Al vir vier dekades sorg die Van Ewijck-stigting vir die bestendiging en uitbou van kulturele wisselwerking tussen Suid-Afrika en die Nederlande. Die voorsitter van die stigting, Wium van Zyl, het Willem de Vries se vrae oor die rol en werksaamhede van die stigting beantwoord.
Vertel asseblief kortliks vir diegene wat die Van Ewijck-stigting nie ken nie, hoe dit tot stand gekom het en wat die doelstellings is?
Die trustfonds, in 1978 deur Sippo Johan Van Ewijck van de Bilt (1902–1979) gestig, het oor die jare heen bestendig gegroei danksy goeie beleggings op die plaaslike aandelebeurs. Hy was ’n Nederlandse sakeman wat vir ongeveer 40 jaar afwisselend in Suid-Afrika en Nederland gewoon het. Hy het egter ’n besondere liefde vir Suid-Afrika gekoester. Hy en sy vrou, TT van Ewijck, was eienaars van onder meer die Binnehuis-winkels in Kaapstad en Somerset-Wes, wat gehaltemeubels verkoop het.
Die stigting het ten doel om finansiële steun te verleen aan persone en instansies wat hulle daarvoor beywer om kulturele betrekkinge in die ruimste sin tussen Nederland en Suid-Afrika te bevorder.
Kundige persone het oor die jare in die trusteeraad gedien, soos Anna Böeseken, Roy Pheiffer, Hans Fransen en Chris van der Merwe. Die legendariese bibliotekaris Piet Westra was jare lank die voorsitter. Daar is altyd vir knap finansiële rigtinggewers gesorg.
Die stigting is in Europa en Suid-Afrika werksaam. Dit subsidieer die Afrikaanse leerstoel aan die Vrije Universiteit van Amsterdam en bied onder meer steun aan Maandblad Zuid-Afrika. Wat tel onder die projekte waarby die stigting tans betrokke is?
Die stigting se afdeling vir beurse aan studente en hulp aan hulpbehoewende Nederlandse bejaardes in Suid-Afrika is die omvattendste deel van sy werksaamhede.
Die Van Ewijck-stigting reik jaarliks ’n prestasiebeurs uit aan verskeie kulturele rolspelers, in onlangse tye aan die hoogleraar Ena Jansen, die uitgewer Nicol Stassen en die literêre vertaler Daniel Hugo. Wanneer is die eerste prestasiebeurs toegeken en aan wie? Kan die prestasiebeurs ook aan ’n instelling toegeken word?
Die eerste toekenning is gemaak aan die Libertaskoor as ondersteuning vir hul kooruitvoerings in Nederland in 2004. Ook LitNet het dit al ontvang vir bedrywighede op die terrein Nederlands en Afrikaans. Ander wenners was die Van Riebeeck-vereniging in 2005 vir die publikasie van talle bronnepublikasies in verband met die Nederlandse bewind aan die Kaap; in 2007 die Vriende van die Nederlandse Biblioteek in Pinelands vir die aankoop van nuwe Nederlandstalige boeke; en in 2008 die TECP-transkripsiegroep vir die digitalisering van VOC-dokumente in die Kaapse Argief. Die Van Ewijck-stigting het die prestasieprys vir 2012 toegeken aan die Stigting VOC. Instansies en individue kom dus ook in aanmerking.
Suid-Afrikaanse studente wie se ouers in Nederland gebore is of wat self daar gebore is, kom in aanmerking vir beurse. Verder is beurse beskikbaar vir ander studente wat in ’n rigting studeer wat verband hou met die betrekkinge tussen Nederland en Suid-Afrika. Ook Suid-Afrikaanse studente wat in Nederland gaan studeer, kan aansoek doen.
Sedert die tagtigerjare is jy as dosent in Afrikaans en Nederlands in die akademie betrokke en vandag professor emeritus verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Is daar geleenthede vir die Van Ewijck-stigting vandag wat nie onder die vorige regime beskikbaar was nie? Wat beskou jy as remmend vir die kultuurbande tussen Suid-Afrika en die Nederlande, tussen Afrikaans en Nederlands?
Die Van Ewijck-stigting het hom deur die jare rustig by sy lees gehou. Tans is daar wel heelwat meer beursaansoeke deur persone wat in Nederland gaan studeer of aan programme daar gaan deelneem as voor 1994. Dit geld ook besoeke van Nederlandse skrywers en kunstenaars aan Suid-Afrika.
