Daar is talle Suid-Afrikaners wat stil-stil al hulle besittings opgepak en die land vir hulle eie veiligheid verlaat het, net soos tydens apartheid.
So sê die politieke kommentator en rubriekskrywer Solly Moeng, wat ook deeltydse dosent by die EU Business School is.
Moeng, wat tans in Switserland woon weens onder meer die intimidasie teen hom oor sy uitgesproke kritiek teen die ANC, was onlangs in Suid-Afrika om gesprekke te voer met belanghebbende groepe en organisasies oor maniere waarop die land gered kan word.
Hy sê by die aanhoor van die woord "ballingskap" of "banneling" maak baie Suid-Afrikaners ’n outomatiese assosiasie met die tallose bekende en onbekende individue wat die land deur die harde jare van apartheid verlaat het om te vlug van moontlike opsluiting of sluipmoord deur die gevreesde staatsveiligheidsagentskappe van destyds.
Hy het onder andere ʼn groep Suid-Afrikaners in Somerset-Wes by die gespreksforum DINK toegespreek oor hoe die burgerlike samelewing in Suid-Afrika ’n meer aktiewe rol kan speel om die huidige regering te vervang.
Moeng het tydens sy besoek met verskeie groepe in die land oor politieke grense heen gesprek gevoer om die vorming van die burgerlike drukgroep Convergence4SA te help fasiliteer.
“Ek ondersteun Suid-Afrikaners ten volle wat oor skeidslyne heen bymekaarkom om maniere te vind om ons land te genees,” het hy die afgelope week op Facebook geskryf toe hy voorbrand gemaak het vir die Veelpartyhandves, wat uit agt opposisiepartye bestaan, se gesprek met verskeie burgerlike organisasies.
In sy jongste nuusbrief, I'm So Solly, sê Moeng daar is vandag talle Suid-Afrikaners in ballingskap.
Corruption is turning SA's whistleblowers into post-apartheid exiles https://t.co/D6uITBZaxe via @LinkedIn
— Solly MOENG (@Solitoliquido) November 30, 2023
Hy sê dit voel amper verkeerd of disrespekvol teenoor diegene wat gevlug het om weg te kom van die gruwels van apartheid om die woord "ballingskap" te gebruik wanneer daar verwys word na die meer onlangse verskynsel van Suid-Afrikaners wat uit hul geboorteland vlug weens verskeie faktore wat hulle lewens direk of indirek bedreig.
“Diegene wat vlug, wissel van mense wat seksuele aanvalle deur magtige politici aangemeld het, soos wyle Fezekile Ntsukela Kuzwayo (met die naam "Khwezi" om haar veiligheid te beskerm) wat Jacob Zuma daarvan beskuldig het dat hy haar verkrag het. Zuma is in die hof van justisie vrygespreek, maar waarskynlik nie in die hof van openbare mening oor wat in daardie slaapkamer gebeur het nie.”
Moeng sê baie mense het ook besluit om Suid-Afrika te verlaat as gevolg van Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en regstellende-aksie-wetgewing wat daarop gemik is om die wanbalanse van die verlede reg te stel, maar wat lei tot onbillike rassediskriminasie teen onskuldige burgers van minderheidsgroepe wat bloot ’n bestaan wil maak en tot Suid-Afrika se ontwikkeling bydra.
Ander is fluitjieblasers, professionele mediapersone en aktiviste wat die waarheid oopgevlek het oor magsmisbruik en openbare hulpbronne wat oor die jare onder die ANC-regering wanbestuur is.
Die intimidasie van fluitjieblasers en die besighede of organisasies wat probeer om hulle te help kan volgens Moeng baie vorme aanneem. Hy sê dit lei dikwels tot verhoogde stres en potensieel dodelike hipertensie.
“Suid-Afrika kan dalk spog met wette wat die reg op vryheid van uitdrukking beskerm en dat daar geen joernalis in die tronk is vir hul sienings nie, maar die eksistensiële bedreigings wat baie in die gesig staar, is werklik. Sommige is vermoor omdat hulle in die pad van korrupsie staan. Vir diegene wat nog lewe, word postapartheid ballingskap die enigste opsie.”
So lank as wat dit voortduur, sal die aantal stil postapartheid bannelinge volgens hom aanhou toeneem. Dit veroorsaak die uitvloei van nodige vaardighede en potensiële belastinginkomste vir Suid-Afrika en skep geleenthede vir opportunistiese nuwe-era-"kolonialiste" uit die Ooste, skryf Moeng in sy nuusbrief.