Daardie boerefees wat in Karel Schoeman se Na die geliefde land beskryf word? Ek het hom gister beleef. Gelukkig sonder die arrestasies aan die einde. Sonder dat daardie “hulle” ooit ter sprake gekom het. Maar Gerhard was daar, en Johannes, mnr Hattingh, selfs tant Miemie. Carla en Paultjie was nie daar nie. Natuurlik het almal gister ander name gehad. En hulle was mense van vlees en bloed, geen karikature nie. Natuurlik het ek ook nie van oorsee af teruggekeer na die ou familieplaas nie. Maar enige poging om gister te beskryf, lyk na stereotipering. Die ouens loop met sulke kort, stywe kakiebroekies en kakiehemde waarop “Massey Ferguson” of “John Deere” staan. En pette met “Pioneer-saad” voorop. Of breërandhoede. En hulle is almal verlangs familie van my.
My pa se neef, die laaste wat nog leef, het 91 geword. Hy was so vier jaar gelede nog op my pa se begrafnis. Ek het daardie dag lekker met sy dogters gesels. Ons het sulke clichépraatjies, tipies van begrafnisse, gemaak: “Dis jammer mens sien mekaar net op begrafnisse. Ons behoort eintlik meer te kuier.” En ons ruil nommers uit. Vier jaar later kry ek toe die uitnodiging na dié neef van my pa se verjaardagpartytjie en ek dink dit is beter om nou te gaan, terwyl die oom nog leef.
Ek ken eintlik nie die klomp boere voor die skuur nie. Hulle is kleinneefs se seuns en skoonseuns. Hulle is hartlik, oop, vriendelik, gulhartig, aangenaam. Mens voel sommer so tuis. Dan vertel mens ’n paar storietjies oor kleintyd, oor hoe my pa was, oor hoe die oom wat 91 word, was, en is. Grappige staaltjies. Jagstories, tandestories, want die oom was ’n tandarts-boer. Hulle vertel hulle sien my elke Dinsdag op TV en hulle vrouens vertel hulle lees my stories gereeld in Vrouekeur.
Ek kyk na die hoëveld om my en sien die ylwit wolkies in die verte en enkele stapels spierwit wolke heelwat nader. Dis groen, die mielielande natuurlik nou al bruin en die soja word geel, maar die gras is groen, die vleie blink van die water, die panne en spruitjies weerkaats die sonlig, die kosmosse blom aan die rande van die landerye, die flaminke pienk in die water. En ek word oorweldig deur heimwee na die kleintyd toe die dae lank en sorgvry en mooi was. En ek ruik die oulandsgras, en Toon van den Heever se “In die hoëveld waar dit oop is en die hemel wyd daarbo/ waar kuddes waaigras huppel oor die veld/ waar ’n mens nog vry kan asemhaal en aan ’n god kan glo …” refrein in my ore.
Ek onthou skielik my pa, sy stories oor toe hy klein was. Ek gesels met sy neef (twee jaar jonger as my pa) wie se 91ste verjaarsdag ons vier en hy vertel my stories oor my pa en dat hy Dinsdagoggende sien ek lyk al meer soos my pa.
Ons eet heerlike wors. As mens uitvra oor wie sulke lekker wors maak, is die antwoord bloot: “Maar dis mos regte boerewors.”
Ek word ’n skaap belowe as ek vir die kleinneef sal kom kuier. Die een wat sê hy onthou dat sy ma-hulle hom altyd vertel het dat ek sy lewe gered het toe hy byna in ’n sinkbad verdrink het. Hy was ’n baba wat nog doeke gedra het en die sinkbad vol water het om die een of ander rede buite op die gras gestaan en hy het daarin geval en ek het dit gesien en hom uitgetel – ek was seker net so agt of nege jaar oud. Hy staan wydsbeen en is groot van gestalte en praat soos ’n geoefende orator oor my pa se neef wat verjaar. Hy vertel komiese staaltjies. En doen ’n lang tafelgebed waarin God bedank word vir al die seëninge en herinner word aan al die goeie dade van die oom en sy familie en vertel word van almal wat van ver gekom het en gevra word vir nog seëninge vir die jare wat voorlê en versoek word om almal weer huis toe te vergesel. Ek wag vir die bedanking vir die kos en die hande wat dit voorberei het, maar daai cliché bestaan blykbaar nie meer nie. Miskien is kos deesdae in oorvloed beskikbaar en die hande wat dit voorberei het, is professioneel en word dienooreenkomstig vergoed? Hy praat met God en met mense in presies dieselfde stemtoon, met so ’n selfversekerde, klokhelder stem en met duidelik-geartikuleerde lettergrepe en rollende erre.
