Ons groet ’n geheue. In memoriam Bart de Graaff

  • 0

Bart de Graaff (Foto: Phia van der Watt)

Bart Johannes Henri de Graaff (gebore 1959) sterf op 28 Maart 2024 in Pretoria aan ’n beroerte, terwyl hy en sy vrou Conny op besoek in Suid-Afrika was. Hy was ’n Nederlandse skrywer, historikus en joernalis met ’n buitengewone belangstelling in die Suid-Afrikaanse politiek en kultuur. Oor die afgelope twee dekades fokus hy op die posisie van die Khoikhoin vandag en in die verlede. Met Bart se skielike heengaan verloor Suid-Afrika, en meer spesifiek die Khoi-gemeenskappe, nie net ’n lojale vriend en kenner nie. Ons is ook ’n beduidende stuk van ons gebalanseerde historiese geheue kwyt.

Bart het geskiedenis nie vanuit ’n ivoorhoogte bestudeer en beskryf nie, hy het die verlede tussen en saam met vandag se mense laat herleef. Met deernis kon hy daaroor nadink, daaroor gesels en dan daaroor skryf asof hy self een van die historiese karakters is. Tot op die dag van sy oorlye bly hy getrou aan sy selfopgelegde roeping om die geskiedenis en lotgevalle van die Khoikhoin aan te teken.

Dit is hoekom hy in Maart hier was. In sy laaste e-pos van Desember verlede jaar skryf hy aan my: “Ek het nou al vir maande gewerk aan my nuwe projek oor die herkoms en betekenis van Khoisan vanne (ek moet nog ’n bietjie meer dink oor die ‘Khoisan vanne’ – dalk is dit beter om van ‘bruin vanne’ te praat). Dis baie lekker om te doen en ek het al ’n hele klompie verrassings gekry: ‘Rondganger’ was nooit ’n Nederlandse van nie, nes ‘Uithaler’ en ‘Windvogel’.” Dit is die mens Bart de Graaff wat hier praat, want hy kon tussen die mense waaroor hy geskryf het, kuier, gesels en veral luister. Met enige vreemdeling kon hy ’n praatjie maak en so inligting inwin, sodat hy daaroor kon nadink en, deeglike akademikus wat hy was, die data in gesaghebbende bronne en gesprekke met ander kenners kon kontroleer.

Bart se belangstelling in Suid-Afrika kom al ’n lang pad. Hy promoveer met “De mythe van de stamverwantschap: Nederland en de Afrikaners – 1902–1930”, wat in 1993 gepubliseer is. Hierin fokus hy onder meer op Kruger se Hollanders, ook waarom die belangstelling in die Afrikaner na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog afgekoel het, maar die band tog nooit verbreek het nie.

Die belangstelling in Suid-Afrika eindig egter nie by hierdie studie nie. Daar verskyn van Bart ook ’n opvolgartikel “Onbeantwoorde liefde: Nederlandse betweters en Afrikaner Boeren”, waarin hy die apartheidsjare bespreek en tot die slotsom kom:

Tot slot: het Zuid-Afrika van na 1994 is een land waarin Afrikaners slechts een van de vele etnische minderheden vormen. En een land waarin hun cultuur haar onder apartheid bevoorrechte positie is kwijtgeraakt. Wellicht leidt deze situatie ertoe dat Afrikaners het belang van meer contact en samenwerking met de Nederlandse taal en cultuur in gaan zien. Maar mocht dit al zo zijn, dan wacht hen een moeilijke taak. Na honderd jaar onbeantwoorde Boerenliefde (1881–1981), is in Nederland een generatie groot geworden die, uitzonderingen daargelaten, weinig tot geen weet heeft van de historische en culturele banden met Zuid Afrika. Volgens historicus en voormalig NZAV-voorzitter Gerrit Schutte is het land voor moderne Nederlanders dan ook “simply a little piece of Africa” geworden.

Daarna besoek hy Suid-Afrika gereeld, maar sy belangstelling verskuif en hy fokus in sy navorsing en skryfwerk op die Khoikhoin.

Lees ’n mens deur sy boeke, word dit duidelik dat dit nie net vir Bart om die opteken van droë feite gaan nie. Hy laat die feite lewendig word deur dit met staaltjies en eie belewenisse kreatief te vervleg. So skryf hy oor dorpe in Suid-Afrika wat ooreenstem met plekke in Nederland met dieselfde naam, soos Middelburg en Amsterdam, maar die teks raak lewendig omdat dit uiteindelik ’n simpatieke Nederlander se reis deur Afrika word.

In ’n volgende artikel “Zeeuwen in Zuid Afrika” (2018) berig De Graaff oor die vroegste Kaapse koloniste uit Zeeland. Nou nie juis almal engeltjies nie, selfs van verdagte karakter …

In 2015 en 2016 bring hy verskeie besoeke aan Suid-Afrika en Namibië, ten einde navorsing te doen vir die boek Ik, Yzerbek (2016).

Dit word in Afrikaans onder die titel Ware mense uitgegee deur Protea Boekhuis, in Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo. 

Vir my die duidelikste voorbeeld van Bart se deernis met die Khoikhoin. Die foto’s in die boek is veel meer as bloot ’n foto, want die mens op die foto word fotografies verhef tot ’n adellike op ’n skildery. Die verworpe mens word ’n ware mens.

Sy boek Barend Barends – Die vergete kaptein van Daniëlskuil is ook deur Daniel Hugo in Afrikaans vertaal. Hierdie werk is na my mening ’n duidelike bewys van De Graaff se uitsonderlike navorsingsvermoë en sy diepe kennis van die Khoi-geskiedenis.

Dit is egter die mens Bart aan wie ons in hierdie bydrae hulde wil bring. Die mens wat met mense kon gesels, of dit vriend of vreemdeling was. Hy sou vir jou kon uitvra, laat praat en veral laat dink of jy die saak reg sien. Ek sien hom nou nog versigtig en met konsentrasie sy sigaretjie in die wit papiertjie rol voordat hy dit buite op die stoep behaaglik gaan rook. Nie baie nie, want hy het hulle getel. In hulle tuin in die verre Nederlandse Middelburg is daar selfs ’n hoekie Suid-Afrika: ’n buitebraaiplek wat op die beek uitkyk.

’n Onvervangbare stuk geheue is van ons weggeneem en die leemte is groot.

Ons meegevoel en bede gaan na Conny en die kinders, Han en Sophie, en die familie.

Lees ook:

De Graaff skryf eerste boek oor belangrike Griekwa-kaptein van 1800’s

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top