Van die gevierde digter-vertaler Henning Pieterse het onlangs Van den vos Reynaerde in Afrikaans as Reinaard die vos verskyn. Hy het met Willem de Vries oor hierdie durend relevante diere-epos en sy vertaling daarvan gesels.
Jou vertaling Reinaard die vos verskyn in die tyd wat die Utrechtse letterkundige Frits van Oostrom se boek De Reynaert: leven met een middeleeuws meesterwerk uitgereik is. Het die Reinaard-verhaal inderdaad die dra- en blykrag wat Van Oostrom te kenne gee met “leven met ...”?
Tydens my honneursjaar (1983) was Van den vos Reynaerde (ontstaansdatum: ongeveer 1260) een van ons voorgeskrewe tekste vir die vak Middelnederlands. Ons het snitte uit die teks vertaal en ontleed in die klas en ek het gedink (en dink steeds) dat dit een van die snaaksste boeke is wat ek al ooit gelees het. Talle “boodskappe” (sosiaal-polities, moreel en andersins) bly steeds geldig en die onveranderlike aard van mens (en dier) bly steeds die teiken van geregverdigde satire. Reeds in 1983 het ek begin droom om die teks eendag te vertaal en het tydens die Covid-grendeltyd van 2020 met die werk begin.
Vertel asseblief van die reis, oorwegings en aanpassings om Van den vos Reynaerde van ongeveer 1260 Reinaard die vos in 2023 te maak, ook van die vrye vertaling waarvoor jy gekies het en wat jou laat besluit het om by die oorspronklike konteks en sfeer van die Middeleeuse wêreld en beelding te hou.
Die grootste keuse met betrekking tot vertaling is: Gaan jy (as vertaler) so na as moontlik aan die oorspronklike teks se sfeer bly, of gaan jy dit “aanpas” (moderniseer, domestikeer)? My benaderingswyse tot vertaling (vanuit Middelengels, Frans, Duits of Nederlands) was nog altyd konserwatief: Ek probeer so na as moontlik aan die oorspronklike teks bly in ’n poging om die (Afrikaanse) leser ’n blik te gee op ’n teks binne sy kultureel-historiese konteks. Eitemal (1981) het byvoorbeeld die Reinaard verplaas (gedomestikeer) na ’n Wes-Transvaalse milieu: ’n Boer se naam word Van der Merwe; die priester se buite-egtelike seun, Martinet, word by Eitemal Hannes, die pastoor se hoerkind; ’n ratel (Taaiman) word ingevoeg as deel van die verhaal, ens. Indien ’n mens die Middeleeuse sosiale stande, kerklike gebruike en misbruike en simboliek verstaan (wat in die inleiding en voetnote verduidelik word), word die verhaal nog snaakser. Ek het besluit op ’n vryer vertaling (teenoor ’n letterlike, woord-vir-woord-vertaling) om veral ritmies-metriese redes: Ek wou “ruimte” skep waarin ek, waar nodig, “vullers” (woorde of frases wat die vierheffingsversreël hopelik bevorder, maar wat nie in die oorspronklike teks voorkom nie) kon plaas. Dan geld die kwessie van “vryheid” ook die rymskema: Ek wou nie volrym afdwing op 3 469 paarrymende reëls nie, en dit verklaar verskeie halfryme (alliterasie en assonansie) in die eindrymposisie.
Hoe verskil die literêre konvensies, benaderings en verbeelding van die Middeleeue met dié van vandag? Sou ironie en parodie anders tot die leser en aanhoorder van die Reinaard-verhaal in daardie tyd gespreek het as vandag? Is verskille grondig vervreemdend of stem gegewens telkens ooreen en bly dit herkenbaar?