Intussen verkyk ek my aan die wolke wat elke sekonde verander. Weer en weer loop ek na buite, verstom oor die golwende vlaktes waaigras wat steeds huppel oor die veld. En weer asem ek die grasgeure in. Ek loop agterom die skuur en kyk na die groot rooi trekkers met dubbele agterwiele en allemintige implemente waarvan ek die naam of doel nie ken nie. Alles ver verwyderd van die plase wat ek as kind altyd so effens met armoede geassosieer het. Die voertuie waarin almal daarheen gekom het, is groot viertrek-nutsvoertuie, of Mercedesse. Welvaart spreek uit alles – dis nie meer die sukkelplase van ouds nie. ’n Bietjie verder weg, onder die bloekombome, ruik mens nog steeds diesel en mieliepitte, beesmis, skaapmis. En oral is daar steeds vlieë.
Die jong boere met hulle fris bolywe (ek weet dit klink soos ’n cliché, maar die jong manne vul die kort broekies tot barstens met gespierde bobene, en die John Deere-hemde span om bultende boarms en diep borskaste) en bruingebrande gesigte praat en lag hartlik. Oor die onderdele van voertuie, oor reënval, oor die nuwe hoofpad wat gebou word. Hulle vertel oor mense wat ek nie ken nie wat snaakse dinge gedoen het of interessante sakepraktyke uitprobeer.
Ek ontmoet die boer wat nou die lappie grond besit wat vroeër my pa se erfplasie was. ’n Innemende jong man. Sy seuntjie en dogtertjie speel al om sy koöperasiestewels. Hy kom eintlik van Ermelo, maar sy vrou is van die Snyderse wat nader aan Hendriena geboer het. Hy het haar erfplaas oorgeneem en later my pa se lappie bygekoop. Maar hy weet nie van my pa nie, het dit by ’n Von Wielligh gekoop. Hy praat streng met die twee kinders wat laggend met ’n tennisbal speel en hulle verdwyn verskrik om die hoek van die stoor. Ek vertel hom van die huis op die plaas, van daardie bome wat nou so hoog staan. Hy is verbaas om te hoor ons gesin het daardie huis met ons eie hande gebou, die ses van ons, in ’n Desembervakansie. 1971.
Nou woon daar ’n afgetrede plaaswerker en sy vrou in “ons” ou huisie. Hulle was daar toe hy die plaas gekoop het. Hy wou hulle nie afsit nie. Hulle bly nou maar daar. Die jong boer saai mielies en sojabone op die plaas. Hy het eenkeer sy trekkers oornag daar by die huis gelos, maar die volgende oggend was al die diesel uit die tenks gesteel. Hy vra toe die ou man daaroor uit, maar die ou man sê hy weet van niks, hy het geslaap. Wat gaan van die ou man word? wil ek weet. Hy sal maar wag tot die ou man doodgaan, reken die boer, en dan sien.
Ek vertel hom van die klipperige gedeelte anderkant die huis wat my pa die Kakiegrafte genoem het. Volgens oorlewering is ’n klompie Engelse daar begrawe na ’n skermutseling tydens die Boere-oorlog. Maar later is hul beendere opgegrawe en na die Middelburgkerkhof verskuif.
Ek word oorspoel deur herinneringe en wonder hoekom ek so lank geneem het om weer terug te gaan daarheen. Ek was seker byna 30 jaar nie daar nie. Ek mis skielik my pa. My ma. Die gesin se saamwees en bordspeletjies in die vakansieaande by die lig van ’n Coleman-keroseenlamp ...
