Bedrieër poog glo om die verkiesing met WhatsApp te beïnvloed

  • 0

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Suid-Afrikaners gewaarsku dat daar glo ’n bedrieër op WhatsApp doenig is wat homself voordoen as die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, terwyl dit nie die geval is nie.

Die kommissie sê in ’n verklaring hulle het die afgelope Sondag die eerste keer van die bedrieër bewus geword.

Die doel van die bedrogspul is oënskynlik geldelike gewin deur die uitkomste van die nasionale en provinsiale verkiesings te probeer manipuleer.

Volgens die kommissie is die inherente beheermaatreëls en voorsorgmaatreëls in die verkiesingsproses egter van so ’n aard dat dit onmoontlik is om die verkiesing op dié manier te manipuleer.

Die kommissie sê hulle veroordeel die nabootsing van die hoofverkiesingsbeampte egter ten sterkste, aangesien dit die potensiaal het om die reputasie van die instelling te beskadig en hulle voorbereidings vir volgende week se verkiesing te ondermyn.

Die bedrieër is volgens die kommissie aktief op WhatsApp deur twee nommers te gebruik. Die eerste is ’n WhatsApp-besigheidsrekening wat die profielbeeld van die hoofverkiesingsbeampte bevat, en die tweede ’n private rekening vir iemand genaamd "Moloi (IEC IT SPECIALIST)" wat beweer dat hy Mamabolo verteenwoordig.

In minstens een voorval het hy of sy met die niksvermoedende provinsiale leier van ’n politieke party gesels en probeer om ’n onwettige optrede met betrekking tot die uitslag van die komende verkiesing te reël.

Die OVK het ’n beroep op politieke kandidate en lede van die publiek gedoen om die kommissie te kontak om enige inligting te verifieer sou hulle gekontak word deur enigiemand wat beweer dat hulle Mamabolo is, en, indien nodig, die saak by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan te meld.

Intussen is al die stembriewe van kiesers wat in die buiteland gestem het, op pad Suid-Afrika toe, waar dit getel sal word.

Die nodige verifikasie en tel van die stembriewe sal plaasvind in die teenwoordigheid van verteenwoordigers van deelnemers en waarnemers.

Die kommissie het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor Suid-Afrikaners wat op 17 tot 19 Mei spesiale stemme in sendings regoor die wêreld vir die verkiesing uitgebring het. Ongeveer 78 000 Suid-Afrikaners in die buiteland kon op dié manier stem.

In sommige gevalle moes buitelandse kiesers gure weer trotseer, vir lang tye in toue wag en aansienlike afstande aflê om te gaan stem.

Die kommissie sê dat spesiale stemming in die buiteland oor die algemeen glad verloop het met geen groot voorvalle nie.

Volgens die kommissie moet enige berigte oor kiesersopkomste van buitelandse kiesers wat gestem het, op hierdie stadium as onbevestig beskou word. Sulke berigte sal bloot spekulatief wees. Die stembriewe mag eers ná die sluiting van stemlokale in die land op 29 Mei getel word. Eers dan mag die kommissie inligting bekend maak oor die opkoms vir die verkiesing.

Met oorsese stemming afgehandel, vestig die OVK sy aandag nou op die voorbereidings vir die spesiale stemming in die land wat twee dae voor verkiesingsdag, op 27 en 28 Mei, sal plaasvind. Daar is 1,7 miljoen goedgekeurde spesiale stemme gereël. 653 000 hiervan is spesiale tuisbesoekstemme, terwyl net meer as een miljoen spesiale stemme by stemlokale uitgebring kan word. Daar is in 22 626 van die totale 23 292 stemlokale aansoek gedoen vir spesiale stemme.

Die OVK het weer beklemtoon dat kiesers nie mag stem by ’n stemlokaal waar hulle nie geregistreer is nie, tensy hulle die kommissie vooraf in kennis gestel het. Die tydperk van vooraf kennisgewing het op Vrydag 17 Mei gesluit. Die aanduiding is dat minstens 387 000 kiesers die kommissie vooraf in kennis gestel het van hul voorneme om by ’n ander geïdentifiseerde stemlokaal te stem.

Kiesers wat volgende week gaan stem, word versoek om hul registrasiebesonderhede na te gaan en die ligging van hul korrekte stemlokale voor verkiesingsdag te bevestig deur die volgende kanale te gebruik:

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top