Begroting: BTW verhoging laat vaar maar sondebelasting styg

  • 0

Vanjaar se begroting wat gister deur die minister van finansies, Enoch Godongwana, ingedien is, weerspieël ’n verslegtende skuldvooruitsig wat aandui dat Suid-Afrika steeds sukkel om openbare skuld onder beheer te kry.

Die nasionale tesourie oorweeg verhoogde lenings om die inkomstegaping te dek ná die verwerping van ’n voorgestelde BTW-verhoging vroeër vanjaar.

Ná hewige teenstand, insluitend van die DA en ander partye, is die voorgestelde BTW-verhoging (aanvanklik na 15,5% en later 16%) laat vaar. Dit laat ’n begrotingsgaping van ongeveer R75 miljard, wat Godongwana met ’n nuwe fiskale raamwerk moes probeer toestop.

Die sogenaamde sondebelasting op drank en sigarette is soos gewoonlik verhoog. Aksynsbelasting op sigarette en alle ander tabakprodukte, insluitend damprookprodukte, sal met 4,75%, of ’n ekstra R1, op die gemiddelde pakkie sigarette verhoog word.

Wyn, spiritualieë en bier sal alles in die volgende boekjaar met 6,75% styg, terwyl die koste van tradisionele Afrika-bier nie sal styg nie.

Die verhogings sal ’n ekstra R1,20 by ’n bottel vonkelwyn voeg, R6 by ’n bottel spiritus en 16 sent by ’n blikkie bier.

Die tesourie se BBP-groeivoorspelling vir 2025 is 1,9%, maar ekonome voorspel ’n laer groei van ongeveer 1,5%, wat verdere druk op inkomste sal plaas.

Die DA het in ’n verklaring gesê hulle verwelkom dit dat meer realistiese ekonomiese groeivoorspellings gebruik is om inkomste in hierdie weergawe van die begroting te modelleer.

Die party se woordvoerder oor finansies, Mark Burke, sê die DA verwelkom die inkomste- en uitgawevoorstelle in Godongwana se begrotingsrede versigtig. “Ons sien dit as ’n pad na ’n nasionale begroting wat ons behoort te kan ondersteun wanneer dit tyd word om te stem.”

Burke sê dit is ’n oorwinning vir alle Suid-Afrikaners dat die beoogde BTW-verhoging nou uiteindelik uit die Minister se inkomstevoorstelle verwyder is ná die DA-hofsaak in hierdie verband.

“Oor die algemeen sien ons hierdie begrotingsrede as ’n keerpunt in die rigting van groei en belegging. Dit stuur weg van ongekontroleerde staatsbesteding wat deur Suid-Afrikaanse belastingbetalers befonds word.”

Infrastruktuur bly die anker van die 2025-begroting, met meer as R1 triljoen wat oor die volgende drie jaar in verskeie projekte belê sal word.

Volgens die tesourie en Godongwana sal die openbare sektor die meeste van die geld bestee, aangesien dit in ekonomiese infrastruktuur belê word.

Die Suid-Afrikaanse rand was Woensdag ten tye van die toespraak (20 Mei) stabiel, maar beleggers was versigtig oor die uitkoms van president Ramaphosa se vergadering met Donald Trump in die VSA. Ramaphosa het die begrotingsrede virtueel uit Washington gevolg voor sy ontmoeting met Trump.

Die EFF sê in hulle reaksie hulle verwerp die verlagings in staatsuitgawes wat met hierdie hersiene begroting gepaard gaan.

Tussen die Maart-weergawe en Woensdag se begroting is meer as R28 miljard uit nierentebesteding gesny, insluitend aansienlike vermindering in onderwys, gesondheid, maatskaplike ontwikkeling en die strafregstelsel waarop die EFF staatgemaak het.

Hierdie besnoeiings is volgens die EFF nie marginaal nie en dit bevestig volgens hulle ’n verswakking van die staat se vermoë om basiese dienste te lewer in ’n tyd waarin werkloosheid, armoede en die ineenstorting van openbare infrastruktuur op hul ergste in die land se demokratiese geskiedenis is.

Die noemenswaardigste en mees welkome aspekte van die begroting is volgens die DA die volgende:

  • Geen verhoging in BTW nie.
  • ’n Belegging van R1 triljoen in infrastruktuur oor die volgende drie jaar.
  • Geen nuwe reddingsboeie vir staatsbeheerde entiteite nie.
  • ’n Hersiening van nasionale besteding, wat alle onproduktiewe en verkwistende besteding van openbare geld moet uitskakel.
  • Beëindiging van laeprioriteitsprojekte en opskorting van regeringsprogramme wat nie vir Suid-Afrikaners werk nie.
  • ’n Volskaalse oudit van spookwerknemers regoor die regering om die dreinering van miljarde rand in bedrieglike salarisbetalings stop te sit.
  • ’n Merkbare vermindering in die byvoegings tot die begrotingsbasislyn wat vroeëre weergawes van die begroting voorgestel het, wat beteken dat R40 miljard bespaar is.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top