- Hierdie onderhoud is gebaseer op die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel, “Kreolisering van die wêreldletterkunde by D.J. Opperman” deur Hein Viljoen
Hoe verstaan jy die begrip kreolisering?
Soos ek in die artikel verduidelik, beskou ek kreolisering as ’n vorm van kulturele interaksie. Ek gebruik dit na analogie van kreolisering in die taalkunde, maar ek gebruik dit as ’n beginsel van risomatiese (netwerkagtige) verstaan en van dekonstruksie. Ek lê klem op vier aspekte, naamlik die vermenging van kulture (en dus ook letterkundes) wat die uitdrukkingskrag van ’n taal of tradisie vergroot deur die “ander” kultuur toe te eien en plaaslik te maak. In die plaaslik maak (criollo in Spaans), sit ook, noodwendig, ’n kritiek op die bestaande of aanvaarde orde (die hegemonie). Bakthin noem dit “dialogisering”: betreklik maak, blootstel aan ander opvattings (of diskoerse) en aan lag.
Hierdie vier fasette maak dit vir my ’n bruikbaarder en beter beskrywing van die manier waarop Opperman ouer tekste verwerk het as begrippe soos “vertaling” en “tansponering” wat gewoonlik daarvoor gebruik word. Jy sien al vier hierdie fasette duidelik bv. in “Kersliedjie”. Daarin het Opperman die Kersverhaal besonder sterk plaaslik gemaak, die uitdrukkingskrag van Afrikaans vergroot en ook kritiek op die hegemonie uitgespreek. Immers, wat is meer tipies Suid-Afrikaans as die drie outas en meer sinnebeeldig van die toestand van die ander onder apartheid as Distrik 6? En oor dit alles laat hy die broeis bantam “agterdogtig kloek”. Sy verteenwoordig oa ook die subalterns wat nie amptelik stem kry nie. Dat ’n bantam ’n klein soort hoender is wat oorspronklik uit Bantam in Java kom, skakel Opperman se teks subtiel met die groot versameling koloniale en postkoloniale tekste.
“Kersliedjie” is kortom veel meer as net ’n transponering van die Kersverhaal na Suid-Afrika in ’n naïewerige Middeleeuse trant.
Kreolisering is ’n begrip wat op ’n positiewe of negatiewe manier geïnterpreteer kan word: hoe beweeg ’n mens verby ’n term se bagasie as jy dit ontgin, of is dit juis deel van die ondersoek ‒ hoe dit gedefinieer word en wat daaragter lê? Was dit ’n verligte soort konsep vir iemand vanuit die tydsgees van DJ Opperman om in sy werk te betrek?
Ek probeer, seker ’n bietjie uitdagend, die krag van kreolisering en verbastering in die Afrikaanse letterkunde verken, maar ook vier. Ek ondersoek dus doelbewus die vermenging met ander tale en kulture wat soms as “onsuiwer” of as “verbastering” beskou word en ook hoe sienings van “suiwerheid” en “onsuiwerheid” deur die jare verander het. Ek probeer dit verstaan binne groter netwerke van kulture en tekste.
Daar is geen suiwer kulture of letterkundes nie: mense neem oor, leen en steel selfs wat hulle nodig het vir ’n bepaalde doel. Dit is wat Opperman ook doen. Die punt is ook dat Opperman se werk myns insiens – en my artikel toon dit aan ‒ die Afrikaanse letterkunde is tot redelik onlangs nog beskou as die “suiwer” produk van ’n “suiwer” volk en taal van Europese afstamming. Die waarheid is egter, soos Breyten Breytenbach al in 1973 gesê het, dat die Afrikaner ’n bastervolk met ’n bastertaal is. Ek ondersoek die implikasies van so ’n siening.
In vandag se wêreld word die idee van ’n nasiestaat, waarbinne ’n volk met ’n bepaalde taal en identiteit hulle kultuur uitleef, al hoe minder houdbaar, al is daar ook wêreldwyd sterk verset teen hierdie proses. Suid-Afrika het kennelik nie een nasionale letterkunde en een nasionale taal nie en kan moeilik beskou word as die staat van een bepaalde etniese groep. Ons stoei nog erg met die kwessie van diversiteit ‒ op verskillende vlakke: taal, grond, verteenwoordiging, selfs goeie maniere, soos blyk uit die debat oor haatspraak. Opperman se werk behoort ook in breër kaders as net die Afrikanerstaat en Afrikanernasionalisme gelees te word. Net soos Cloete het Opperman byvoorbeeld ook die internasionale Simbolisme gekreoliseer.
Watter ander skrywers in die wêreldletterkunde maak ook van kreolisering gebruik?
