Om ’n brug te bou: ’n onderhoud oor Johnny Clegg se ''The crossing''

  • 0

Foto uit die YouTube-video van "The crossing": Schalk van der Merwe is die baskitaarspeler in die middel

Schalk van der Merwe, baskitaarspeler in die Karen Zoid-band, gesels met Naomi Meyer oor ’n liedjie wat onlangs vir Johnny Clegg opgeneem is.

Schalk, ’n groep van omtrent vyftig musikante het onlangs “The crossing”, wat in die verlede deur Johnny Clegg gesing is, vir Johnny Clegg opgeneem. Jy was in die band en jou vrou was ook agter die skerms betrokke. Hoekom het julle hierdie lied vir Johnny Clegg opgeneem?

Ek het nie ’n rol gehad in die keuse van liedjie nie – ek het maar net die baskitaar gespeel! In elk geval: Johnny is in 2015 met pankreaskanker gediagnoseer en sy gesondheid dikteer dat hy basies nou feitlik klaar is met live optredes. Soos ek verstaan, het die mense van die luukse Kaapstadse hotel Ellerman House saam met Karen Zoid, Clegg se bestuurder, Roddy Quinn, asook vervaardiger Theo Crous en ’n paar ander bymekaar gekom met die doel om Johnny te vereer vir sy kulturele bydrae tot Suid-Afrika. Verder wou hulle ook ’n fonds stig in sy naam waarheen al die verdienste uit die liedjie gaan. So het die projek net groter en groter geword. Eers sou dit maar ’n klein groepie sangers gewees het wat die liedjie sou opneem, maar mettertyd is daar net name bygevoeg. Letterlik elkeen wat genader is, het ingestem om dit te doen. Teen geen betaling nie. Johnny het geweet dat ’n paar mense een van sy liedjies wou opneem, en ek dink hý het gekies dat dit “The crossing” moes wees – wat heel gepas was, gesien die konteks.

Emo Adams

Die lied het baie mense aangegryp toe dit verlede week op die radio gespeel het. Jy, met jou kennis van Suid-Afrikaanse musiek en navorsing wat jy daaroor gedoen het, kan dalk uitbrei oor die belang van die lied destyds - toe dit die eerste keer geskryf is en uitgevoer is deur ’n wit man en Zoeloe-sangers?

Die lied is in 1993 vrygestel op die album Heat, dust and dreams deur Clegg se groep Savuka, en is geskryf nadat een van sy orkeslede, Dudu Zulu, dood is in die politieke geweld van daai tyd (soos wat Johnny vertel het nou die ander aand met die bekendstelling van die liedjie). Teen hierdie tyd was Johnny natuurlik al ’n groot musikale figuur nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Sy agtergrond as jongman wat die Zoeloe-kultuur van die mynhostelle van Johannesburg aangegryp het, was sy kulturele fondasie. Hy het die leefwêreld van die trekarbeider beleef, maskandamusiek leer speel en verskeie Zoeloe-danse baasgeraak. Dit moes hom sekerlik ook aangespoor het om homself as antropoloog te kwalifiseer. Hy het selfs klasgegee by Wits voordat sy groep Juluka, wat hy saam met sy vriend Sipho Mchunu begin het, se debuutalbum in 1979 deurgebreek het en hom op sy pad as professionele musikant gestuur het. 

Karen Zoid

Selfs vandag, jare en jare later, is dit nie vanselfsprekend dat ons as Suid-Afrikaners saam liedere sing oor taal- en kultuurgrense heen nie. Toe jy betrokke was by die opname van die lied, hoe was jou ervaring? En hoe het die ander musikante dit beleef, so vanuit jou perspektief gesien?

Jy’s reg, ons is geneig om sulke goed meer bínne kultuurgrense te ervaar, maar wanneer dit wel oor kultuurgrense strek, is dit besonder magtig. My ervaring? Karen het my gebel ná die vergadering  en sy was báie opgewonde. Soos die tyd verloop het, was daar gerugte dat Dave Matthews en Peter Gabriel óók op die liedjie gaan verskyn. En toe wragtag! Ons het die liedjie opgeneem by Bellville Studios saam met Theo Crous. Dit was nog aan die begin, voor al die sangers bygekom het. Hy wys toe vir my ’n WhatsApp van Dave Matthews af wat sê dat Vusi Mahlasela daardie chorus sal “kill” (in musikale terme: hy sal dit ongelooflik mooi sing!). Toe begin ek agterkom dat hier ’n mate van skaal betrokke is … Die dag toe ons die video skiet, het die mense net ingestroom. Baie groot name in Suid-Afrikaanse musiek. Die volle lys (en al die besonderhede oor die liefdadigheid ens) kan mens kry by www.friendsofjohnnyclegg.com. Die legendariese Dorothy Masuka, een week na haar 83ste verjaardag en nog “jetlagged” nadat sy by Aretha Franklin se begrafnis in die VSA was, het afgevlieg saam met Abigail Kubeka, wat self in haar vroeë 70’s is. David Kramer, Vusi Mahlasela ... om net ’n paar te noem. En dit was net fantasties. Almal het net die wêreld se respek vir Johnny Clegg.

Zolani Mahola

Dink jy musiek kan hoop bewerkstellig, of heling bring? Dink jy in ’n land waar mense negatief voel oor so baie dinge, kan ’n lied werklik ’n verskil maak? Wat is die belang van kuns?

Gaan lees net die kommentaar onderaan die video op YouTube om te sien wat hierdie liedjie vir Suid-Afrikaners van uiteenlopende agtergronde beteken. Musiek kan inderdaad hoop bewerkstellig en heling bring en soveel meer ook. Die sosiale rol van kuns is ’n komplekse ding op ’n filosofiese vlak, maar in die geval van hierdie liedjie word dit dalk die beste opgesom deur te sê dat dit iets is wat mens neem na jou mees basiese, eerlikste en rouste emosionele vlak, gestroop van die vooroordele wat oor tyd in jou gemoed saampak.

Terug na Johnny Clegg en die fondsinsameling: julle fondse gaan onder andere vir skole en opvoeding. In ’n land met soveel ongelykheid, wat kan mense prakties doen om dalk ’n verskil aan een kind se lewe te maak?

Gaan gerus na die webwerf: www.friendsofjohnnyclegg.com. Soos ek reeds genoem het, álle fondse wat ingesamel word gaan 100% na die organisasie. Dit word bestuur deur die Click Foundation, wat baie ervare is en wat seker maak dat die maksimum getal leerders hierdeur bevoordeel word.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top