Hein Viljoen het die volgende grade verwerf: BA, BA Hons (Potchefstroom), MA (Pretoria), DrsLitt (Utrecht), DLitt (Potchefstroom).
Hein Viljoen is navorsingsgenoot in die Navorsingseenheid: Tale en literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks en afgetrede professor: Afrikaans en Nederlands. Hy is ’n C2-gegradeerde navorser en skrywer en medeskrywer van meer as 45 akademiese artikels en sowat 25 hoofstukke in boeke. Vir twee van sy artikels het hy in 2012 die ATKV-SA Akademieprys vir die beste navorsingsartikel ontvang. Sy navorsing is hoofsaaklik toegespits op die Suid-Afrikaanse letterkunde na 1980 en die Afrikaanse poësie. Saam met Chris van der Merwe het hy ’n inleiding tot die literatuurwetenskap geskryf, met die titel Alkant olifant, en ook twee bundels opstelle oor identiteit, die mag van stories en liminaliteit geredigeer, naamlik Storyscapes (Peter Lang 2004) en Beyond the threshold (Peter Lang 2007). In 2013 het ’n derde bundel opstelle, Crossing borders, dissolving boundaries (Rodopi 2013), verskyn. Viljoen se huidige navorsing fokus veral op landskap en op kreolisering en hibriditeit in die Afrikaanse letterkunde.
Hy is erehoofredakteur van Literator en dien ook in die redaksie van Tydskrif vir Literatuurwetenskap. Hy was lank sekretaris en later voorsitter van SAVAL (Suid-Afrikaanse Vereniging vir Algemene Literatuurwetenskap) en het ook in die hoofbestuur van die International Comparative Literature Association gedien. Hy was voorsitter van die vakgroep Afrikaans en ook van 2008 tot 2010 direkteur van die Navorsingseenheid: Tale en literatuur in die Suid-Afrikaans konteks.
Tans dien hy in die Letterkundekommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy is lid van die Maatschappij der Nederlandse letterkunde en PEN Afrikaans. As digter het hy reeds twee digbundels gepubliseer, nl. Waterkristal(1982) en Holtrom en groot kabaal (2003). Van sy gedigte het ook al in Literator en op Versindaba verskyn. Op sy inisiatief is Literêre terme en teorieë sedert 2009 gedigitaliseer. Dit word tans hersien en bygewerk – kyk www.litterm.co.za.