Van Suid-Afrikaanse kant is daar ’n mate van remming deur diegene met ’n myns insiens (dit is my persoonlike mening en nie die stigting s’n nie) oordrewe nasionalistiese houding wat meen dat Afrikaans as selfgenoegsame verskynsel bestudeer moet word met ignorering van die sustertaal en die historiese taal- en letterkundige wortels buite die land. Daar is ook diegene wat meen Nederlands het ’n te groot rol gespeel by die standaardisering van Afrikaans. Beide behels vir my ’n isolasionisme wat nooit goed kan wees nie.
Ek is dankbaar dat Afrikaans so gestandaardiseer is dat dit ’n instrument geword het wat ook toegang tot ’n wêreldtaal bied en wat Afrikaans self die voordele van ’n wêreldtaal besorg het. (Nederlands word as ’n wêreldtaal erken.) Aan die ander kant is dit belangrik dat Afrikaanssprekendes onderling tot vrede met hulself kom sodat hulle met ’n oop gemoed hierdie voordele kan benut. Dat die Khoisan-beweging nou daarop begin wys dat die Afrikaanse taal tot sy erfenis behoort, en dat Christo van Rensburg aangedui het dat juis die invloed van die Khoitale op Nederlands deurslaggewend was by die vorming van Afrikaans, is van groot belang hierby.
Wat Nederland betref, is dit jammer dat baie mense daar nog in apartheidsterme oor die taal dink. Daarom te meer is dit belangrik dat jong studente aan beide kante by wie die vooroordele nie meer ’n rol speel nie, aan uitwisseling deelneem en hul eie gevolgtrekkings maak. Daartoe lewer die Van Ewijck-beurse ’n beskeie bydrae.
Universiteite in Suid-Afrika het met geweldige politieke druk en vernielsug te kampe. Plaas dit druk op die werksaamhede van ’n trustfonds soos die Van Ewijck-stigting byvoorbeeld met verduideliking in antwoord op vrae oor wat aan die gang is?
Die stigting neem natuurlik kennis van wat op kampusse gebeur. Die terrein waarvoor om beurse by ons aansoek gedoen kan word, is egter duidelik afgebaken en dit is elkeen se vrye keuse. Die studie en navorsing waarvoor beurse toegeken word, is ook nie beperk tot Afrikaans of Nederlands nie.
Die Van Ewijck-stigting is by uitstek ’n brugbouerinstansie tussen Suid-Afrika en die Nederlande wat bewaring in talle vorme ondersteun en uitbou. Wat is die stigting se belangrikste bydrae in hierdie verband tot nou toe?
Deur ons toekennings is ’n geweldig uitgebreide aantal projekte gesteun, insluitende die bou van ’n replika van die Kaapse slaweskip Meermin wat tans in die Slawelosie in Kaapstad uitgestal word. ’n Mens kan trots daarop wees dat ons ’n rol kon speel met die herinstelling van die Afrikaanse leerstoel by die Universiteit van Amsterdam. Die uitsette van ons beurshouers is onmeetbaar, maar verteenwoordig ’n groot positiewe momentum.
Benewens hulp aan talle studente wat reeds oor dekades strek, lewer die stigting ook ’n bestendigende rol in die bewaring van dokumente, die uitbou van oeuvres en geldelike steun aan kunstefeeste. Watter rol, as hooffinansier of -bydraer, het die Van Ewijck-stigting tussen Suid-Afrika en die Nederlande gespeel waarmee mense straks minder bekend is?
Die stigting is bewus van die nypende tekort aan finansiële steun aan die kunste en kunstefeeste en op hierdie gebied is in die verlede toekennings gedoen aan die Kaapse Filharmoniese Orkes wanneer Nederlandse kunstenaars en Nederlandse dirigente op uitnodiging die KFO besoek. Ook is daar aktiewe ondersteuning aan Afrikaanse kunstefeeste wanneer Nederlandse skrywers en digters op uitnodiging die kunstefeeste in Suid-Afrika besoek. Hier kan ek verwys na byvoorbeeld die Tuin van Digters-fees in die Breytenbach-sentrum op Wellington, en ook, in die verlede, ondersteuning van Nederlandse projekte by die Woordfees op Stellenbosch.
Watter fasette van die stigting is die laaste jare uitgebou? Wat beoog die stigting vir die toekoms?
Die stigting is slegs die trustee van Van Ewijck se testament en is dus gebonde aan die testamentêre bepalings. Ek voorsien daarom nie groot wysiginge in die stigting se prioriteite en werkwyse nie.
Jy en jou eggenote, Dorothea van Zyl, het albei onlangs erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek ontvang. Wat beteken hierdie verering vir julle?
