Willie Burger

Willie Burger is sedert die begin van 2010 professor in letterkunde en hoof van die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. Voorheen was hy vir 12 jaar aan die Universiteit van Johannesburg verbonde. Hy het sy akademiese loopbaan in 1991 by die Universiteit van Zoeloeland begin.

Willie is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ’n boek oor narratiwiteit. Hy het al meer as 40 navorsingsartikels oor ’n wye verskeidenheid temas in vaktydskrifte en as hoofstukke in boeke gepubliseer. Hy was ook as redakteur by publikasies oor die volgende vooraanstaande Afrikaanse skrywers betrokke:

  • Sluiswagter by die dam van stemme – die eerste omvattende boekpublikasie oor Karel Schoeman (2002, saam met Helize van Vuuren)
  • Die oop gesprek (2006) oor NP Van Wyk Louw
  • Contrary: Critical responses to the novels of André Brink (2013, saam met Karina Szczurek)
  •  ’n spesiale uitgawe van Tydskrif vir Literatuurwetenskap gewy aan die werk van Marlene van Niekerk.

Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNET-Rapport-toekenning vir boekresensent van die jaar aan hom toegeken. Hy is tans verantwoordelik vir die boekinsetsel op kykNET se Groot Ontbyt-program en daardeur, asook met sy resensies en rubrieke in verskeie populêre publikasies, probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei (hy is sedert 2010 die boekeredakteur van Vrouekeur en het agt jaar lank tot die “Kopstukke”-rubriek in Beeld bygedra).

Burger se sketse en verhaaltjies oor die wel en wee van vaderskap het oor ses jaar heen in die tydskrif Baba en Kleuter verskyn en is in twee bundels onder die titel Pa se stem versamel (2002 en 2005).

In die hoëveld waar dit oop is

Willie Burger Meningen 2018-04-17

"En ek word oorweldig deur heimwee na die kleintyd toe die dae lank en sorgvry en mooi was. En ek ruik die oulandsgras, en Toon van den Heever se 'In die hoëveld waar dit oop is en die hemel wyd daarbo/ waar kuddes waaigras huppel oor die veld/ waar ’n mens nog vry kan asemhaal en aan ’n god kan glo …' refrein in my ore."

Top