Die slagreël is mos: Skrywers leen, maar groot skrywers steel. In daardie lig kreoliseer alle groot skrywers seker. Shakespeare se Tempest kan as kreolisering gelees word. In sy Jeptha of offerbelofte moes Vondel die Bybelse gegewens aanpas en inpas in die klassisistiese opvattings oor die Griekse drama van sy tyd. My ondersoek fokus op die Afrikaanse letterkunde, maar ek dink dit is veral postkoloniale skrywers soos Salmon Rushdie of John M Coetzee wat as kreoliseerders gelees kan word. Dink bv aan Coetzee se herskrywing – kreolisering – van Robinson Crusoe in Foe. Derek Walcott se Ormeros is ook ’n kreolisering van Homeros se Ilias binne ’n koloniale konteks.
My twee groot voorbeelde is Breyten Breytenbach en die Karibiese skrywer Édouard Glissant. Breytenbach is ’n sterk pleitbesorger vir verbastering en kreolisering en die erkenning van die waarde daarvan vir Afrikaans. Glissant beskou die moderne wêreld as analoog aan die Karibiese eilande: soos hulle blootgestel is aan stormwinde en aan verskillende golwe van kolonisering, is die hele wêreld tans blootgestel aan die kulturele orkaan van globalisering wat uitbuit, gelykskakel, mense reduseer tot informasie of minder betreurbare (Judith Butler se term, grievable) wesens wat goedsmoeds deur krygshere met gifgas of hommeltuie afgemaai kan word of wat maar in die Middellandse See kan verdrink. Of in ons konteks: maar in sinkkaias moet bly of in puttoilette kan verdrink solank die leiers maar net in hulle groot blink karre kan aanhou rondry.
Glissant beklemtoon dat alle letterkundes en alle tale vandag deel uitmaak van ’n groot netwerk, die chaos monde – ’n kreatiewe, gistende web van moontlikhede waarin alle tale en letterkundes met mekaar saamhang. My artikel oor Opperman is deel van ’n breër ondersoek wat wil aantoon of en hoe die Afrikaanse letterkunde deel uitmaak van so ’n web; trouens, van die begin af deel was van so ’n web en eintlik ontwikkel het binne ’n eerste globaliseringsgolf (Wes-Europese kolonialisme) en “volwassenheid” bereik het danksy ’n tweede globaliseringsgolf vanaf die middel van die 19de eeu, naamlik imperialisme en die uitbreiding van die grafosfeer [skrifstelsel], bemiddel en moontlik gemaak deur spoorweë en koerante en natuurlik Engels as imperiale taal. Vandag deel die Afrikaanse letterkunde in ’n derde globaliseringsgolf – die IT-revolusie en die videosfeer [multimedia]. En die vraag is natuurlik: presies hoe en op watter maniere?
In jou artikel koppel jy die ontwikkeling van vroeë Afrikaans aan kreolisering. Taalpuriste assosieer kreolisering met “onsuiwerheid” (veral mbt Afrikaanse variëteite soos Kaaps) en standaard Afrikaans met “suiwerheid”. Maar, baie taalkundiges definieer die Afrikaanse taal (en al sy variëteite, insluitend standaard Afrikaans) as semi-kreools. Dink jy dat hierdie definisie kan bydra tot die ideologiese dekolonisering van “die Taal”?
(Hein Willemse noem byvoorbeeld: “’n Oper, ruimer Afrikaans beteken dat ons as ’n beginpunt moet aanvaar dat die toekoms van hierdie taal en kulturele omgewing kreolisering beteken.”)
Die studie van pidgins en kreole bied ’n fassinerende blik op taalinteraksie en taalverandering. Afrikaanse taalkundiges het taamlik laat eers die rol van slawe en die Khoi as intertaalsprekers in die ontwikkeling van Afrikaans begin erken. In die studie van die Afrikaanse letterkunde is die rol van ander kulture en tradisies dikwels onderspeel ter wille van die siening dat die Afrikaanse letterkunde die produk van wit Afrikaners is. Hein Willemse skryf byvoorbeeld baie interessant oor die miskenning van die rol van outa Hendrik in Eugéne Marais se Dwaalstories.
Vir my gaan dit nie in die eerste plek oor die dekolonisering van die taal nie, maar om die onderkenning van die kragte van vermenging en kreolisering in ons verstaan van die Afrikaanse letterkunde. ’n Mens sou dit seker as ’n soort dekolonisering kan beskou: die losmaak van die Afrikaanse letterkunde van ’n versweë Eurosentrisme.
In sy 2006 artikel, “A creolising South Africa? Mixing, hybridity, and creolisation: (re)imagining the South African experience” bring Denis‐Constant Martin die konsep kreolisering in verband met die Suid-Afrikaanse samelewing.
