As die wankelende Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) nie baie vinnig ’n noodlanding maak nie, kan hy homself met al sy werknemers en miljarde rand se skuld te pletter val. Die lugredery se dag zero is nou baie naby.
Dít is die waarskuwing wat die vakbond Solidariteit rig in ’n aansoek wat Donderdag by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien is om te vra dat die SAL in sakeredding geplaas word.
Die vakbond sê indien die aansoek suksesvol is, sal dit beteken dat die hof ’n sakereddingspraktisyn met omvattende magte kan aanstel om die lugredery te red. Dit volg terwyl die vakbond Numsa en die kajuitbemanningsvereniging SACCA Donderdag vir ’n sewende dag gestaak het.
The #SAAstrike has entered its 7th day. Numsa and Sacca leadership are preparing to enter #SAA’s offices for a second day of negotiations. They gather in prayer before they go in. @etvNewsSA pic.twitter.com/s6TEupWpev
— Rianté Naidoo (@RianteP) November 21, 2019
Indien Solidariteit se aansoek suksesvol is, sal dit die eerste keer wees dat ’n staatsonderneming in sakeredding geplaas word.
Indien #Solidariteit se aansoek suksesvol is, sal dit die eerste keer wees dat ’n staatsonderneming in sakeredding geplaas word. #StuitSALChaos @SolidariDirk @Netwerk24 @Beeld_Nuus @maroelamedia @MonSpek1 @Klankkoerant pic.twitter.com/YBUXdEeTqj
— Solidariteit (@solidariteit) November 21, 2019
Die opgehoopte verlies van die SAL het gegroei van R16 miljard in 2013 tot R31 miljard in 2019. Die SAL is volgens Solidariteit hopeloos insolvent. “Die laste van die maatskappy oorskry die bates by verre en die situasie versleg jaar na jaar. Ander staatskuld wat net groei en krisisareas, soos Eskom wat ’n groter prioriteit is, vererger die krisis vir die SAL en bring ineenstorting en totale werkverlies net nader,” sê Soliditeit in ’n verklaring.
Die SAL benodig volgens hul eie voorlegging aan die parlement ’n verdere R21 miljard om die lugredery om te draai en tydelik in die lug te hou.
Volgens Solidariteit sal die effek op die SAL se 11 000 werknemers, duisende verwante poste, die gemeenskap en die land se ekonomie net te erg wees om daarvoor te sit en wag.
Solidariteit voer aan dat sakeredding noodsaaklik is ter wille van sekerheid vir die vakbond se lede by die SAL sowel as belastingbetalers in Suid-Afrika. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê hulle is diep bewus van die krisis waarin die SAL verkeer.
#StopSALChaos - #Persverklaring
"Sakeredding is nie likwidasie nie. Inteendeel, sakeredding is ʼn poging om ʼn oplossing duskant likwidasie te kry," @SolidariDirk @antbijl @WernerHuman18 @cpm747 @maroelamedia @Klankkoerant https://t.co/DDOZzuY3Vu
— Solidariteit (@solidariteit) November 21, 2019
Hy sê die SAL is op pad na likwidasie met enorme gevolge vir werknemers, die Suid-Afrikaanse ekonomie en belastingbetalers. “Altesaam 11 000 werkers gaan hul werk verloor en ’n skuldlas van miljarde rande gaan deur die staatskas geabsorbeer moet word indien daar nie ’n radikale ingryping is nie. ’n Sakereddingsaansoek is die enigste opsie wat oorbly om die skade te beperk. Die onlangse gebeure by die SAL het die krisis versnel. Die SAL se dag zero is nou baie naby. Die huidige aandeelhouer het beheer oor ’n oplossing vir die SAL verloor.”
.@cpm747: "SAA is hopelessly insolvent. The liabilities of the company exceed the assets by far and the situation deteriorates year after year." @eNCA @sabcnuus @BDliveSA @maroelamedia @Klankkoerant pic.twitter.com/G6OtyFjGAA
— Solidariteit (@solidariteit) November 21, 2019
Volgens Solidariteit se hofstukke wat honderde bladsye beslaan, is die SAL in groot finansiële nood, maar die maatskappy kan deur ingryping van buite gered word.
“Solidariteit het ’n omvattende reddingsplan wat deur ’n span voorste lugvaartkenners in Suid-Afrika en internasionaal opgestel is, by sy hofstukke ingesluit. Die kenners wat gehelp het met die ontwikkeling van die plan sluit in die internasionale lugvaartkenner Guy Leitch, wat ’n reuse-bydrae gelewer het, asook vorige uitvoerende hoofde van die SAL. Onderhoude is ook gevoer met verskeie ander uitvoerende hoofde van lugrederye en gevallestudies is uit ʼn PhD-proefskrif oor die Afrika-lugvaartbedryf gebruik.”
Die kabinet het ook die week vergader waartydens die SAL ’n belangrike besprekingspunt was terwyl die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, Donderdag in die parlement aan die ANC se koukus terugvoer gegee het oor die probleme by Eskom en die SAL. Die ANC se koukus is diep verdeeld oor die wyse waarop die probleme by SAL en Eskom aangespreek moet word.
Intussen het die SAL aangekondig dat hulle van Saterdag tot 14 Desember alle vlugte tussen Johannesburg en Hongkong opskort weens beduidende verliese op die roete. Die lugdiens sê verliese op die roete is vererger deur politieke spanning in Hongkong.
Buro: MvH