In die 12de en 13de eeu het die genre van die diere-epos ’n bloeitydperk in Noord-Frankryk, Wes-Duitsland en Vlaandere beleef. Ons kan net bespiegel oor wie die destydse leserspubliek sou gewees het en wat die effek van ironie en parodie op hulle sou gewees het. Sommige navorsers beskou die (opkomende) adel van die 13de eeu as die teikenmark, ander fokus weer op die burgery, wat dierefabels sou ken en ook van die wantoestande aan die koninklike howe en binne die kerklike bestel bewus sou wees. Gewone lesers sou dalk geskok wees oor die blootlegging van korrupsie (byvoorbeeld die spot met die aflaatstelstel van die Rooms-Katolieke Kerk van destyds); ander sou heel waarskynlik met ’n grynslag en ’n kopknik die bevestiging van korrupte praktyke kon herken. Dit is nie vandag anders nie – kyk maar hoe reageer lesers met meewarige herkenning op die spotprente van onder andere Zapiro! Wat ’n mens wel hier moet onthou, is dat min gewone burgers in die 13de eeu kon lees en skryf – daar was ’n sterk mondelinge tradisie en daar word bespiegel dat Reinaard (soos ander Middeleeuse tekste) voorgelees, voorgedra of selfs as ’n tipe straatkletsrym “uitgevoer” is.
........
[Daar] was ’n sterk mondelinge tradisie en daar word bespiegel dat Reinaard (soos ander Middeleeuse tekste) voorgelees, voorgedra of selfs as ’n tipe straatkletsrym “uitgevoer” is.
........
Iets wat die Reinaard-verhaal modern laat oorkom, is die skrywer se bewuste aanwending van retoriese middele en stylelemente soos parodie en ironie, asook die ommekeer van die vertel van ridderverhale en pelgrimstogte, verhale met ’n duidelike “queeste” (quest). Wat is dit wat aan die verhaal sy moderne aanslag verleen en dít oor eeue en bestelle heen?
In ’n neutedop: Heersende wantoestande word aan die kaak gestel deur gevestigde ordes om te keer (die sogenaamde mundus inversus, die omgekeerde wêreld). Diere het menslike eienskappe en titels en mense weer dierlike eienskappe, en die “ordes” word genadeloos aan parodie en satire onderwerp. Daar is altyd sosiale wantoestande en daar sal altyd wees, dus bly die draak steek met daardie toestande ’n ewige bron van vermaak, spot en lering.
Deur die eeue heen is die epos op verskeie maniere vertel en aangepas. Die Reinaard-verhaal deur ene “Willem die Madocke maecte” self put uit dergelike verhale, onder meer uit Oudfrans. Oor die skrywer is vandag niks bekend nie, ook nie die teks van die Madoc-verhaal nie (die magiese realis Hubert Lampo se bespiegelende werk oor die verdwene werk in Die kroniek van Madoc ten spyt). Vertel asseblief van die teksgeskiedenis van die Reinaard-verhaal en watter weergawe en verbandhoudende tekste jou in jou vertaalwerk gerig het.
Die wortels van Reinaard kan duisende jare teruggevoer word na Esopiese dierefabels, fabels uit die antieke Indus-beskawing, en uit die Germaanse en Arabiese wêrelde. Elke land en kultuur op aarde het sy eie dierefabels waarin daar telkens ’n les vir die mensdom opgesluit lê. Reinaard se voorgangers is onder meer Oudfranse (vergelyk die Roman de Renart) en Latynse (vergelyk die Ysengrimus) weergawes van die stryd tussen jakkals/vos en wolf (en haas, beer, leeu, kraai, ens). Daar bestaan minstens vyf teksweergawes van die Middelnederlandse Reinaard. Ek was bekend met die Comburgse en Dyckse handskrifte en het die Comburgse gekies bloot omdat ons dit tydens my honneursjaar gebruik het.
........
Elke land en kultuur op aarde het sy eie dierefabels waarin daar telkens ’n les vir die mensdom opgesluit lê.
........
Sedert sy verhale die eerste keer vertel is, was Reinaard nog nooit van die toneel afwesig nie. Dit geld vir verskeie tale en landstreke, ook Afrikaans en Suid-Afrika (byvoorbeeld Eitemal en Hugo). In sy skelmstreke en vergrype word terselfdertyd die skyn, bedrog en gierigheid in die Middeleeuse samelewing en dié van maghebbers aan die kaak gestel. Magsproblematiek is tydlose probleme van regerings en heersers en bied ryke stof vir skrywers. Wat aan die bedrewe skurk Reinaard bly hom so durend relevant maak binne daardie konteks?
