Bek-en-klouseer-inenting versnel ná nasionalerampverklaring

  • 0

Die bek-en-klouseer-krisis in Suid-Afrika het ’n nuwe fase betree nadat president Cyril Ramaphosa tydens sy staatsrede op 12 Februarie 2026 die uitbraak tot ’n nasionale ramp verklaar het. Hierdie stap het die regering ekstra magte gegee om vinnig en gesentraliseerd op te tree. ’n Landswye inentingsveldtog is ook onmiddellik versnel om die land se 14 miljoen beeste te beskerm.

In die Wes-Kaap het premier Alan Winde en die provinsie se minister van landbou, Ivan Meyer, die massa-inenting van vrylopende beeste in Fisantekraal, Kaapstad, van stapel gestuur.

Volgens die provinsie se amptelike webwerf het die Wes-Kaap 20 000 entstowwe bekom en nog 200 000 dosisse word binnekort verwag. Volgens Winde is die doel om proaktief te werk: “Ons het een uitbraak in November vinnig ingeperk, maar die jongste gevalle in Mbekweni, die Paarl en Khayelitsha het ons genoop om die rampbestuurspan onmiddellik te mobiliseer.”

Die Wes-Kaap se 21-punt-aksieplan sluit in die ontplooiing van veeartse en gesondheidstegnici, die kwarantyn van kuddes en die opskorting van fisiese veeveilings vir 21 dae. ’n Permitstelsel vir die beweging van diere is ingestel, met padblokkades regoor die provinsie. Die doel is om die veesektor, wat R13,5 miljard werd is, asook die 50 000 werksgeleenthede wat daarvan afhanklik is, te beskerm.

Die nasionale plan mik om teen Desember 2026 minstens 80% van hoërisiko-kuddes in te ent, met 100% dekking in voerkrale en suiwelboerderye. Meer as twee miljoen dosisse is reeds toegedien, en nog miljoene is op pad. Entstowwe word uit Argentinië, Turkye en Botswana ingevoer, terwyl plaaslike produksie by die LNR by Onderstepoort ná 21 jaar hervat is.

Die minister van landbou, John Steenhuisen, het beklemtoon dat KwaZulu-Natal steeds die episentrum van die uitbraak is, met die Vrystaat en Noordwes wat ook swaar getref word. “Ons gaan elke dier in hierdie provinsies inent. Dit is die eerste keer in 30 jaar dat Suid-Afrika ’n proaktiewe strategie volg om die hele nasionale kudde te beskerm,” het hy gesê.

Die uitbraak het reeds groot ekonomiese skade aangerig. Verskeie lande, insluitend Zambië, het invoere van Suid-Afrikaanse vee opgeskort. Boere worstel met kwarantynmaatreëls, die slag van besmette diere en bewegingsbeperkings. Die uitvoerverbod raak veral die rooivleisbedryf, wat reeds toegang tot sekere internasionale markte verloor het.

Plaaslike boere verwelkom die inentingsveldtog, maar Steenhuisen loop vanuit verskeie landboukringe onder ernstige kritiek deur met beskuldigings van te min te laat.

Volgens Solomon Bhandi, staatveearts in die Wes-Kaap, verhoed die entstof nie noodwendig dat diere die virus kry nie, maar dit verminder die erns van kliniese simptome en beperk die tempo van oordrag. Dit maak entstof ’n noodsaaklike instrument om die siekte te beheer en uitbrake te verminder.

Die regering se doelwit is om binne die volgende 12 maande uitbrake met meer as 70% te verminder in hoërisikoprovinsies. Die veldtog word in fases uitgevoer: eers geteikende inentings in hoërisikogebiede, gevolg deur opvolginentings ná drie maande.

Hoewel daar kritiek is dat die sentrale benadering knelpunte skep en dat die monopolie op entstowwe logistieke uitdagings veroorsaak, lyk dit of die veldtog momentum begin kry. Meer as ’n miljoen dosisse word binne die volgende twee weke verwag, en die fokus op voorkoming in betreklik siektevrye provinsies soos die Wes-Kaap toon reeds resultate.

Winde het benadruk dat bek-en-klouseer nie ’n risiko vir mense inhou nie: “Mense kan dit nie uit vleis of melk kry nie. In suiwelboerderye word melk twee maal gepasteuriseer, en streng protokolle word gevolg.”

Die bek-en-klouseer-uitbraak het die kwesbaarheid van die Suid-Afrika se veesektor en voedselsekerheid skerp belig, tog dui die nasionalerampverklaring en die versnelde inentingsveldtog op ’n nuwe vasberadenheid om die siekte hok te slaan. Indien die doelwitte bereik word, kan die ramp die laaste groot bek-en-klouseer-uitbraak in ons land se geskiedenis wees. Dit sal ’n keerpunt vir boere, verbruikers en die ekonomie wees.

Die verklaring van ’n nasionale ramp het die proses ongetwyfeld versnel, maar die werklike toets lê in volgehoue implementering, voldoende entstofvoorrade en samewerking tussen staat en boere.

Intussen is die boodskap van owerhede duidelik: Ent, beperk beweging en werk saam.

Of die ambisie om hierdie een die “laaste groot uitbraak” te maak, bewaarheid sal word, sal die komende maande bepaal.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top