H.J. (Henning) Pieterse (gebore 1960) behaal die grade BA (cum laude, UP, 1982), BA Honneurs in Afrikaans (cum laude, UP, 1984), MA (cum laude, UP, 1986. Titel: “Die betekenis en funksie van die verwysings in Die ambassadeurvan André P. Brink, met toespitsing op die Divina Commedia van Dante Alighieri”) en DLitt et Phil (UNISA, 1995. Titel: “Taalpolitiek en ‘Alternatiewe Afrikaans’”). Hy ontvang die Van Schaikprys vir Taalkunde (1983) en die Tafelbergprys vir Honneursstudie (1984). Vanaf 1989 publiseer hy poësie, kortverhale en vertalings. Hy was eindredakteur van John Boje se ’n Keur uit die Pelgrimsverhale van Geoffrey Chaucer (1989) wat bekroon word met die Akademieprys vir Vertaalde Werk (1990) en mederedakteur (saam met P.H. Swanepoel) van Perspektiewe op taalbeplanning vir Suid-Afrika (1993). Tussen 1992 en 2002 was hy Hoofredakteur van Tydskrif vir Letterkunde. Vir sy eerste digbundel, Alruin(1989), ontvang hy die Eugène Maraisprys (1990) en die Ingrid Jonkerprys (1991) en vir sy tweede digbundel, Die burg van hertog Bloubaard (2000), die Hertzogprys (2002). Hy publiseer Omdat ons alles is (kortverhale, 1998), ’n vertaling van Rilke se Duineser Elegien (2007) wat bekroon word met die Nedbank-Akademieprys vir Vertaalde Werk (2008) en Tussen die abjekte en die eteriese. ’n Keur uit die poësie van Michel Houellebecq (2018). Sy berymde vertaling van Van den vos reynaerde word in 2023 gepubliseer as Reinaard die vos. Pieterse doseer taal- en letterkunde, met ’n fokus op die MA in Kreatiewe Skryfkuns wat hy saam met die skrywer Francois Smith aanbied. Sy navorsingsfokus sluit in die romans van Ingrid Winterbach, die poësie van Marlene van Niekerk en die dosering van Kreatiewe Skryfkuns. Hy was ’n professor en direkteur van die Eenheid vir Kreatiewe Skryfkuns (UP) en is tans ’n professor in die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat.