Schalk het twee lewens: die een musiek, die ander akademie. As musikant het hy die afgelope 14 jaar al saam met vele uiteenlopende kunstenaars gewerk, meestal as baskitaarspeler (van Valiant Swart, Anton Goosen, Piet Botha, Delta Blue, Bed on Bricks, Die Heuwels Fantasties tot Theuns Jordaan en vele meer), maar ook as vervaardiger (hy was vervaardiger van die SAMA genomineerde album Kompos en Kraai van Willim Welsyn).
Elke nou en dan skryf hy ook musiek vir teaterstukke (Bring vir Elvis Terug, Trek, en Stoot). Wat die akademie betref is hy 'n deeltydse dosent in Geskiedenis by die Universiteit Stellenbosch. Hy het grade in die Regte, Argeologie en Politieke Wetenskap, met Honneurs in Argeologie, en 'n Meesters in Kultuurtoerisme en Erfenisstudie. Hy het 'n PHD behaal, wat gehandel het oor post-1994 Afrikaanse musiek en identiteit.