Baie boere verlig oor bek-en-klouseer ná Steenhuisen ’n bloutjie in die hof loop

  • 0

Baie Suid-Afrikaanse veeboere haal vir die eerste keer in maande effens vryer asem ná die afgelope week se uitspraak in die Pretoriase Hooggeregshof. Die hof het die minister van landbou, John Steenhuisen, se verbod op private inenting teen bek-en-klouseer (BKS) tersyde gestel en boere toegelaat om self goedgekeurde entstowwe aan te koop en toe te dien.

Die uitspraak word wyd as ’n deurbraak beskou in die stryd teen die hoogs aansteeklike siekte wat in Februarie vanjaar as ’n nasionale ramp verklaar is. Groepe soos Sakeliga, Saai en Vrystaat Landbou, wat die saak aanhangig gemaak het, noem dit ’n “belangrike oorwinning vir boere se reg om hul eie lewensonderhoud te beskerm”.

Baie boere in die rooivleisbedryf en in gebiede soos Limpopo, KwaZulu-Natal en die Vrystaat beskou die uitspraak as ’n direkte klap in die gesig vir Steenhuisen se sentralistiese benadering. Hulle argumenteer al lank dat die staat se monopolie op entstofverkryging en -toediening die verspreiding van die siekte eerder vererger het as wat dit gehelp het.

Volgens die hofuitspraak mag vee-eienaars en boere nou:

  • goedgekeurde BKS-entstowwe privaat aankoop, insluitend om dit in te voer uit lande soos Argentinië
  • die entstof self toedien op hul diere, op voorwaarde dat hulle die betrokke staatsveearts vyf dae voor die beplande inenting in kennis stel; hulle moet dan binne 14 dae ná inenting ’n volledige verslag oor die resultate en enige newe-effekte indien.

Die hof het beklemtoon dat die Minister se verbod onredelik was en dat dit boere se grondwetlike reg op eiendom en ekonomiese aktiwiteit skend. Die uitspraak geld landwyd en blokkeer ook inmenging in bestaande private invoerooreenkomste.

Kenners waarsku egter dat boere streng by die prosedure moet hou om nie self in die moeilikheid te beland nie. Onwettige of ongeregistreerde entstowwe bly verbode.

Steenhuisen se kantoor het vinnig gereageer en gesê dat die uitspraak se praktiese impak beperk is. Volgens ’n amptelike verklaring glo die Minister dat sy bestaande artikel 10-skema reeds voldoende ruimte vir private deelname bied.

“Die regering handhaaf ’n gekoördineerde, wetenskaplik gefundeerde benadering om die uitbraak te beheer en te voorkom dat die siekte verder versprei,” het die verklaring gelui. Steenhuisen se kantoor beklemtoon dat ongekoördineerde private inenting risiko’s kan inhou vir die nasionale kudde en uitvoermarkte.

Steenhuisen self het in die parlement gesê hy respekteer die hof se besluit, maar herhaal dat ’n gefragmenteerde benadering nie die oplossing is nie. “Ons kan nie toelaat dat elke boer sy eie ding doen nie, want BKS ken nie plaasgrense nie,” het hy bygevoeg.

BKS het sedert 2024 in verskeie provinsies uitgebreek en duisende diere getref. Die siekte het reeds groot skade aan die rooivleisbedryf berokken, met ʼn uitvoerverbod na belangrike markte soos die EU en China. Volgens AgriSA word die totale ekonomiese impak reeds op meer as R10 miljard geraam.

Die staat se traagheid om entstowwe betyds beskikbaar te stel het tot intense frustrasie onder boere gelei. Baie het aangevoer dat die departement se kapasiteit eenvoudig nie opgewasse is vir die omvang van die krisis nie.

Die hof het ook toegelaat dat die volle hersieningsaansoek voortgaan, wat beteken dat Steenhuisen se beleid moontlik permanent tersyde gestel kan word. Intussen berei boereorganisasies voor om so vinnig moontlik met privaat inentings te begin.

Vir duisende boere wat maande lank in onsekerheid geleef het, voel die week se uitspraak soos ’n ligstraal. Of dit egter genoeg gaan wees om die BKS-krisis te stuit, sal die volgende paar weke wys.

Steenhuisen het intussen aangekondig dat die eerste besending van 3,5 miljoen dosisse Biogenesis Bagó BKS-entstowwe Sondag aangekom het, en het alle provinsiale departemente versoek om te verseker dat hul top prioriteit vir die volgende paar weke moet wees om soveel diere so gou as moontlik in te ent. 

Die res van hierdie besending uit Argentinië is reeds onderweg en sal na verwagting gedurende die loop van die week aankom. “Dit sal die grootste enkele besending BKS-entstowwe wat nog ooit in Suid-Afrika ingevoer is. Provinsies moet nou spoedig en dringend optree om die inentingspogings aan die voorpunt op te skaal en ons nasionale kudde van ongeveer 14 miljoen beeste te beskerm,” het Steenhuisen gesê. 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top