Die finansiële verknorsing waarin die land hom reeds bevind, het aansienlik vererger as gevolg van die regering se COVID-19-regulasiess. Die land se fiskus is in ’n baie slegter posisie as wat dit tydens 2008 se wêreldwye finansiële krisis was.
Die minister van finansies, Tito Mboweni, het tydens Woensdag se minibegroting in die parlement ’n donker prentjie geskets van die land se geldsake. Hy sê die tesourie voorspel ’n groter negatiewe ekonomiese groei vir 2020 as wat daar in Junie voorspel is.
Mboweni het vanjaar se inkrimping in die ekonomie na ’n groei van –7,8% aangepas teenoor die –7,2% wat in Junie voorspel is. Mboweni het tydens sy mediumtermyn-begrotingsrede gesê die regering sal ’n fiskale konsolidasieplan vir die volgende vyf jaar voorstel om die ekonomie te steun en werksgeleenthede te skep.
Die ekonomie sal na verwagting aanstaande jaar met 3,3% groei; in 2022 met 1,7% en in 2023 met slegs 1,5%. Mboweni het gewaarsku dat ’n versuim om strukturele hervormings in te stel en ’n moontlike tweede vlaag van COVID-19-infeksies ’n verdere negatiewe impak op ekonomiese groei sal hê.
Die Minister, wat gereeld tydens sy begrotingstoesprake uit die Bybel aanhaal om ’n punt te probeer bewys, het Woensdag ’n waarskuwing uit Johannes 12:35 voorgelees: “Nog net ’n kort tydjie is die lig by julle. Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis lewe, weet nie waar hy gaan uitkom nie.”
’n Bykomende reddingsboei van R10,5 miljard is deur die Minister aan die sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) toegewys. Die ANC-lede in die parlement het dié aankondiging met applous verwelkom, terwyl opposisiepartye soos die DA dit luidkeels verwerp het. Mboweni het gesê die tesourie sal nou saamwerk met die Departement van Openbare Ondernemings in dié verband. Hy sê egter die befondsing van ondoeltreffende staatsinstellings behoort heroorweeg te word.
Die DA se skaduminister van finansies, Geordin Hill-Lewis, sê in ’n verklaring Mboweni se begrotingstoespraak skiet ver tekort aan die verwagtings.
Volgens Hill-Lewis het die Minister sy verbintenis versaak om die land se skuldlas teen 2023 onder beheer te kry. Hy het ook na bewering sy belofte om nie verdere reddingsboeie aan die SAL te gee nie, versaak.
“Suid-Afrikaners sal voortgaan om te betaal vir die zombistaatsmaatskappy en aanhou om die gevolge te dra van die groeiende skuldlas.”
Die bykomende reddingsboei van R10,5 miljard om die SAL te probeer red, bo en behalwe die R16,4 miljard wat Februarie toegeken is, bewys volgens die DA die ANC se disrespek vir arm Suid-Afrikaners. Hill-Lewis sê Mboweni moes geweier het om nog ’n reddingsboei aan SAL toe te staan.
“Hy het dit in die verlede as ’n saak van beginsel gestel dat daar nie nog geld op die SAL gemors sal word nie, maar het sy belofte verbreek en gekapituleer en behoort daarom sy posisie in die kabinet te heroorweeg.”
Die bykomende reddingsboei sal onder andere befonds word deur:
- besnoeiing van die polisiebegroting met R1,2 miljard
- besnoeiing van die onderwysbegroting met R1,4 miljard
- besnoeiing van die begroting vir howe en vervolgingsowerheid met R1,2 miljard
- besnoeiing van toelaes aan provinsies en munisipaliteite vir onder andere nuwe skole en gesondheidsdienste.
Die hoofekonoom van die Efficient Group, Dawie Roodt, het na afloop van die toespraak in ’n webinaar gesê die ekonomiese situasie in die land kan nie aan die virus toegeskryf word nie, maar is die gevolg van die streng inperkingsregulasies wat die ekonomie ernstig geskaad het.
Volgens Roodt is die tesourie nie meer die sentrum van die begroting soos in die verlede nie. Hy sê dit is duidelik dat die President self al hoe meer betrokke raak in die opstel van die begroting. Hy sê Mboweni word as regs gesien in die ANC.
Volgens Roodt is Ramaphosa nou ook in beheer van die land se geldsake en Mboweni moet volg. Die feit dat daar weer eens ’n reddingsboei aan die SAL gegee is, is volgens Roodt ’n ideologiese oorwinning vir Pravin Gordhan en diegene wat die SAL probeer red.