’n Bejaarde tannie kom na my, vertel my sy wou my eintlik kontak ná sy my op TV gesien het. Sy wou raad vra oor ’n boek as verjaarsdaggeskenk vir die oom. Ek sê ek weet nie eintlik wat hy lees nie. Maar sy vertel dat hy onlangs die boek oor die president gelees het. Ek sê, “O, The President’s Keepers?” “Nee,” maak sy my vraag effens geïrriteerd af, “álmal het daai een gelees”, sy praat van die een oor Cyril.
Almal het The President’s Keepers gelees. Dis vir haar vanselfsprekend. Sy is nie ’n tant Miemie nie. Al lyk sy net so. Hulle het ook die boek oor Cyril gelees.
Ek onthou hoe baie boeke ek in die lang somervakansies in die buitekamer gelê en lees het. Alles uit die Libri-reeks wat in die biblioteek was. Dis daar wat ek vir die eerste keer Konsalik-boeke gelees het: Die valskermbataljon, Die snydokter van Stalingrad ... My eerste cowboyboekie het ek in Hendrina se kafee gekoop van so ’n draairakkie af: Louis L’Amour se Last stand at Papago Wells. (Wanneer laas het jy ’n draairakkie met slapbandboeke in ’n kafee gesien?)
Een van die jong boere staan nader. Hy hoor die opmerking oor die Ramaphosa-biografie. “Ek hoop net die boek vertel die héle storie,” meen hy. “Ramaphosa is ’n skelm. Ek hoop hulle vertel dit ook.”
Hoe skelm? vra ek.
Baie skelm, meen hy. Dit is hy wat ons uit ons land uit onderhandel het.
Ek vra nie uit oor die “ons” in “ons land” nie. Ek vra of sulke goeie onderhandelingsvaardighede nie dalk is wat ons land juis nou nodig het nie. Hy val nie daarvoor nie. Hy gaan aan met hoe ons uit ons land onderhandel is. Dis toe wat ek begin dink aan Schoeman se Na die geliefde land.
En toe val ’n ander boer in en ek hoor, soos uit ’n periodefliek uit die 1940’s, die k-woord val. En niemand trek ’n spier nie en die stemme word driftiger. Ek merk vir die eerste keer die holster aan een van die boere se gordel op.
Ek draai om en loop uit die groot skuur en slaan my oë op na die hemel wyd daar bo en onthou Toon van den Heever se “Werkstaking by die kleigat” waarin die Hoëveld in die eerste paar paragrawe met ’n reeks retoriese vrae beskryf word. Ek verwonder my aan die stapels wolke wat al weer verander het en neem ’n paar foto’s.
Met die terugloop in die skuur keer die gawe kleinneef my voor. Hy het nog ’n anekdote oor my pa. Hy begin sy verhaal met die woorde: “Kyk, ek is tradisievas. En ek is sentimenteel. Ek bewaar alles. Ek wil nie hê iets moet verlore gaan nie. Ek teken alles op. Daai huis waarin ons nou bly, is die een waarin jou pa ook grootgeword het.”
’n Rukkie later hoor ek hom met iemand anders praat oor “ons kerk” en ek onthou dat hulle – sy ouers, my neef-hulle – destyds uit die NG Kerk bedank het en na die Afrikaanse Protestantse Kerk is. Hulle wou nie die NG Kerk se omswaai oor apartheid aanvaar nie. Sy kinders, so vertel my suster, is in die een of ander CNO-skool.
Die wolke word al donkerder. Ek begin groet. Word uitgenooi. My seer pinkie word hard gedruk. Ek glimlag en maak vae beloftes.
En ry weg.
En wonder hoe mens oor so ervaring skryf sonder om soos Dana Snyman te klink. Want ek weet Dana het dit al baie goed gedoen, hierdie ambivalensie, hierdie onmoontlikheid, hierdie ervaring van heimwee en die kontras om te weet dit is verby, dit is niks van jou nie, dit maak nie deel uit van jou lewe nie. Hierdie anachronisme wat so ingewikkeld is dat mens dit nie eens beskryf kan kry nie, wat vir Dana maar laat reik na die bottel onder sy bakkiesitplek.
Buro: MvH