Reinaard is in 1279 vertaal in Latyn as Reynaerdus vulpes; dit het as inspirasie gedien vir die latere Reynaerts historie en ons kry vertalings of bewerkings in Engels, Nederduits, Hoogduits, Deens, Sweeds en Yslands. En dan is daar Goethe se Reineke Fuchs uit 1794. Weer eens: Mag en korrupsie gaan nog altyd hand aan hand in die geskiedenis van die mensdom, dus is daar inderdaad altyd ryke stof vir die satirikus, of die verhaal nou dier- of mensgesentreerd is.
Jy is vir jou vertaling van Rilke se Duino-elegieë bekroon en jy het ook met Tussen die abjekte en die eteriese poësie van Houellebecq in Afrikaans vertaal. Waarom vandag so ver terugreik, na Reinaard, en spesifiek nou?
Reinaard is nie sonder rede telkens in die Lae Lande as een van die beste Nederlandse tekste van bykans die afgelope duisend jaar aangewys nie: Lesers vind steeds aanklank by die growwe humor, die uitwys van en spot met menslike foute en die gevolge van magsvergrype. Ek wou graag vir die hedendaagse leser wys hoe tydloos hierdie verskynsels is, veral in ’n tydperk van ongekende korrupsie en verval (dink maar aan die onophoudelike stroom “geestelike” en politieke leiers wat om al die verkeerde redes in die nuus beland), en hoe broodnodig satire en parodie (natuurlik telkens ’n doring in magshebbers se vlees) steeds is.
Wat het aan jou perke gestel en vryhede gebied in jou benadering tot die poësievertaling? Wat was vir jou rigtende oorwegings?
Middelnederlands bied verskeie probleme vir die hedendaagse vertaler: ongewone woordorde, die imperfektum (waar Afrikaans net die perfektum of dalk historiese presens ken) en talle woorde/terme wat óf as saamgetrekte vorme (klisis) óf weens betekenisverandering oor die eeue heen verskil van hedendaagse Afrikaanses. Aan die ander kant staan die leser weer verstom oor hoe leesbaar ’n Middelnederlandse teks vir die eietydse Afrikaanse leser kan wees. Ek wou, soos vermeld, in die eerste plek die hoofse sfeer van die 13de eeu behou – dit verklaar die “verhewe” aanspreekvorme “madame”, “heer” en “u”. Daarmee saam wou ek op metriese vlak so na as moontlik die vierheffingsversreël wat Willem, die outeur, deurgaans volhou, behou; en dan (die moeilikste aspek) wou ek die paarrym volhou waar moontlik. Die laasgenoemde aspek het my baie hoofbrekens besorg (Afrikaans het net sóveel rymwoorde!) en ek moes dikwels terugval op halfryme. Louis Eksteen se Eensillabige rymwoordeboek van Afrikaans en Eksteen en Lorraine du Pre se Groot Afrikaanse sinoniemwoordeboek was deurentyd van onskatbare waarde.
........
Aan die ander kant staan die leser weer verstom oor hoe leesbaar ’n Middelnederlandse teks vir die eietydse Afrikaanse leser kan wees.
........
Watter rol het Heinrich Ohlhoff gehad in jou ontmoeting met en bestudering van die Reinaard-verhaal? Sy inleiding bied ’n uitstekende oorsig.
Heinrich Ohlhoff was ’n gewaardeerde taal- en letterkundedosent, voor- en nagraads. Hy is heel waarskynlik een van die laaste navorsers in hierdie land wat hom nog besig hou met historiese taalkunde via Oudnoors, Oud- en Middelhoogduits, Middelengels en Middelnederlands, dus was hy vir my die aangewese persoon om die inleiding te skryf. Sy lesings was altyd uiters deeglik en hy het vir ons as studente wêrelde oopgemaak met verskeie pragtige Middelnederlandse tekste.
Wat aan die Reinaard-epos spreek tot jou as leser, as letterkundige, as vertaler en as dosent in kreatiewe skryfkunde?
As leser: die ongelooflike humor en ironie wat steeds geldig bly. As letterkundige: die verstommende feit dat die teks oor bykans 900 jaar behoue gebly het en steeds invloed wêreldwyd het. As vertaler: die uitdaging om Middeleeuse gebruike, simbole, ampte en name vir die moderne leser verstaanbaar oor te dra. As dosent: Ek beklemtoon voortdurend in werkswinkels die rol van vertaling. Deur te vertaal, hou jy jou vingers (en brein) fiks, tas jy rond in die vesels van groot tekste en wys jy aan studente hoe vermeende “dooie” tekste verlewendig kan word.