My studie in Nederland het letterlik my wêreld verander. Ek het vervolgens gevoel dat ek hierdie positiewe ervaring ook vir my landgenote wou moontlik maak. Uiteindelik het ek in die posisie beland dat ek ’n beskeie skakel kon vorm tussen die aanvanklik geïsoleerde studente en kollegas aan die Universiteit van Wes-Kaapland en die Nederlande. Ek beskou die erelidmaatskap net soos ander toekennings wat ek in hierdie verband ontvang het as ’n bevestiging dat iets van wat ek probeer het, tog ook wel geluk het. Daaroor is ek baie bly. My eggenote se insette was waarskynlik heelwat groter, maar ek weet dat sy ook dankbaar is oor die geleentheid wat haar gegun is om ’n brugbouer te wees. Vir die gehalte van Nederlandse universiteite, maar ook die Nederlandse kultuur het ons beide die grootste respek.
’n Blik op die geskiedenis en werksaamhede van die Van Ewijck-stigting
Op 3 Maart 1980 het die eerste vergadering van die Van Ewijck-trustfonds, nou die Van Ewijck-stigting, plaasgevind.
Eers moes die trust, trustakte, belasting, doelstellings, finansiële toekennings en skenkings, beurse, lenings en finansiële hulp egter in verskeie vergaderings uitgepluis en bespreek word.
Op 17 Februarie 1982 het die stigting sy eerste finansiële toekenning gemaak, aan die Wilhelmina-eeufees-komitee (R1 000), en is die eerste studiebeurs op 25 Augustus 1982 aan AH Lughthart (R1 000) toegeken.
Verskeie instansies en individue se kulturele bydraes is in daaropvolgende jare moontlik gemaak en gesterk. Hieronder tel studieskenkings aan die Universiteit Stellenbosch, asook die Universiteite van Wes-Kaapland, Kaapstad en Suid-Afrika, bedrae wat direk betaal is aan studente vir studies aan Suid-Afrikaanse universiteite en in Nederland.
In die periode tot 2004 is meer as R1 miljoen geskenk aan kulturele instellings soos die Nederlandse Bibliotheek, Stigting VOC, verskeie publikasies wat verband hou met Nederlands, en die uitwisseling van akademici tussen Nederland en Suid-Afrika, onder andere vir die bywoning van simposiums en die Stellenbosse Woordfees.
Die huidige raad van trustees bestaan uit Wium van Zyl (voorsitter), die uitgewer Piet Westra (visevoorsitter), die konsul-generaal van Nederland (ex officio), die letterkundiges Chris van der Merwe, Sonja Loots, Ronel Foster en Andries Visagie, die historikus en kultuurpraktisyn Matilda Burden, Gabriel de la Bat, ’n finansiële kenner, en die mediese navorser en akademikus Peter Hesseling. Piet Westra, die langs dienende lid, dien sedert 1982 in die raad.
In die Nederlande is verskeie instellings ontvangers van die Van Ewijck-stigting se steun. Die stigting het bygedra tot die restourasie van die NZASM-gedenkhuis in Pretoria, die koste van gassprekers by verskeie kongresse, en later ook tot vliegkaartjies vir Suid-Afrikaanse studente se studies in die buiteland.
Wat die Suid-Afrika-instituut in Amsterdam betref, dra die stigting jaarliks by tot die Leerstoel Taal, Lettere en Geskiedenis.
Die eerste prestasietoekenning vir ’n prestigeprojek wat verband hou met die doelstellings van die stigting was in 2004 aan die Libertaskoor wat onder andere in Nederland opgetree het. In die daaropvolgende jaar het die toekenning van R50 000 gegaan aan die Van Riebeeck-vereniging, bekend om sy keurige reeks historiese publikasies. Die toekenning is in onlangse jare tot R75 000 verhoog.
Ander toekennings wat jaarliks gedoen word, is studieskenkings, twee elk vir prestasie in Nederlands as hoofrigting aan die drie Wes-Kaaplandse universiteite, Unisa, en skenkings aan kulturele instellings waar die aansoeke met die doelstellings van die stigting verband hou.
Die stigting het ook aan die kulturele brug tussen Afrikaans en Nederland help bou met bydraes tot die versendingskoste van boeke na die Suid-Afrika-instituut, asook tot die drukkoste van verskeie publikasies, soos die reekstitel Literatuur van die Lae Lande, Dan Sleigh se Buiteposte van die VOC, die Johannesburg Kunsgalery se publikasie A checklist of the 17th Century Dutch and Flemish Paintings in South African Public Collections, die Codex Witsenii (uitgegee deur Iziko) en die vertaling van twee van Dick Bruna se kinderboeke.
In 2002 is die stigting as ’n organisasie sonder winsbejag geregistreer.
Besoek die stigting se webwerf by https://ewijckfoundation.co.za.
Buro: MvH