Hans du Plessis

Hans du Plessis is op 15 Januarie 1945 in Pretoria gebore. Hy matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria en behaal ’n BA aan die Universiteit van Pretoria. Terwyl hy onderwys gee, verwerf hy ook die UOD, Hons BA en MA, laasgenoemde twee met lof, aan Unisa. In 1975 verwerf hy ‘n doktorsgraad in Afrikaanse taalkunde, ook aan Unisa. Daarna volg hy ‘n postdoktorale kursus in die linguistiek aan die Universiteit van Harvard. Hy woon verder in 1991 skryfskole in Iowa en Oklahoma by.

Na ses jaar as hoërskoolonderwyser word Du Plessis by Unisa as lektor aangestel en daarna as senior lektor aan die RAU. In 1981 word hy professor in Afrikaanse taalkunde aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou NWU). In 1990 word hy direkteur van die ATKV-skryfskool van die NWU se Potchefstroomkampus. Hy tree aan die einde van 2011 af en word voltyds skrywer.

Hy het reeds 160 publikasies agter sy naam, en debuteer in 1978 as skeppende skrywer met die digbundel Kleinwild. Sy akademiese publikasies sluit taalkundehandboeke en taal- en letterkunde-artikels in nasionale en internasionale tydskrifte in.

Sy skeppende werk sluit ses digbundels, drie jeugromans en vyf romans in. Verder publiseer hy ook vele gedigte, rubrieke en kortverhale. Ses verhoogstukke uit sy pen word by verskillende kunstefeeste opgevoer. Sy vyfde roman, As die wind kom draai, verskyn aanstaande April by Tafelberg.

Hy word bekroon met die C.R. Swart-prys vir tienertoneel, die ATKV-kinderboekprys, ‘n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en die CBSA-prys vir beste publikasie, algemene Christelike literatuur.

Hans du Plessis is getroud met Magdaleen Potgieter en hulle het vier getroude seuns en sewe kleinkinders.

Foto: verskaf

Huldeblyk aan Christo van Rensburg: ’n Afrikaanse woord is weg

Hans du Plessis Meningen 2018-08-21

"Die leemte is groot vir sy familie, kollegas, wye vriendekring en die Afrikaansgebruikende gemeenskap, want aan grense het hy hom nie gesteur nie."

Verified by MonsterInsights
Top