Bankrot poskantoor sal duisende poste moet snoei

  • 0

Die ineenstorting van die Suid-Afrikaanse Poskantoor (SAPK) wat in sakeredding geplaas is, beteken dat nog duisende van die organisasie se poste moontlik in die gedrang is.

Die poskantoor is Maandag van likwidasie gered nadat ’n aansoek by die Hooggeregshof deur die minister van kommunikasie en digitale tegnologieë toegestaan is om likwidasieverrigtinge te staak en eerder die bankrot onderneming in sakeredding te plaas.

Dit beteken egter dat die belastingbetalers weer sal moet opdok vir die skuld en dat tot 7 000 poste in die SAPK op die spel is.

Regter Elmarie van der Schyff het Maandag in haar uitspraak gesê sy vind sekere van die regering se uitsprake om die poskantoor te red deur dit in sakeredding te plaas ietwat ontstellend.

Die DA het Woensdag ’n  beroep op die ministers van finansies en kommunikasie gedoen om die voortslepende finansiële krisis in die poskantoor te verduidelik en ’n omkeerplan vir die mislukte entiteit te verskaf.

Die DA se skaduminister van kommunikasie en digitale tegnologieë, Natasha Mazzone, sê in ’n verklaring haar party sal voortgaan om hierdie voortslepende ramp te monitor en nie net stilweg staan en toekyk ​​terwyl nog ’n staatsondersteunde entiteit (SOE) inplof tot nadeel van kwesbare Suid-Afrikaners nie.

Die Noord-Gautengse Hooggeregshof het sakeredding vir die SAPK Maandag ná jare se wanbestuur goedgekeur.

Dit het gekom ná ’n uitgerekte marathonpoging om die likwidasie van nog ’n ANC-vernietigde staatsentiteit af te weer.

Volgens ’n plan wat deur die kabinet goedgekeur is, behels dit nog ’n reddingsboei van R3,8 miljard vir die poskantoor se sakeredding, met die moontlikheid van ’n verdere reddingsboei. Hierdie befondsing sal ten koste van ander programme uit die nasionale begroting vir 2023/24 moet kom.  .

Die SAPK het reeds reddingsboeie van R7,9 miljard ontvang uit 2014 tot 2019 se begrotings en R2,4 miljard uit vanjaar se Februarie-begroting. Met die jongste sakereddingsfinansiering van R3,8 miljard beloop die totale reddingsboei ’n verbysterende R14,1 miljard.

Die DA sê in hulle verklaring onder die ANC het SOE’s ’n bodemlose put geword vir reddingsgeld met geen politieke wil vir volhoubare oplossings nie.

“Ten spyte van hierdie reddingsboei het die SAPK R2 miljard se jaarlikse verliese en R8 miljard se laste. Om ’n geloofwaardige ommekeer te maak, sal hy 7 000 poste moet sny, sonder dat dit die skuld van sy hardwerkende werknemers is.”

Dit is bo en behalwe die 6 000 poste wat reeds gesny is, asook die 314 takke wat die afgelope drie jaar gesluit is.

Die DA sê die poskantoor het soos ander staatsentiteite te veel mense in uitvoerende poste wat buitensporige salarisse verdien. Pleks daarvan om dit te sny of hulle salarisse te verminder, staar 7 000 gesinne nou werkloosheid in die gesig en verdien die SAPK se uitvoerende beampte en topbestuurders vanjaar steeds ’n gesamentlike R7,7 miljoen.

Die DA sê die minister van finansies moet verduidelik waarom die SAPK geborg word en hy moet die publiek inlig watter programme gesny gaan word om die reddingsboei te finansier.

“Ons sal ook aan die minister van kommunikasie skryf om die dreigende werksverliese dringend te probeer red en om eerder die salarisse van die SAPK se uitvoerende beamptes te sny, tensy hy wil hê dat die 13 000 werksgeleenthede wat verlore sal gaan, sy nalatenskap sal wees. Hy moet ook verduidelik waarvoor presies die reddingsboei in die SAPK se omkeerplan gebruik gaan word, wat die teikens en tydlyne is wat genoem word en hoekom hierdie reddingsboei sal werk terwyl ander sedert 2014 nie een gewerk het nie. Verder sal ons die minister van kommunikasie vra hoeveel die SAPK se sakereddingspraktisyns sal verdien,” sê die party in hulle verklaring.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top