Riana Scheepers se lewe is dramaties en opwindend, uitdagend, avontuurlik en romanties.
In vyf dekades het sy die wêreld deurreis, boeke gelees én geskryf, haar seuns met vreugde grootgemaak en ánder mense se kinders lief gemaak vir woorde. Sy het huise gerestoureer, bome geplant, verlore stemme oor die uithoeke van Suid-Afrika opgespoor en hul stories opgeteken. Vir haar familie is sy moeder, minnares en muse.
Riana Scheepers is in 1957 in KwaZulu-Natal gebore. Haar pa, ’n spoorwegwerker, sterf in ’n treinongeluk toe sy 6 jaar oud is. Sy leer, saam met haar verpletterde gesin, deeglik wat armoede en ontbering is; sy leer ook oorlewing, die kuns van vreugde ‒ en die vreugde van kuns.
Reeds in haar vroeë tienerjare wen sy verskeie skryfkompetisies en redenaarskompetisies. Sy word twee agtereenvolgende jare aangewys as die beste redenaar in Noord-Natal. In 1975 word sy verkies as hoofmeisie van Hoërskool Vryheid. Sy neem ook deel aan verskeie sportsoorte en verwerf Natal-kleure vir atletiek, swem en sierduik.
In 1976 begin sy haar studies aan die UOVS in Bloemfontein. Sy behaal die grade B.A. Kommunikasiekunde, B.A. Hons en M.A. (Afrikaans) ‒ almal cum laude. In 1997 behaal sy ’n doktorsgraad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad.
Sy was dosent by die Universiteit van Zoeloeland en Kaapstad, skakelredakteur by Tafelberg Uitgewers en onderwyser by Paul Roos Gimnasium. Sy begin ook haar gewilde kursus in Skryfkuns en Kreatiewe Denke wat sedert die ontstaan daarvan talle pryswenner-skrywers opgelewer het. Sy skryf boeke en rubrieke, en word ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika met die skep van die hardkoppige, slim en dierbare karakter “Katriena”.
In 2002 trou sy met Johann Loubser en woon sedertdien op die historiese plaas De Compagnie naby Wellington. Sy is bedags plaasbestuurder en snags skrywer.
Haar boeke is topverkopers, in Suid-Afrika en in die buiteland. Sy ontvang verskeie toekennings vir haar skryfwerk, onder meer die ATKV-Prosaprys, FAK-prys, Eugène Marais-prys die ATKV-Kinderboekprys. Die Nederlandse vertaling van Blinde sambok, Scorpioenkind, is op die kortlys vir die Vlaamse Kinderjurie-prys (2004).
In 2006 ontvang sy nie minder nie as vier toekennings vir haar werk: Die avonture van Wilde Willemientjie kry die KKNK se Kanna-prys vir die Beste Kinderproduksie. Sy ontvang die Rapportryers se Erepenning vir haar werk asook die Patrick Petersen Gedenkprys vir haar hele oeuvre. Vir die kulturele bydrae wat haar bundel plaasverhale Die melkweg het ’n ster laat val in die landbougemeenskap gelewer het, kry sy ’n spesiale toekenning van die Departement van Landbou (Wes-Kaap).
In 2007 word sy deur Rapport / City Press aangewys as een van die Top Tien Vrouepresteerders in Suid-Afrika.
Benewens skrywer is Riana ook plaaswerker, geleentheidspreker, motiveerder, wynboer, restoureerder en liefhebber van die natuur.
Sy het twee seuns: Floris (’n geöktrooieerde rekenmeester) en Adriaan (dramaturg en skrywer) – die twee perfekste kunswerke wat ’n kunstenaar kán voortbring.