het en probeer om ’n loopbaan te maak daarvan.
Ek was altyd omring deur musiek, alhoewel my ouers nie eintlik musiekopleiding gehad het nie, maar tog het hulle ’n liefde gehad vir musiek. Musiek in al sy vorme, van Julian Bream wat “Asturias” op die kitaar speel, Bach se dramatiese orrelopnames, tot Pink Floyd en Queen.
Is dit die eerste keer dat jy oorsee toer?
Ek is bevoorreg in die feit dat ek al ’n paar keer oorsee was, maar vir vakansie of skooltoere. Hierdie keer is dit meer permanent, so ek sal sê dit is die eerste keer wat ek ’n oorsese bestemming “tuiste” noem.
Wat was jou eerste indrukke van Londen toe jy van die vliegtuig afklim?
Dit was definitief die prentjie wat almal geskets het. Effe mistig, reënerig, koud, en vol rooi dubbeldekkerbusse en die swart taxi’s wat ’n mens in Mr Bean-video’s sien.
Hoe verskil ’n instansie soos die Royal College of Music van ’n Suid-Afrikaanse universiteit hier?
Ek het gou besef dat die idee van die Conservatoire-uitleg baie anders is wanneer ’n mens die musiekdepartemente van Suid-Afrikaanse universiteite met die instansies hier vergelyk. Sover ek weet, is die musiekkursusse in Suid-Afrika baie meer gefokus op die akademiese aspek en vereis van ’n student om ’n skripsie of tesis in te dien wanneer hulle enige nagraadse studies aanpak in musiek.
Hier is dit nie die geval nie. Die spesifieke meestersgraad wat ek doen, is gefokus op al die praktiese aspekte van ’n sanger. Dus hoef ek nie ’n tesis in te dien aan die einde van my meestersgraadkursus nie, maar daar is ook die MMus-opsie waar ’n mens kan kies om eerder ’n meer akademiese pad te volg.
Watter alledaagse verskille is daar tussen hoe mense in Londen leef in vergelyking met hoe Suid-Afrikaners leef?
Die eerste ding wat dadelik uitstaan, is die diens van publieke vervoer. Die meeste mense maak gebruik van treine en die rooi busse en stap dan ook baie. Die verblyf is ook anders, in die sin dat die meeste mense in woonstelle bly en nie tuine het nie, so baie mense bestee hulle Saterdae in die parke, soos Hyde Park.
Die mense is ook meer bewus van die kunste en die verskillende teaters, en kunsgalerye het ’n verskeidenheid programme wat jongmense en kinders lok en opgewonde maak oor die kunste.
Wat is van die dinge/aktiwiteite wat jy al gedoen het of besienswaardighede wat jy al besoek het?
Ek het Londen al plat geloop, maar dit voel asof ek elke dag iets nuuts ontdek.
Ek het verby Freddie Mercury se huis gestap, Van Gogh se sonneblomskildery by die National Gallery gesien, operas en ballet by die Royal Opera House in Covent Garden gaan sien, Jane Austen se huis besoek in Winchester, asook ’n kitaarkonsert bygewoon in Winchester Cathedral, koffie gedrink by Starbucks (maar om eerlik te wees, niks kom by De Warenmarkt in Stellenbosch se Delux-koffie nie), deur Harrods geloop, die koningin gesien deur een van die kant vensters van Buckingham Paleis, Evensong by St Paul’s Cathedral bygewoon, ’n klaviervertoning van twee Nederlandse pianiste by Wigmore Hall bygewoon en na die tyd met hulle in Afrikaans gesels, Westminster Abbey se klokke gehoor, die Wêreldrugbybeker-finaal in ’n tipiese Engelse kroeg in Wimbledon gaan kyk saam met ’n Afrikaanse vriendin, en verskeie oggende die polisie op perde aanskou voor my koshuisvenster. Die lys gaan nog aan … daar is net so baie wat ’n mens kan doen in Londen!
Wat beplan jy om nog te besoek?
Ek sal graag ’n paar vertonings in West End wil gaan sien, asook Shakespeare-dramas in die Globe. Verder sal ek Oxford en Cambridge wil besoek, asook die Engelse platteland en Skotland. Abbey Road Studios is ook top op my lys saam met Camden Market, die interessanthede van East London, die ysskaatsbaan by die Natural History Museum, en die lys gaan nog aan.
Het jy al enigiets nuuts oor die land se kultuur geleer?
Ek sou nie sê dat ek enigsins iets nuuts geleer het oor die kultuur nie. Kom ons sê maar dat die BBC en Come dine with me vir mens ’n redelik akkurate prentjie skep. Alhoewel die Britse kultuur sterk oorkom, is daar vele aspekte van ander kulture wat al so deel geword het van Britse kultuur.
Selfs Afrikaans word verteenwoordig in Londen en tans is ek deel van ’n Afrikaanse kerk en het nou die dag biltong geëet terwyl ons almal saam die rugby gekyk het ná die diens, en selfs die dominee het ’n Springbok-rugbytrui aangehad. ’n Mens kan ’n Afrikaner uit Suid-Afrika neem, maar nooit Suid-Afrika uit ’n Afrikaner neem nie.
Het jy al enige interessante geregte geëet?
Ek nog nie iets interessants geëet nie, maar “mushy peas” is definitief iets om aan gewoond te raak.
Wat is sommige van jou hoogtepunte in Londen tot op hede?
Tot dusver is daar twee wat vir my uitstaan. Die eerste een was toe ek vir die eerste keer ’n opera in ’n regte operahuis gaan kyk het. Die opera was Agrippina en is in die Royal Opera House in Covent Garden opgevoer, en drie van my musiekhelde was in hierdie produksie. Ongelukkig het ek nie die geleentheid gehad om met een van hulle te praat nie, maar die hoofsanger, Joyce DiDonato, het ek na die tyd by Stagedoor gesien, en al wat ek op daai oomblik kon dink om vir haar te sê was: “Hello, it was great!” Nog een van daai oomblikke waar my brein moes “restart”.
Die tweede hoogtepunt was toe ek deelgeneem aan ’n Shelter Project-opname in die Coliseum met een van die bekendste tenore, Bryn Terfel. Ek was net in die koor, maar die feit dat ek in dieselfde kamer saam met hom was, was vir my ’n baie spesiale oomblik!
Lees ook
België-studie-uitruil en die Jongerenprojek: ’n onderhoud met Aletta Simpson
LitNet-argief: Vyf Suid-Afrikaners en die Taalunie Zomercursus Nederlands (TZN) 2017
Groningen-studie-uitruil: ’n onderhoud met Shawna-Leze Meiring
Meestersgraadstudies in Frankryk: ’n onderhoud met Janet Vermaak
Kuils River law student heading to the Netherlands on prestigious Mandela Scholarship
Buro: MvH