Jaco Botha was sedert 2003 ’n vennoot in die klein reklameagentskap Big Bad Wolf Advertising. Hy was verantwoordelik vir skeppende elemente, soos konsepontwikkeling, kopieskryf en innoverende strategiese beplanning. Hy was ook ’n vryskutskrywer.
Hy het ’n BA-graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal, sowel as ’n BA-honneursgraad (letterkunde) en ’n MA-graad in Skeppende skryfwerk (met lof) aan die Universiteit van Kaapstad.
Hy het twee kortverhaalbundels geskryf (In Drie Riviere en Sweisbril, albei deur Human & Rousseau uitgegee) en sy eerste kinderboek, Lalala en ek by die see, het in 2005 by African Sun Media verskyn. In 1997 is die M-Net-beurs vir Skeppende skryfwerk aan hom toegeken. Sy debuutroman, Miskruier, het in September 2005 by Human & Rousseau verskyn.
In 1998 was hy ’n lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Blindekrieket-span wat die Wêreldbeker in Indië verower het.
Hy is op 18 Oktober 2016 oorlede.