........
Deur te vertaal, hou jy jou vingers (en brein) fiks, tas jy rond in die vesels van groot tekste en wys jy aan studente hoe vermeende “dooie” tekste verlewendig kan word.
........
Die Reinaard-verhaal waaier steeds uit en in verskeie letterkundes. Wat beskou jy as die mees geslaagde aanpassings van die Reinaard-verhaal oor die eeue heen?
Daar is, soos ek genoem het, talle verwerkings van die teks in verskeie tale. Ek het ’n paar (berymde en onberymde) Nederlandse vertalings geraadpleeg, waarvan nie een vir my werklik bevredigend was nie. (Ek maak hier ’n onderskeid tussen geannoteerde teksuitgawes – wat nie my doel was nie – en literêre vertalings.) Daar is byvoorbeeld ’n erg gekuiste, berymde vertaling uit 1830; dan is daar ’n meer onlangse vertaling van Walter Verniers wat weer ontsier word deur die geweldige rymdwang – Verniers breek woorde op vreemde plekke af ter wille van deurgaanse volrym. Uiteindelik was die volgende tekste vir my die meeste van hulp: HJJM van der Merwe en OJE Burm se deeglik geannoteerde teksuitgawe van 1973/1978 (hulle was destyds verbonde aan die Universiteit van Suid-Afrika); Thea Summerfield se uitstekende Engelse vertaling (2009), voorsien van voetnote; en ’n omvattende glossarium deur André Bouwman en Bart Besamusca. Ek sou uiteraard Van Oostrom se De Reynaert (2023) in die spel wou gebring het, maar dié boek het verskyn op die presiese tyd dat my vertaling drukker toe is.
Die maniere waarop die Reinaard-verhaal in verskillende dissiplines bespreek word, het met die verloop van tyd al hoe meer nuansering en verdieping ondergaan. Die antiheld en pikareske is meer onlangse begrippe. Watter teorieë of lense bied vir jou vandag interessante verrykings in die voortgaande bespreking van die Reinaard-epos?
Reinaard is inderdaad “die volmaakte antiheld”: Hy verlustig hom met sadistiese plesier in sy vyande se pyn en lyding. Hy het ook wel ’n sorgsame kant, veral teenoor sy gesin. In die inleiding noem Heinrich Ohlhoff onder meer die volgende teorieë en temas wat die teks verder kan verhelder, of wat deur die teks self verhelder kan word: godsdiens, eer, geloof en verlossing, trou en reputasie, gender en mag, liefde, seksualiteit en begeerte, trauma, die konstruksie van ras en identiteit, die bonatuurlike/buitengewone (“uncanny”), ideologie, die Ander, die retoriek van gestremdheid (vergelyk in hierdie verband die mansname in die teks), die gebruike en begrippe van niemenslike stemme en die geskiedenis van konflik.
Onlangs is ’n kollokwium gewy aan Reinaard in die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (Sasnev) in Kaapstad. Jy het daaraan deelgeneem om jou vertaling van hierdie beroemde diere-epos bekend te stel. Vertel asseblief van die geleentheid.
Dit was ’n voorreg om by Sasnev in die geselskap van verskeie kenners van die Nederlandse letterkunde oor Reinaard te kon gesels. Duidelik het die meeste deelnemers die teks geken (of deeglik daarvan geweet), en ons kon die gesprek wyd voer. Tydens ’n paneelgesprek oor die rol van volksverhale het dit net weer duidelik geword hoe na ons as mense deur (en as gevolg van) verhale aan mekaar leef en verbonde is. Ek het grootgeword met Jakkals en Wolf-stories (waarvan die Europese weergawes deur 17de-eeuse koloniste na die Kaap gebring is) en hierdie stories het weer plaaslike weergawes, verweef met onder andere San-, Nama-, Zoeloe- en Sotho-folklore.
- Reinaard die vos, ’n vrye vertaling van Van den vos Reynaerde, vertaal en berym deur HJ Pieterse, word deur Protea Boekhuis uitgereik.