Hoe dink jy kan hierdie konsep in die postkoloniale Suid-Afrikaanse samelewing toegepas word (itv “rasseproblematiek en die Suid-Afrikaanse aktualiteit” en/of tale/kulture)?
Ek het baie geleer by Denis-Constant Martin en sy opvattings oor kreolisering in Suid-Afrika. In my navorsing bou ek voort op die kwessies wat hy geopper het.
Ek stem nogal saam met Hein Willemse se sienings, alhoewel hy kreolisering moontlik radikaler verstaan as ek. Ons bevind ons reeds in Bhabha se derde ruimte, die post-kolonie, waarin vermenging en vernuwing kan plaasvind, maar dit gaan ook met baie pyn en stryd gepaard, soos ons stryd oor identiteit en oor goeie regering getuig. Ek dink ook dat daar in die verlede al baie kreolisering in die Afrikaanse letterkunde plaasgevind het sonder dat ons dit erken het, omdat ons ons blindgestaar het op “suiwerheid” en “die eie”. Dit is byvoorbeeld opvallend dat Opperman, alhoewel hy die Bybel dikwels herskryf het, veral minder gekanoniseerde Nederlandse tekste gaan kreoliseer het – nie Karel ende Elegast of Beatrijs nie, maar Brandaan en Het leven van Sinte Christina de Wonderbare. Daardeur het hy op sy manier reeds stem gegee aan die subaltern. Sy gedig “Swart kop” is vir my besonder tekenend daarvan. “Staking op die suikerplantasie” eindig byvoorbeeld met die kruising van die trom, ’n simbool van ’n ryk, aardse Afrika, en die klok, ’n simbool van die effens uitgeteerde beskawing en die kruis as simbool van ’n nuwe, lewegewende (maar tydelike) Christelike orde.
Zimitri Erasmus (Coloured by history, shaped by place: Perspectives on coloured identities in Cape Town (Kaapstad: Kwela, 2001) koppel “die geweld van die koloniale ontmoeting” (“the violence of the colonial encounter”) in Suid-Afrika aan kreolisering, kulturele formasies en koloniale slawerny.
Met hierdie argument in gedagte, dink jy kreolisering en dekolonialisering is teenstrydige konsepte?
Erasmus koppel kreolisering baie sterk aan toestande van marginaal-wees en aan slawerny. Ashcroft-hulle, van die eerste teoretici oor Postkolonialisme, beskou die prosesse van appropriasie en abrogasie van die koloniale erfenis as wesenlike trekke van Postkolonialisme: aan die een kant word die koloniale erfenis aanvaar en toegeëien, maar aan die ander kant word as’t ware ’n streep daardeur getrek. Die voorstanders van dekolonisering eis dat “die volle diversiteit” van kennis in die samelewing in die onderwys weerspieël moet word en dat Westerse tradisies vervang moet word met epistemiese tradisies (stelsels van geldige ken en verstaan) uit Afrika. Dit kom neer op ’n sterk abrogering van die Westerse tradisies.
Daar is baie wat waardevol is in die Afrikatradisies, en ons behoort dit te ken en te verstaan. Kreolisering is in hierdie konteks vir my egter ’n nie-binêre opvatting wat ’n dinamiese toestand van gee en neem, van wisselwerking en wedersydse aanpassing inhou tussen wat ons grofweg maar “kulture” noem. Jy kan die koloniale verlede nie ongedaan maak nie; ook nie die apartheidsverlede nie, maar jy kan dinamies en oop met hierdie tradisies omgaan; jy kan jou maniere van doen, meng met en aanpas by ander mense s’n op pad na ’n gemeenskaplike doel ‒ dit was ons almal wil hê, naamlik ’n oper, florerende en vryer Suid-Afrika. Dit vind reeds taamlik probleemloos plaas in kos en kookkuns (almal, behalwe die Bolanders, eet wors en pap) en in musiek, maar in die politiek, landsake is dit veel moeiliker.
Inherent aan kreolisering is ’n erkenning van die handelingsbevoegdheid (agency) van subalterne groepe, al werk hulle invloed indirek en ondergronds deur. Kreolisering kan ons daardeur help om die andersheid van die ander raak te sien: om sy of haar gesig raak te sien, soos Levinas beklemtoon. Groter respek vir mekaar en mekaar se opvattings en tradisies ‒ veral as dit ook behoorlik in regeringsbeleid, taalbeleid neerslag kry – kan hierdie doelstelling van ’n oper en vryer Suid-Afrika net bevorder.
Dit sluit vir my ook groot respek vir die natuur en die omgewing in. Miskien moet ons ’n kreoliserende groen-linkse party stig!
Lees ook op LitNet
Buro: MvH