Bankbaas sonder kantoor, motor of lessenaar

  • 0

Een van die grootste bankiers in die land het Suid-Afrikaners behoorlik aan die praat met die nuus dat hy nie ’n kantoor, sy eie lessenaar of selfs ’n motor het nie.

Die uitvoerende hoof van FNB, Jacques Celliers, is nie sonder motor of kantoor omdat sy motor gesteel is of sy kantoor opgeknap word nie, maar omdat hy verkies om daarsonder klaar te kom. Netwerk24 se berig oor die bankbaas sonder motor of kantoor het ’n stortvloed kommentaar op sosiale media uitgelok.

Celliers wat die afgelope vyf jaar aan die stuur van FNB staan, sê sy slimfoon is sy kantoor. Hy het ook vyf jaar gelede besluit om van sy motor ontslae te raak. Eers het hy ’n motorbestuurder aangestel om hom rond te ry sodat hy meer tyd het om sy leeswerk te doen op pad werk toe of huis toe.

Later het hy sy motorbestuurder gehelp om as Uber-bestuurder te registreer. Dit is nou sy amptelike vervoer wanneer hy gaan werk. Wanneer die bestuurder hom nie rondry nie, werk hy vir Uber. Hy sê sy kollegas weet hy het nie ’n motor nie. Hulle nooi hom dikwels om saam met hom na ’n vergadering te ry dan handel hulle sommer heelwat sakebelange in die motor af op pad na ’n vergadering.

Sy vorige kantoor wat as die uitvoerende direkteur se suite bekend gestaan het, is omskep in areas waar vergaderings en slypskole gehou word. Hy sê kantoorspasie in die middestad kom teen ’n premie en kan beter benut word as om dit vir ’n individu te reserveer wat dikwels nie op kantoor is nie.

Die reaksies van die publiek was oorwegend positief oor die innoverende manier waarop hierdie bankbaas sake doen, maar daar was ook diegene wat skepties was oor die uitvoerbaarheid daarvan.

Een van die bank se werknemers in die IT-afdeling wat meestal op onafhanklike projekte werk, wou weet waarom mag hy nie ook van die huis af te werk nie. “Ek werk in IT by FNB en meestal op onafhanklike projekte. Dit neem my soms vier ure per dag om werk toe en terug te pendel. Ons CIO weier platweg dat ons van die huis af kan werk. So het ons baie keer werksdae van 13 uur omdat ons so lank moet pendel. So, hierdie werk dalk vir Jacques want hy is CEO, maar ons gewone ouens kry nie die voordeel hiervan nie. The more things change, the more they stay the same.”

Baie lesers het gesê hulle wens hulle kan so baas hê en sal self graag van die huis af wil werk.

Daar was ook ligter kommentare soos die van Jack Priem wat sê hy kan maar net raai waar die bankier wel sit met sy slimfoon by die hoofkantoor. “Moet dit net nie in die water laat val nie!”

Volgens Celliers hou hy en sy personeel ook minder vergaderings. Al hoe meer vergaderings geskied deur middel van WhatsApp. Hy sê dikwels besef mense dan ’n formele vergadering is eintlik onnodig en spaar so kosbare werktyd.

Heelwat ander deelnemers aan die gesprek op sosiale media meen hierdie tipe werkswyse sal al hoe meer die norm word. “Ons klein maatskappy het sleutelpersone wat van Mauritius, Australië, Kaappunt en selfs ook Vryburg werk. Alles digitaal en veral die werkende ma's is verheug oor hierdie vryheid wat hulle geniet om na hulle kinders te kyk en ook goeie werk te lewer. Ons het nog nooit ’n probleem gehad met iemand wat die vryheid misbruik het nie,” vertel een leser.

Daar was egter ook diegene wat die geleentheid aangegryp het om hulle eie frustrasie met die bank te verwoord. “Ek wens net hy kan sy call centre agents en takpersoneel ook kry om in sy doeltreffendheid te deel. Hulle moet omtrent met ’n sambok aangejaag word net om te lyk of hulle lus is vir werk,” het iemand gemor terwyl ’n ander opmerk, “hy klink vir my soos ’n maanman op aarde.  Ek sou graag die inhoud van die dagboek waarna hy verwys wou sien.”

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top